Notas by die bespreking van BUYS

Notas wat deur Marèl de Jager gebruik is by Kleinmond Leeskring se bespreking van BUYS, deur Willem Anker. Net om die boek te lees neem my besonder lank, om my kop en vooroordeel rondom Coenraad de Buys gebuig te kry. Om die voorbereiding vir hierdie bespreking te kon doen, soou my ‘n jaar geneem het.

BUYS ‘n GRENSROMAN – WILLEM ANKER

1. Inleiding

2. Pryse

3. Skrywer

4. Wat maak Buys so ‘n wenner:
Commendatio Hertzogprys

5. Agtergrond:

a. Buiteblad
b. Anker oor Buys: boek en karakter
6. Coenraad de Buys:
a. Histories
b. Anker s’n
7. Onverskrokke eiesoortigheid
8. Kritiese blik op mites van heldhaftige en Godvresende boerepionier in SA
9. Gedeelde geskiedenis van moord, roof en plundering, gedeelde noodlot
10. Karakterisering: Buys as roofdieragtige figuur = unieke kragtoer
11. Alom-buys: relevansie vir hede vernuftig bemiddel
12. Slotgedagtes
1. INLEIDING
Welkom by die gesprek oor ‘n boek wat, soos sy hoofkarakter, robuust, eiesoortig, onverskrokke en hoogs verwikkeld is; wat so groots is, dat dit moeilik in ‘n beperkte tydsgreep bespreek kan word
Van die wat gelees het – kort kommentare Baie van ons lesers het die boek nie goed aanvaar nie: “weird” “kru” “dierlik” “onheilig” “te erg” of: “die man is darem te erg!” was sommige van die kommentare wat gehoor is. Julle sal onthou dat ons vroeg in die jaar moes besin oor ‘n voorstel dat die boek van die lys verwyder word; ‘n voorstel wat gelukkig nie deur die vergadering aanvaar is nie.
En tog word dit bekroon met al die grootste pryse! Wat hèt hierdie boek? Wat maak dit so besonders?
Kom, ek nooi jou; swerf saam deur die wilde ontdekkingsreis wat Buys is
Open met skriflesing: vanuit die Nederlandse Staten Bijbel (1911)`Openbaring :6 verse 7 en 8
Johannes se weergawe van die gesig van die Een wat op die troon sit, met ‘n boek met sewe seëls verseël in Sy regterhand, die Lam wat waardig is om die die seëls oop te maak en 4 dieragtige lewende wesens wat insette lewer:
7. En toen het het vierde zegel geopend had, hoorde ik eene stem van het vierde dier, die zeide:“Kom en zie! 8. En ik zag: en zie: een vaal paard, en die daarop zat, zijn naam was de dood; en de hel volgde hem na. En hun werd macht gegeven om te dooden tot het vierde deel der aarde, met zwaard en met honger; en met den dood, en door den wilde beesten der aarde”
Buys: (p9) eerste woorde: “Kom en zie!” bladsy 12: Kom en zie! Kom kyk hoe die land sy seëls oopbreek vir jou. Hier waar die Melkweg span soos die ruggraat van ‘n halfgevrekte vaal perd, wat duiselend die gewelf oor De Lange Cloof bo hou
Kom en zie! Inderdaad!

2. PRYSE
Gedurende 2015 word Buys die ontvanger van 3 van die grootste literêre pryse:
Die KykNET-Rapportprys vir fiksie (R2oo,ooo)
Die UJ- prys vir skeppende werk
Die W A Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie
In 2016 word die Hertzogprys aan Buys toegeken – die hoogste eer wat ‘n Afrikaanse skrywer kan toekom
Die Hertzogprys:
Dit is ‘n jaarlikse toekenning deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, aan ‘n skrywer vir hoogstaande werk gelewer. Die beoordeling word deur die 7 lede van die letterkunde kommissie gedoen
Die prys is vernoem na Genl J B M Hertzog, wat na sy regsstudies aan die Victoria College in Stellenbosch, in 1892 ‘n doktorsgraad in regte in Amsterdam behaal het. Hertzog was nie net die Prokureur Generaal, sowel as die Direkteur van Onderwys van die Oranjerivier Kolonie, wat in 1907 selfregering verkry het nie, hy was ook een van die grootste kampvegters vir Hollands/Afrikaans en vir die ontwikkeling van Afrikanerkultuur
Hy het hom beywer vir:”een lichaam te bevordering van de Hollandse taal en letteren in Zuid Afrika” en was dus die inisieerder van die Akademie wat in 1909 tot stand gekom het
(Die Burger: 1 ste uitgawe: 26 Julie 1915; 1 ste artikel in Afrikaans: 1916; Bybel in Afrikaans: 1933)
In 1908 het die Vrystaatse parlement ‘n nuwe onderwyswet aangeneem, wat dubbelmedium (Eng en Hol) en hoër besoldiging vir volkome tweetalige onderwysers meegebring het. As gevolg hiervan was Hertzog in 1910 in ‘n lastergeding betrokke. Die Afrikanervolk het mildelik bygedra tot ‘n fonds vir sy gedingkoste; soveel so dat hy in 1914 ‘n skenking van £1,200 aan die Akademieraad gemaak het. Die rente hierop moes aangewend word as Afrikaans Letterkundige prys Dit is gepas na hom vernoem
Sedert 1923 kom alle gepubliseerde Afrikaanse boeke in aanmerking, en sedert 1928 word prosa, drama en poësie afsonderlik en beurtelings bekroon
In 1915 gaan die eerste toekenning aan Totius vir Trekkerswee (Poësie)
In 2015 is Tertius Kapp die ontvanger vir sy dramas “Oorsee” en “Rooiland”. Kapp is Anker se goeie vriend wat meesal die eerste is om sy nuwe geskrifte te lees

