Aanhou beweeg en geraas maak

“Aanhou beweeg en geraas maak”: Grepe uit die loopbaan van Breyten Breytenbach, skrywer en openbare figuur.

Francis Galloway©

Kleinmond Leeskring, 23 Februarie 2015

Inleidend

Jan Rabie se definisie van die liefde was “aanhou beweeg en geraas maak”. Breyten gebruik die uitdrukking gereeld, soos in die gedig “Skimme van die liefde, Jan (vir Jan Biltong), die eerste keer gepubliseer in die bundel Oorblyfsels. Uit die pelgrim se verse na ’n tydelike (Buren, 1970) en in sy eerste openbare toespraak in die land, in 1973. Dit word ’n leitmotiv vir sy werk, sy kunsopvatting en sy openbare beeld.

Beweging staan sentraal in sy oeuvre, want dit is tekste van veranderende toestande, van reis (geografiese reise, kopreise, inreis in die streke van die “ek”, ontbinding en groei as reis, dig-reis, taal-reis) en sy woordlandskappe word bevolk deur allerlei gevleueldes. Beweging is ook die kenmerk van die skrywerkunstenaar se persoonlike nomadiese bestaan – Bonnievale /Wellington, Parys, Pretoria Sentraal / Pollsmoor, Katalonië, New York en ander groot wêreldstede, Goreé in Senegal, die “middelwêreld”.

Die geraas maak word gekoppel aan Breyten se kreatiewe taalspel én aan sy openbare uitsprake wat hom gereeld die gramskap van die literêre establishment, die media en die “volk” op die hals haal.

Ek wil vandag probeer om aan die hand van enkele grepe uit Breyten se loopbaan aan te dui hoe hy sedert die 1960’s heersende ideologiese en literatuurverwante opvattings uitgedaag het en hoe hy daardeur ʼn taalgemeenskap (spesifiek wit Afrikaanse lesers) se politieke en literêre verwagtingshorison verskuif het (al dan nie). Hoe dit jou persoonlike verwagtingshorison (dit wat jy beskou as die aanvaarde manier om dinge te doen) verskuif het (of nie) moet jy self besluit.

DIE 1960’s

Resepsie van Die ysterkoei moet sweet en Katastrofes (1964)

Breyten se dubbele debuut gooi in 1964 ’n knuppel in die destyds verkrampte volks- en literêre hok. Daar is voorspel dat lesers óf gaan lag oor die digbundel met sy “afsigtelike” stofomslagtekening en eksentrieke tipografie óf hulle gaan vererg oor die ekshibisionisme, die afbreek van tematiese hiërargieë en die skokeffek van die tekste.

Briefskrywers aan koerante beskou die tekste inderdaad as raaisels vir snobs, louter snert en walglike gemors, probeersels wat nie opbouend en verheffend is nie en ook nie letterkundig skoon en groot nie. Hierdie ongeduld met Breyten se werkwyse spruit uit die opvatting dat kuns gerig behoort te wees op die skoonheid en die orde, dat dit ’n getroue afbeelding van ’n vertroude werklikheid moet wees en norme moet bevestig wat deur ander werke en die maatskappy daargestel is.

Die literêre establishment (akademici, kritici, professionele lesers) is in twee kampe verdeel oor die nuwe stem in die literêre veld. Daar is diegene wie se literatuuropvatting ooreenkomste toon met dié van die publiek en wat gevolglik nie beïndruk is deur die digter se tematiek en werkswyse nie. Ander se aanvanklike lesersweerstand word egter oorbrug en die skaal hel meestal oor na aanprysing van die radikale vernuwing wat die digbundel bring. Daar was dus ook dié lesers wat hulle oopstel vir die verskuiwing van hul verwagtingshorison en wat verruk is deur die verfrissende nuutheid, die speelse en fantasie van hierdie woordkuns. Ek was een van hierdie verrukte lesers.

Uit: “Die boek wat my lewe verander het” (De Kat, Sept./Okt. 2009:31–2)

[…]

Die boek met sy pampoengeel stofomslag maak ’n totale aanslag op my gemoedelike lokale bestaan. Dit dop my bekende en veilige wêreld om en lê ’n ander polsende werklikheid daaragter bloot. Dit ruk die mat van matriek-idees oor wat die poësie is onder my uit. […]

Die oneerbiedige, sluwe en bitter eende; die blomme met are soos voos rubberpype; die strotbytende en knabbelende karkasse wat hierdie rymlose verse sonder hoofletters en leestekens bevolk, sak snags in volkleurdrome op my toe en skiet my gode en sekerhede in die buik en boud. Terselfdertyd is ek verruk deur die ronde visse met rooi truie; die fontein van sêmaarso; die kopreis van vrees tot saad; die patatranke met die séér ore langs die spoorlyn; die klouter met lanterns soos draakoë op getande dakke om na die grommende maan te kyk. Dit was daar in oorvloed, boordensvol: die fantastiese, die sintuiglike, die sap van die lyf, die sáámbestaan van verskriklik en verruklik, dood en lewe, ontbinding en buitelende groei.