3. DIE SKRYWER
Geskiedenis:
Willem Petrus Pienaar Anker is op 3 Februarie 1979 op Citrusdal gebore en is oudste kind en enigste seun van die gesin Op ouderdom 3 verhuis hul na Wellington, waar Willem in 1996 matrikuleer aan die Hugenote Hoërskool
Hy onthou dat hy as kind, een vakansie in sy oupa se huis, ‘n vertaling van ’n Louis L’Amour verhaal prober lees het, wat, weens die swak vertaalwerk, effe onverstaanbaar, maar tog fassinerend was. Behalwe die algemene polisie- en brandweerman, wou hy toe ook cowboy, Indiaan, kroek, ridder, draak, spioen en vegvlieënier word! Was dit dalk vroeë tekens van sy belangstelling in die nomadiese en eiesoortige?
Huppelkind van WO Kuhne was die eerste boek wat hy self deurgelees het en is nog steeds ‘n gunsteling, maar toe hy in matriek Albert Camus , Hermann Hesse en Etienne Leroux ontdek, “was die koeël regdeur die kerk en anderkant uit”
Aan die universiteit van Stellenbosch behaal hy, onder leiding van Marlene van Niekerk, in 2003 ‘n MA-graad in kreatiewe skryfkunde, en in 2007, op ouderdom 28 , die graad D Litt met Prof Louise Viljoen as promoter. Die titel van sy proefskrif: “Die nomadiese self: skisoanalitiese beskouinge oor karaktersubjektiwiteit in die prosawerk van Alexander Strachan en Breyten Breytenbach” In gewone taal: die gebruik van die nomadiese figuur of swerwer in die werk van Strachan en Breytenbach – ‘n intensiewe studie van meer as 600 bladsye!
Na verwerwing van die M-graad, kon hy nie werk kry nie en het hy vir ‘n 3 maande werkvakansie na Edinburgh gegaan waar hy sekuriteitswag moes wees (aaklig!) Hy het ook sy goeie vriend Tertius Kapp by die KKNK gaan help met sy produksie, (hulle het oa grafte grawe!) en het so toevallig toneelskrywer geword
Tans doseer Anker self kreatiewe skryfkunde aan die US. Hy is getroud met Christine Truter en woon op Stellenbosch
Werk:
a. Teater:
Sy werk saam met Kapp by die KKNK lei daartoe dat hy ‘n bekroonde skrywer van ruimtelike teaterstukke word: meeste se titels begin met “S” en meeste word met pryse bekroon Paar voorbeelde:
2004: Skroothonde vir Aardklop –aartvarkprys vir innoverende werk;
2006: Slaghuis – Sanlam prys vir Afr Teater, gepubliseer in 2007;
2009: Skrapnel – verskeie pryse o.a. Aartvarkprys vir grensversverskuiwende werk
2015: Samsamasjien – veskeie pryse o.a. Afrikaans Onbeperkprys en Fleur de Cap teaterprys
Waag ook sy hand aan vertalings en ontvang weer eens verskeie pryse daarvoor bv Sarah Kane se “Crave” wat “Smag” word
b. Prosa:
In 2002 kry sy eerste roman “Siegfried“ sy beslag as deel van sy MA studie in Kreatiewe skryfkunde Onder die titel van “Sirkus” word dit deur verskillende uitgewers afgekeur, omdat dit “tè eksperimenteel” is!
Nadat dit weer òòr gedink en geskryf en geskaaf is, verskyn dit in 2007 as “Siegfried”
In 2008 word die UJ Debuutprys, sowel as die Jan Rabie/Rapportprys vir skeppende werk, daaraan toegeken
In 2012 volg die grote: Die Jan Rabie/Marjorie Wallace Beurs vir skeppende skrywers Die R350,000 stel hom in staat om 2 jaar lank die omvattende navorsing en skryfwerk vir Buys te doen.“Ek kon op my agterstewe sit en skryf en skryf en skryf. Ek kon opspring en ver gaan reis in die spore van die verloopte trekboer om te sien hoe die doringbome en miershope langs die Visrivier anders en dieselfde lyk as die doringbome en miershope in Botswana. Ek kon weer gaan sit op die einste bas en verder skryf. Dit het my baie ryk laat voel”
“Buys” verskyn in 2014 en ontvang daarna die groot literêre pryse soos reeds genoem. Anker word die eerste skrywer wat beide die UJ Debuutprys, as die UJ hoofprys ontvang
Wat Anker sê:
a. Oor prys:
Om vanaand hierdie prys te ontvang vir my tweede roman; nog ‘n boek oor ‘n opgeneukte man wat verdwaal in Suid Afrika, is ‘n enorme eer, verrassing, bevestiging en aanmoediging

b. Oor skryf:
Enige kuns moet eerder die werklilheid versteur as wat dit finale antwoorde prober bied – versteuring dus eerder as bekering; om te ontwrig eerder as te onderrig (NB)

c. Oor geweld:
Geweld is die fondament van die beskawing; dit was nooit anders nie en gaan nooit anders wees nie (ons sou graag wou hê dit moes liefde wees)
Kuns, bv skryf, maak dit moontlik om aspekte van die lewe, soos bv geweld, te verken en in ‘n mate te trotseer of te besweer, sodat mens dit uit jou gestel kan kry

4. WAT MAAK BUYS SO ‘N WENNER: (die mees verdienstelikste vir die prys vir uitnemendheid)
Aangesien die commendatio vir die Hertzogprys eers gelewer word by die prysoorhandiging in Oktober, het die Letterkunde kommissie van die Akademie, na die prysaanwysing, die volgende motivering opgestel:
“Willem Anker se verbeeldingryke historiese roman oor die grootliks onbekende lewe van Coenraad de Buys is ‘n hoogtepunt in die Afrikaanse prosa die afgelope paar jaar

Die roman bied ‘n kritiese blik op standhoudende mites oor die heldhaftige en Godvresende Boerepionier in SA

Dit beklemtoon verder ‘n gedeelde geskiedenis van roof, moordslag en plundering wat sowel swart en wit, as mens en dier deurlopend tot in die hede, in ‘n gesamentlike noodlot verenig

Die relevansie van Buys se geskiedenis vir die hede, word vertelmatig besonder vernuftig bemiddel deur die kommentaar van “Alom Buys” –‘n alter ego van Coenraad de Buys, wat vanuit die hede terugkyk in die verlede

Die karakterisering Van De Buys as roofdieragtige figuur, met ‘n amorele instelling tot die bestaan, is ‘n unieke kragtoer in Afrikaans

In sy onverskrokke eiesoortigheid is Buys ‘n roman wat die Afrikaanse prosa in ‘n nuwe rigting stuur, sonder om af te dwaal van die goedgevestigde tradisie van betrokke literatuur in Afrikaans

5 AGTERGROND
A. Buiteblad:

Titel: “Buys” – historiese karakter /feit gemeng met fiksie
Sub titel: ‘n Grensroman – sub genre, vergelyk: “ My Kubaan” en “Blood Meridian” maar ook roman wat verskillende tipes grense: literêr fisies en simbolies, toets en oorskry en die betreklikheid daarvan ondersoek (tema).
(p59) “niemand stap twee maal deur dieselfde Visrivier nie”
Honde: ‘n iStock afbeelding van 4 hïenas (wolwe in die volksmond) wat dreigend naderstaan Die trop honde wat gaandeweg meer soos wolwe word, verteenwoordig die “dier”element (tema)
Bloedspatsels: ‘n Vae verwagting van ongenadige brutaliteit en geweld (tema) word verwek
Groen agtergrond: natuur
Ingrid Winterbach se (briljante) woorde: ”Briljant verbeel en verbeeld” – ‘n kunswerk is bedink .
“Daar is niks skroomvalligs aan hierdie roman nie” Leser weet: dis hard en reguit soos die land, die geskiedenis, die hoofkarakter.

Agterblad: 3 aanhalings uit die roman:
Die eerste verwys natuurlik na die Franse Revolusie van 1798-1799, met sy slagspreuk.van Vryheid Gelykheid en Broederskap, wat wel ‘n invloed op die boere gehad het
Die tweede: futiele ambisie, futiele stryd (verganklikheidsmotief)
Die derde: Oorkant die grens maw waar wette en reëls nie geld

B. Anker aanhalings oor Buys: roman sowel as karakter
Na sy eerste roman, het hy ‘n idee gehad vir ‘n boek oor ‘n tipe “outlaw” soos bv. Dirk Ligter, maar toe ontmoet hy Coenraad de Buys in Max du Preez se boek: “Oor Krygers, Korrelkoppe en Konkelaars”. Aanvanklike navorsing het bevestig dat dit ‘n baie groot en tydrowende projek sou wees Gelukkig het die beurs dit moontlik gemaak