Sedertdien loop ek soos ’n hans Grietjie op die spoor van die woordklippies wat hierdie digter-denker strooi. […]

Die APB-prys en die visumweiering (1965)

’n Jaar ná sy debuut kom Breyten weer in die nuus toe dit bekend raak dat hy die prys van die Afrikaanse Pers-Boekhandel (APB) gewen het. Die destydse Dagbreek en Sondagnuus skilder ’n romantiese prentjie van die swerwersbestaan van die seun van Bonnievale wat sy ouers en vaderland vyf jaar laas gesien het en sy prysgeld wil aanwend om sy geboorteland aan sy koninklike lotus, sy vrou van Oosterse afkoms, te kom wys. Kort daarna raak dit bekend dat ’n visumaansoek vir Yolande Breytenbach afgekeur is. Die media-aankondigings hieroor gee aanleiding tot hewige openbare reaksie.

Berigte oor die bekroning van sy werk en oor sy persoonlike lewe stel die digter as mens bekend aan ’n publiek vir wie hy andersins net ’n skrywer sou bly. Met die uitsondering van enkele briewe is die briefskrywers in koerante (veral in Die Burger) teen sy huwelik en skryfwerk gekant. Die anti-Breytenbach-reaksie kan in twee groepe verdeel word. Aan die een kant is daar die reaksie op sy oortreding van ’n landswet deur sy huwelik met ’n “nie-blanke” vrou (hy behoort in die buitenste duisternis gewerp te word) en aan die ander kant is daar reaksie op hom as kunstenaar, sy liberaalheid en sy verbintenis met die Sestigers wat beskryf word as ʼn klompie “windbroekprotesteerders”.

Enkelinge spreek hulle kommer uit dat die nuwe skrywer verlore mag gaan vir die Afrikaanse letterkunde. Hierop reageer die meerderheid smalend – laat ons maar liewer in onkunde en geestelike onbeskaafdheid verkeer eerder as om ons trots en beginsels prys te gee ter wille van liberalisme. Pleidooie gaan op vir ’n egte volksdigter wat deur skade en skande by sy volk staan. Hierdie literatuuropvatting (dat skrywers boeke moet skryf wat die “volksaak” dien) word in die 1970’s verder uitgebou in ’n anonieme dokument van die Afrikaner Broederbond waarin gewaarsku word oor die gevaar wat versetliteratuur en afwykende skrywers vir die volksaak inhou.

Breyten reageer in ’n brief aan Die Burger op die visumweiering aan sy vrou en by verstek op die volkstem wat teen hom uitgebring is. Hy stel dit onomwonde dat hy apartheid met al sy implikasies haat. As apartheid verteenwoordigend is van die Afrikanerdom, sien hy geen toekoms vir die Afrikaner in Suid-Afrika nie. Sy teleurstelling en woede kry uitdrukking in die stelling: “As ek my Afrikanerskap sou kon opsê, sou ek dit doen. Ek skaam my vir my mense”.

Die telling was gedoen, die teerling gewerp: die segsmanne van die volk het Breyten gebrandmerk as buitestaander wat nie konformeer aan die groepsnorme nie. Van nou af sou die kwessie van identiteit (en ’n herdefiniëring van Afrikanerskap en Afrikaanstaligheid) die hoofbron van Breyten se sosiale kritiek wees en sy uitsprake oor (Suid-)Afrikanerskap hoekstene in ’n uitkringende debat oor lojale verset teenoor Afrikanerverraad.

DIE 1970’s

Die “Blik van buite”-toespraak (1973)

Breyten bring in 1973 vir die eerste keer in lewende lywe sy sienings oor Afrikaans en Afrikanerskap na die volk. In hierdie vroeë fase van verligte Afrikanerpolitiek word ’n visum aan sy vrou toegestaan en kom hulle vir 90 dae na die land. Dit is die verligte nuwe Sondagkoerant, Rapport, wat die nuus van die Breytenbachs se aankoms in ’n eksklusiewe voorbladberig aankondig. Die pers verwelkom aanvanklik die “begaafde ballingdigter”, want nou het hy huis toe gekom om die plek waar sy hart is aan sy “mooi, verfynde, opgevoede vrou uit die Viëtnamese adelstand” te wys. ’n Groot deel van die pers sing egter ’n ander deuntjie na sy “Blik van buite”-toespraak tydens die UK se Sestiger-Somerskool.