“Om met ‘n historiese karakter te werk, wat ook kan funksioneer as fiktiewe karakter, was een van die moeilikste fasette van die skryf, want jy is gebind aan sekere feite en ‘n basiese lewensverloop. Soms het jy die feite, maar moet jy die motiverings uitdink”

Hy moes baie goed dink oor wie of wat Coenraad de Buys was: volkslegende, historiese karakter, fiktiewe karakter, of almal. Sy werksreël was om te hou by die feite waar hul te vinde is,” maar soms is die waarheid oor ‘n lewe meer storie as feit! “

Hy was gefassineer deur hierdie eenman-oorlogmasjien wat alle vorme van grense geminag het.
Hy het egter nie van hom gehou vanweë sy rassisme en die laakbare manier waarop hy mense, ook die ná aan hom, behandel het nie. “Ek was aangetrokke tot die onoplosbare teenstrydighede”

Tydens sy navorsing, het hy op Buys se spoor deur die land gereis. Hy het ‘n sterk gevoel van weerloosheid ervaar en dat jy aan jouself oorgelewer is. Buys wou heeltyd wegkom van iets. “As jy so op die vernietigingsbaan bly, is die een ding waarvan jy veral wil wegkom, juis jouself”
6 COENRAAD DE BUYS
A Historiese Buys:
Die raamwerk waarbinne Anker moes werk. Oor die eerste 40 jr is daar geredelik inligting, daarna is dit maar skraps. Buys se seun Michiel, het wel later een en ander vertel

(slegs enkele hooftrekke word genoem – let op al die grense waaroor hy gaan)

1761: 110 jaar na Van Riebeeck se aankoms – distrikte van Wellington, Stellenbosch en Swellendam bestaan Die land is woes en leeg, behalwe natuurlik vir die inheemse volke wat dit bewoon en besit
Coenraad de Buys gebore op plaas in Montagu dist. Agterkleinseun vam Hugenoot Jean du Buis van Calais; kleinseun van ryk Bolandse boer; seun van verarmde Jan
1769 (8jr) Jan sterf. Buys steek eerste grens oor: hy gaan woon by sy halfsuster Geertruy, getroud met David Senekal, van Swellendam Hy help botter maak vir ‘n deel van die wins. Wanneer hy seker is dat David hom verkul, vat hy hom hof toe en wen
1782 (21 jr) Buys huur plaas naby Boesmansrivier in die Zuurveld (huidige Willowmore dist.)
1786: Die Visrivier is die amptelike grens van die kolonie en die Graaff Reinet dist word geproklameer. Buys trek na plaas Brandwacht in die gebied en huur 1789 nog twee plase by. Hy woon saam met Khoi Khoi-vrou, Maria van der Horst, by wie hy 7 kinders het
1792: Dis amptelik aangeteken dat hy geen huur op enige plaas betaal nie. Hy oortuig die owerhede om die huur af te skryf as vergoeding vir baie beeste deur Xhosas van hom gesteel, terwyl dit inderwaarheid hy is wat van die Xhosas steel!
1789 – 1795: Langa val Zuurveld binne; Buys word beskuldig dat hy die hoofmanne se beeste en vroue gesteel het en word dus deur beide trekboere as Xhosas vir “oorlog” blameer. Die Zuurveld word as geskroeide aarde gelaat en Buys verloor al sy eiendom
1797: Buys word voëlvry verklaar en kry 2 maande om Kolonie te verlaat. Hy word genooi om In die kraal van die jong Xhosa hoofman Ngqika/Gaika te bly en sy raadgewer te wees.
Buys belowe sy dogter as vrou aan Gaika en trou met Gaika se ma,Yese; erg korpulent en voorste reënmaker (baie invloed) In die tyd ontwikkel hy ‘n besonderse vriendskap met dr Van der Kemp, Londense sendeling, waarskynlik omdat beide buitestaanders, intelligent en eksentriek was.
Hy neem ook ‘n Temboe-vrou

1801 Oujaarsdag: Na versuring van verhoudinge, verlaat Buys, Van der Kemp, ‘n paar burgers en Engelse drosters, asook al Buys se vroue, houvroue en kinders Gaika se “Groot Plek”
1802 Mei: Na baie wedervaringe is hul terug in Graaff Reinet, maar in tweede helfte van jaar swerf Buys weer tot anderkant Xhosas (Natal?).
Sy vierde vrou, Elizabeth, kom by (moontlik ‘n suster van Mzilikaza van die Matebele)

1803: Die Nederlanders is in beheer in die Kaap met die Oosgrens as prioriteit en hulle reël ‘n ontmoeting met Buys en Gaika Hul bestempel Buys as “mees gevaarlike man in Kolonie” maar ook as treffend en intelligent. Vgl ook Lichtenstein se verrassende beskrywing( p430).
Hierdie is ‘n keerpunt vir Buys: op ouderdom 42 gaan woon hy op plaas d’Opkomst, Dist Swellendam. Hy versoek om as wettige burger herstel te word en doop selfs 3 van sy kinders!
Die poging om rustig en binne die reg te lewe, duur ‘n dekade

1814 (52 jr): Buys kom weer in opstand en nou met oorgawe! Hy trek finaal uit die Kolonie (redes onbekend – moontlik veranderde jagwette, sy vroue wat aanstoot gee, en/of sy getuienis teen Kwaade Martha) Gaan na Bastaards (Griekwas) noord van Gariep/Oranje.
Buys is eerste wit pionier in die gebied waar geen wette of reëls bestaan en waar private leërs heers. Buys koöpteer Danster en sy gewapende Xhosas by sy eie milisie wat uit verskeie stamme bestaan.

1818 (57 jr) Die Trans-Orangia word te gevaarlik en Buys trek noord na huidige Limpopo : die eerste wit Transvaler

1818 – 1824 Daar bestaan verskeie gerugte oor waar Buys hom bevind en hoe sleg dit hom gaan Hy dra waarskynlik klere van vel en jag met pyl en boog. Hy trek deur die huidige Vrystaat, Noordwes, Mpumalanga en Limpopo en waarskynlik ook Mosambiek

1821: Geen verdere inligting oor Buys

Sy lewe eindig gepas as raaisel alleen in wilde Afrika

1880: Pres Paul Kruger skenk ‘n stuk grond tussen die huidige Vivo en Makado aan die Buys nakomelinge, wat feitlik elke genetiese bloedlyn van die destydse SA bevat. Dit staan bekend as Buysdorp en die Buysvolk bly steeds daar as een groot gelukkige familie! (Vergelyk p390 i.v.m. Buyskop)
B Anker se vlees en bloed Buys met die onoplosbare teenstrydighede:

Coenraad lyk na sy moeder, die aantreklike, formidabele Christina Sy is 8 jaar ouer as Jan en het reeds 2 mans en 5 kinders agter die blad wanneer hulle trou Saam het hulle nog 5 wat oorleef Jan se dood, soos sy lewe, word beskryf as “klein en gedwee”
Christina trou ‘n paar maande later met ‘n man 20 jaar jonger Sy het min tyd vir Coenraad – op 14 sien hy haar die laaste keer
G’n wonder, dus, dat hy vroeg al volwasse en selfstandig optree nie; of dat hy aanklank vind by die leefwyse van die trop honde nie – sy instaan-familie; of sy latere disposisie teenoor vroue?

Dinsdae leer Geertruy hom lees want “woorde kan hard werk as jy hul reg inspan soos flukse osse” Hulle leer van hebben en zijn: “Onthou Coen: Wat jy is, moet meer wees as wat jy het” Hy maak aspris foute sodat die les langer kan duur Sy gee hom ook ‘n drukkie. Sy insiggewende opsomming: “Wij hebben elkaar, wij zijn van elkaar”
Sy leer hom ook Openbaring opsê

Van Hugenoot tot koning van die basters, ontwikkel Buys ‘n veelheid van karakters – oneindig kompleks en onvaspenbaar; groter as groot! Op verskeie plekke in die roman lys hy self sy verskillende name en gestaltes, (beginnende p 9) en beskryf hy homself: “Die burgers verkyk hul aan my. Ek voel groter as my sewe voet, ek verlustig my aan my eie stem”(p85)
Aan die een kant is hy buitestaander,sinikus, rebel, anargis, onapologetiese dwarstrekker, amorele, onverskrokke grens-uitdager van elke denkbare grens: lands-grense en –wette; tussen wit en swart; man en vrou; mens en dier; gevangenisskap en vryheid; selfs lewe en dood
Een voorbeeld: Tydens ‘n herhaling van hul kinderspeletjie, skiet hy sy jeugvriend koelbloedig dood, omdat hy tydens Buys se afwesigheid, Nombini by hom laat intrek het.(p134) Maar self het Buys geen vrae oor enige vrou of verbintenisse nie.
Aan die ander kant: denker; filosoof; skrywer; humoris; leier en selfs depressie-lyer. Ook minnaar, vader; vriend; natuurliefhebber
Hy sien om na, en tree teer op teenoor sy vroue en kinders; leer sy kinders speel, plant en jag
Hy skryf ‘n kosbare brief aan sy vroue (p 118) Hy huil oor sy gesin, en oor sy perd (goeie een) Probeer soms huisgodsdiens hou
Hy neem mooi afskeid van sy vriende: Gaika (p261) en Van der Kemp, hoewel hy lg se kosbare sakkie loodletters gaps om later koeëls van te maak
Swaer David, van wie hy niks hou, het ‘n indrukwekkende lys benamings: Droeskop of Doodskist David; ook Slangentyfus Senekal
Hy preek einste Openbaring 6 met ‘n bulderende stem vir die sendeling wat kom hulp vra, sodat diê liewer die hasepad kies (p47)
Sy onderhoud met Van der Mist, (p266 – 269) is ‘n juweel