Uit: ’n Seisoen in die paradys (Perskor, 1976: 119–28)

Ek is partydig. Ek kies kant. Omdat dit vir my gaan om die totstandkoming van leefbare omstandighede in ons gemeenskap. Omdat dit vir my gaan om ’n soeke na, ’n óópmaak na ’n samelewing waarin elkeen van ons en almal van ons sy regmatige aandeel kan hê, waarbinne ons op gelyke voet verantwoordelikheid vir mekaar kan aanvaar. Omdat dit vir my gaan om die bevegting van daardie instansies en strukture en mites […] wat so ’n samelewing onmoontlik maak. Dis my lojaliteit. Dit is die inhoud van my Suid-Afrikanerskap.

[…]

Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. […] In daardie gedeelte van ons bloed wat van Europa kom, was die vloek van meerderwaardigheid. Ons wou ons mag regverdig. En om dit te kon doen, moes ons ons gewaande stamidentiteit stol. […] Ons het van ons andersheid die norm, die standaard gemaak […]. Ons het mure gebou […] en die begrip van suiwerheid begin aanhang. […] En hierdie mure, die Apartheid, […] is die bestek van ons selfmoord, ons selfvernietiging, ons dood. […]. En daar kom vrees op, en wanhoop, afstomping, […] onverdraagsaamheid. En bloed.

[…]

Is ons as skrywers dan net hierdie wit establishment se skokbrekers, sy waghonde? […] Om te skryf is om te kommunikeer […] Ons is mense, ons skryf vir mense óór mense, en daarom oor verhoudings tussen mense. Ons eerste dimensie is die mens – in sy eendersheid en in sy andersheid, in sy mensheid […]. Ek dink dat ons deur kennis te neem van die natuur van die stryd waarby ons betrek word en waarin ons ’n aandeel het, deur daardie stryd duideliker te maak – en meer nog: deur stelling te neem gebaseer op hierdie kennis, verruim ons ons menslikheid en ons taal. Dan sal ons nie meer gevang sit in die strikke van Apartaans nie, maar Afrikaans kan praat: een van die baie tale van Afrika!

Die algemene gevoel onder die briefskrywende publiek (wat meestal nie self teenwoordig was nie) is dat sy uitlatings sieklik en walglik is; hulle is vol wrewel en ergernis oor die snert wat hy kwytraak; hulle voel beswaard oor die skrywer wat hom met die politiek bemoei en profeet probeer speel. Die briefskrywers is opgeruk oor Breyten se siening van die Afrikaner, want die Afrikanervolk is dié volk wat die land staande hou omdat sy kultuur nie toegee aan die permissiewe tydgees nie en wat in sy volkskarakter Christelik is. Breyten is die “kultureel verbasterde”.

Dit is egter ook so dat Breyten tydens sy toespraak ’n hartlike ontvangs vanuit die gehoor geniet het. Toonaangewende joernaliste van die tyd skryf dit toe aan ’n ontplooiende verset onder verligte Afrikaners teen kleurpolitiek. Enkele lesersbriewe deur persone wat self in die gehoor was, bevestig hierdie waarneming en voer aan dat hy uitdrukking gee aan “ons” nuwe vermoë om dinge onbevrees en duidelik uit te sê. ’n Rubriekskrywer stel hierdie nuwe vermoë in die destydse politieke konteks: die Afrikaners glo in die algemeen dat die ou Engelse liberale bedreiging nie meer tel nie en daarom kan die andersdenkendes soos die Sestigers maar na hartelus praat sonder dat die hoofstroom van die volk hulle erg kwalik neem. Hulle word aanvaar as deel van die intellektuele gisting wat ʼn onvermydelike aspek van die logiese “ontplooiing van aparte ontwikkeling” is en hulle bly lede van die volk. Die grense van die volkslaer is dus verskuif.