Maar, by latere nabetragting (p369) erken hy dat hy duur moes betaal vir sy vroue en dat hy nooit regtig ‘n vader was nie

Beide die afgeskeepte kind –Buys, as die verrinneweerde, verswakte senior-Buys, word met groot deernis beskryf – ‘n aangrypende uitbeelding van die vergangklikheidsmotief

(Die verskillende aspekte in die commendatio genoem:)
7 ONVERSKROKKE EIESOORTIGHEID
Die roman toon verskeie unieke eienskappe wat die grense van “historiese roman” verskuif en Afrikaanse prosa in ‘n nuwe rigting stuur
1. Die indeling in tydvakke: 1761 -1798, 1799 – 1801, 7-8 Nov 1814 en 1814 – ipv hoofstukke. Lewens- en geskiedenis-fases word sodoende gedefinieer
2. Die skryf van die roman in die eerste persoon en die “ek-vertelling” wat soms as ‘n bewus- synstroomvertelling aangebied word: bv met Elizabeth se afsterwe (p412)
3. Die gebruik van ‘n alwetende ek-verteller, nl Alom-Buys, om die begrensinge van tyd en plek te oorskry en die leser direk aan te spreek
4. Die onverskrokke hoofkarakter wat ekstreem ingekleur word – Anker waag selfs om ‘n homo-erotiese element in te skryf. ‘n Unieke, onvergeetbare karakter word in die Afrikaanse letterkunde geskep
5. Die feit dat Anker, in teenstelling met ander skrywers in die genre, nie poog om die historiese figuur te verklaar nie, ten spyte daarvan dat daar in hom onoplosbare paradokse saambestaan wat end-uit om oorheersing veg
6. Die gepaste toepassing van teorieë van filosowe soos die Duitser Nietzche met sy spesifieke moraliteits filosofie en die Franse span van Deleuze en Guattari – mens as wordende dier
7. Die gebruik van lyste om die verbeelde lewensverhaal te historiseer en verpersoonlik. Met Buys wat weier om vasgepen en begrens te word, is die opstel van lyste ‘n manier om dinge te sorteer en begrip daaroor te kry (p 109, 202, 216, ens)
8. Die liriese en poëtiese taalgebruik – daar is verskeie grepe wat die leser oor en oor wil lees slegs vir die skoonheid daarvan.
‘n Grootse roman word gekenmerk deur die totstandkoming van ‘n eie taal, wat by uitstek die geval is in Buys. Met die oordeelkundigste woordkeuses, en sonder om verlei te word deur oordaad of vertoon, slaag Anker telkens daarin om:
i. ‘n subtiele verskuiwing in verteltoon, van die skokkende tot die hartwringende, te bewerkstellig;
ii. ‘n verbygegane wêreld glashelder voor die oog te roep.
iii. dit alles in volgehoue “Kaaps-Hollands” te doen (gekreoliseerde, vereenvoudigde Hollands wat later Afrikaans sou word)

8 KRITIESE BLIK OP HELDHAFTIGE EN GODVRESENDE BOEREPIONIER
Die roman ondermyn gevestigde aannames oor die Afrikaanse geskiedenis aan die hand van oorvertellinge wat rondom Buys tot stand gekom het.’n Voorbeeld hiervan is die verhoor van Kwaade Martha Ferreira (p301 – 308) wat op 11 klagtes rakende haar werksmense verskyn – “7 dood aan haar hand en 4 vermink” Uiteindelik is sy slegs skuldig bevind aan ‘n hou teen Hendrik se kop, slegs ‘n boete te betaal
Buys (p219)” Hier vreet ons mekaar. Kristene Hollanders, Duitsers, Franse, Kaffers, Bengalese, Hottentotte, Bossiemans en weet ek veel. Dit is een groot jagveld”
Dit word bevestig dat die Bastaards (Griekwas), en nie die Voortrekkers nie, die ware pioniers van die Gariepriviervallei en Trans-Orangia was. Hulle was ‘n gemengde groep uit Khoi-khoi, slawe en boere afkomstig en het “Afrikaans” gepraat, westerse klere gedra en perde en gewere gebruik
So ook was Buys en sy nageslag die ware Afrikaner pioniers van die ou Transvaal wat later die bastion van die ras-eksklusiewe Afrikaner Nasionaliste geword het. Hulle het jare lank tussen die Venda gewoon, as gidse vir reisigers, jagters en avonturiers opgetree en hulself as Afrikaners gesien. Buys se seuns het selfs saam met Hendrik Potgieter teen swart hoofmanne geveg
Ten spyte van Buys se wydlopende rol, het hy geen plek in die galery van Afrikaner helde nie. Ons leer nooit in die geskiedenis van hom nie – hy is slegs ‘n voetnota in Geskiedenisboeke; doelbewus uitgeskryf; ‘n verleentheid vir Afrikaner nasionaliste. Tog bly sy invloed onmoontlik om te ignoreer

9 ‘n GEDEELDE GESKIEDENIS VAN ROOF, MOORDSLAG EN PLUNDERING WAT ALMAL IN ‘n GESAMENTLIKE NOODLOT VERENIG
Die roman open met die pragtige beskrywing van die koggelmander op die rots met die rysmier in die bek (p9) Dit illustreer die basiese natuurwette vir oorlewing nl: voeding, beskerming en voortplanting, asook voortdurende vernuwing en die oorlewing van die sterkste/fiksste
Dit geld vir beide dier as mens, afsonderlik en gesamentlik, en beklemtoon die interafhanklikheid, asook die gesamentlike noodlot: Voor sononder het die valk die koggelman gevang (p12)
Hierin speel die honde ‘n belangrike rol: hulle gaan waar hul wil, doen wat hul wil en is geweten- loos, maar is terselfdertyd waaksaam en aan die natuurwette gehoorsaam Hul beweeg in ‘n trop wat voortdurend vernuwe. Dit maak hulle sterker: ter wille van mag en uiteindelik, ter wille van oorlewing
Vir die mens is hulle metgeselle en inspirasie en toon wedersydse begrip: (p250)” hulle hou ver van die beskawing, asof hul bang is om aan te steek” Maar moenie te na aan hul waag nie – hulle bly altyd gevaarlik Dalk stel hul ook die dood voor wat heeltyd op Buys en andere se hiele lê
In dieselfde konsep is daar ook melding van o.a. swawels, sprinkane en skulpe (p 101 lees, 236)
Verskillende mense nader Buys om hulp, terwyl hulle hom ander tye verraai. Tydens grensoorloë en roofekspedisies span manne en stamme saam, net om op ‘n ander tyd weer teen mekaar te staan Buys: (p343) “O kyk net die geweld op die skietgeweergrens: Almal welkom, restante van verbryselde groepe kraam nuwe bendes, smelt weg in ander troppe Hier is twee rasse, boere en buiters en hulle vermeng als de bliksem Oorkant die grens is ons almal Bastaards, almal drosterhonde”
By sy onderhoud met “die misgebore filantroop” De Mist, (p268) antwoord Buys die onvanpaste vrae en hou hom “beskeie en vriendelik” Maar al wat hy eintlik wil sê is:
“Hier is nie vrede te maak nie, hier is niks te verstaan nie.
Die enigste revolusie hier: tussen stof en vuur,
die enigste gelykheid: die plat grond,
die enigste broederskap: op voorwaarde van gedeelde vyand of skande,
die enigste vryheid: die oorgawe aan jou lot”
10 DIE KARAKTISERING VAN BUYS AS ROOFDIERAGTIGE FIGUUR MET ‘N AMORELE INSTELLING TOT DIE BESTAAN

In sy doktorale proefskrif oor die nomadiese figuur, het die besinnings van die Franse denkers Deleuze (filosoof) en Guattari (psigiater en politieke aktivis) oor die mens as wordende dier, ‘n belangrike rol gespeel Dit vind hier neerslag in die komposisie wat tussen Buys en die honde ontstaan.
Op 12-jarige ouderdom agtervolg Buys ‘n trop honde wat hul skape virreneweer (p23-25) Die trop omsingel hom en’n bloedige geveg volg Op die end byt hy die rooi hond se oor af Hy spring hondsdolheid vry, maar hy ”steek iets aan”, vlg Geertruy Hy beweeg anders, ligter “Sien jy hoe ek die oggendlug ruik, my neus omhoog soos’n snoet?”
Sedertdien is die trop voortdurend in die omte; hou die rooi hond oor hom wag

Die kenmerke van die wordende dier in die hoofkarakter en in die roman:
a. Drostery: deurdat Buys doelbewus orde, geborgenheid en ingesetenheid agterlaat, word hy as’t ware self drosterhond Net so word die groep verlooptes en uitvaagsels wat tydens Buys se omswerwinge by hom aansluit, in eie reg trop, gelei deur iemand wat soos ‘n wilde hond, gewetenloos handel
b. Brutaliteit en geweld: Buys verset hom teen alle vorms van mag en onderdrukking, maar maak hom terselfdertyd skuldig aan buitensporige geweld, misbruik van mag en die mishandeling en onderdrukking van andere
c. Verraad: figureer in Buys in sy verset en opstand teen alle grense en gesagsfigure. Self beweeg hy egter soomloos oor rasse-, taal-, morele en fisiese grense
d. Besmetting: i. deur woorde en gedagtes Alom-Buys nooi aan die begin: “Kom, laat ek jou besmet , my erflik belaste leser” Buys sê: (p85) My woorde loop soos boomgom oor hulle en maak die wêreld dik en glasig, tot hul oortuig is.”
ii. deur seksualiteit: Reunhonde merk die gebiede waar hul beweeg. Buys se seksuele begeertes en enorme viriliteit word een van die belangrikste rigtinggewers van sy identiteit. In sy omswerwinge verwek hy vermoedelik meer as 300 kinders by ‘n verskeidenheid vroue!
Die dierlike element is van die aanvang deurlopend tot by die einde teenwoordig Dit omsluit die boek

11 ALOM –BUYS EN DIE RELEVANSIE VAN BUYS SE GESKIEDENIS VIR DIE HEDE
Die skepping van hierdie karakter, is ‘n vernuftige en grensverskuiwende taktiek van Anker:
i. Die naam: Alom: hy is oral, sien alles, weet alles – selfs tot in die toekoms
ii. Hy verskyn en verdwyn
iii. Hy is van alle dae; onsterflik
iv. Hy praat woorde uit die Bybel, spesifiek Openbaring
v. Spreek die leser direk aan; betrek hom as medepligtige
Die roman begin met Alom-Buys, met sy woorde: “Kom en zie” (p9)– die uitnodiging om te aanskou hoe die land sy seëls vir jou oopbreek (p12) Sy laaste verskyning is die slotparagraaf: “Kyk daar verdwyn hy….., maar om dood te wees is nie genoeg nie. Soos ‘n trop honde vervang ek myself voortdurend. Julle raak my nooit kwyt nie” (p428) (vervanging en herlewing motief)
Deurdat Alom-Buys verhewe en onvaspenbaar is, oorskry en oorskou hy historiese periodes.
Bv. Die betekenisvolle verwysing na die Uniegebou, wat eers in 1913 ingewy is. Die ontwerp van Sir Herbert Baker, met die twee vleuels wat sentraal bymekaar kom, simboliseer die vereniging van die twee “rasse” soos destyds genoem –die Engelse en die Afrikaners; let wel: niè die inheemse volke met die Europeërs nie (260 jr na inkom van Europeërs tel inheemses steeds nie). Die gebou is opgerig met Vrystaatse sandsteen, wat gekenmerk word deur die vlekke daarin Lg word toegeskryf aan eeue se dassie-uriene, maar Buys meen sy eie bydrae is waarneembaar!
Alom-Buys integreer soomloos die destydse gebeure met eietydse nuuswaardighede, wat aan die inhoud universele trefkrag gee:
Wat sien die leser deur Alom-buys se oë in ons land in 2016: roof, korrupsie, opstande/ stakings, olifant- en renoster stropery, rasse diskriminasie, brutale geweld en verkragting, stemkopery, tenderpreneurs, kaderbevoorregting, politieke koalisies (bendes), magshonger leiers wat net in eie belang optree, selfs politieke teregstellings
Die soeke na mag , bly dieselfde!

12 ENKELE SLOTGEDAGTES

Buys is ‘n grensroman wat die hele idee van grense uitdaag Gewortel in ons historiese, klipperige grond, groei dit tot ‘n magistrale eietydse besinning oor identiteit, spesifiek Afrikaner identiteit, verset, korrupsie, geweld, magsmisbruik en moraliteit, of dan eerder – en dit is selfs meer ontstellend – die gebrek daaraan
Die roman verken die soeke na die self in ‘n wêreld oorheers deur magsug en korrupsie, met geweld as die vernaamste uiting van selfgelding
Terselfdertyd is daar die beroep wat Nietzsche op buitengewone mense, soos Buys, doen, om hul nie te skaam oor hul uniekheid in die lig van populêre moraliteit nie. Moraliteit per se is goed vir die ordinêre massas, maar buitengewone mense moet hul eie innerlike kompas volg: “become what you are”
Die aard van hierdie roman is om cliché’s af te breek: die taal word nêrens begrens deur ordentlikheid of woordkeuse nie; daar is geen plek vir eufemismes, geen buiging voor konvensies nie. Buys en die roman draai geen doekies om die klug van menslike beskawing nie – ook dit is ‘n cliché (NB)
In navolging van Buys, wat met sy “welluidende stortvloed dinge bymekaarbring wat hulle nog nie voorheen saam gedink het nie” (sien sy toespraak p84) vra die roman die leser om groot en kreatief en integrerend te probeer dink.
Anker skryf die boek in die eerste persoon – Anker wòrd Buys Dis dalk juis omdat dit so meesterlik gedoen word, dat ons, wetsgehoorsame, ”beskaafde” mense, die boek as vreemd ervaar.
As die leser die roman afskiet agv ‘n klein aspek wat pla of ontstel, sonder dat hy dit in perspektief tot die groot geheel plaas, mis hy uit op iets groots
In die woorde van Phil van Schalkwyk: Min wat mens oor hierdie roman mag bedink, kan tè hooggegrepe wees!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s