Die eerste verhoor en die Rapport-volkstemming (1975)

Op 19 Augustus 1975 word Breyten op die Jan Smuts-lughawe in hegtenis geneem. In ’n summiere verhoor verskyn hy op 21 November voor die regter-president van Transvaal om te antwoord op aanklagte ingevolge die Wet op die Onderdrukking van Terrorisme. Hy erken skuld op die lywige klagstaat waaruit bepaalde verwysings na geweld en ondermyning verwyder sou word. Op ’n stadium in die verhoor lewer hy self ’n pleidooi ter versagting (wat vertolk word as “berou”). Hy skets sy Afrikaner-agtergrond en sy lewe as jongeling in Parys; die ontstaan van sy haat-liefde verhouding met SA; die verhouding met Afrikaans wat enersyds ’n naelstring en andersyds die wapen is waarmee hy die naelstring probeer afsny; die dubbelsinnigheid wat ook weerspieël word in die resepsie van sy werk; die politiek van die uitgeweke gemeenskap waarby hy betrokke geraak het. Hy verduidelik sy optrede so:

Uit: Jack Viviers, Breyten – ’n verslag oor Breyten Breytenbach (Tafelberg, 1978: 54–60)

Vir my het dit gegaan om verhouding tussen mense, tussen groepe, om die toekoms van ons land. Ek het die bedeling […] ervaar as ’n skending ook van my menseregte. In my hart, U Edele, was die motivering vir my handelswyse altyd die liefde vir my land. Dit is dalk paradoksaal, maar vir my het dit gegaan om die voortbestaan van ons volk, ’n voortbestaan met geregtigheid soos Van Wyk Louw dit uitgedruk het, oor die inhoud en die gehalte van ons beskawing. Ek het geglo dat my optrede nie teen Suid-Afrika gerig was nie, maar teen wat ek beskou het as ongeregtighede. […]

Hy word skuldig bevind aan die hoofaanklag dat hy ’n aktiewe ondersteuner is van die verbode ANC, ’n stigterslid van ’n geheime anti-apartheidsorganisasie en aan terroristiese dade ter bevordering van ’n rewolusionêre verandering van die Suid-Afrikaanse samelewing. Hy word gevonnis tot nege jaar gevangenisstraf. Twee jaar van hierdie vonnis was in eensame aanhouding in die maksimum sekuriteitsafdeling van Pretoria Sentraal en loop uit op ’n tweede verhoor in 1977 waartydens ongerymdhede aan die kant van die staat ten opsigte van die eerste verhoor op die lappe kom. Hierna word hy na Pollsmoor verskuif.

Die gebeure rondom Breyten se aanhouding en verhoor was ’n verleentheid vir die verligte pers wat hom in 1973 met ope arms terugverwelkom het in die land en wat selfs sy Somerskool-toespraak kon koppel aan die opkoms van die “nuwe” Afrikaner. Die nuwe Afrikanerlaer het duidelik sy grense gehad. Die koerantredakteurs omseil die werklike politieke vraagstukke wat rondom die verhoor opduik en dui aan dat Breyten sy tronkstraf verdien. Op grond van sy “berou” wil van hulle wel sy Afrikanerskap aan hom teruggegee ter wille van die Afrikaanse letterkunde en kultuur. Die boodskap is duidelik: andersdenkendes moet liewer binne die Afrikanerlaer, die volkskring, bly en sorg dat hulle verset lojaal is.

Die Afrikanergehoor wat hom in 1973 toegejuig het tydens sy Somerskool-toespraak, swyg nou. ’n Minderheid briefskrywers is aangegryp deur sy “berou” en is bereid om hom weer op te neem in Afrikanerkringe ter wille van sy kunstenaarsiel en om ons strewe na menslikheid te belig. Die meerderheid briefskrywers meen egter dat sy straf geregverdig is – wat hy gedoen het, is duiwelse werk, verloëning en verraad.  Hulle weeg die digter afwysend op teen “ons manne op die grens”. Hy is ’n verraaier wat hom in ’n oorlog by die vyand aangesluit het en daarom deur die konsensus van die volk verwerp word as Afrikaner.

Rapport hou ʼn meningspeiling (nog voor dit bekend geword het dat hy in hegtenis geneem is) oor of dit tot Afrikaans se voor- of nadeel sal strek as Breyten nie meer in Afrikaans skryf en publiseer nie. In hierdie eerste formele volkstemming rondom hom stem 35,6% van die Afrikaners wat ondervra is dat dit die Afrikaanse letterkunde tot voordeel sal strek as hy ophou skryf; 21,1% voel dit sal die letterkunde tot nadeel strek; byna die helfte van die teikengroep spreek geen mening uit nie.

In die openbare reaksie is daar geen aanduiding van besinning oor die moontlike legitimiteit van alternatiewe sienings oor die landsbestel en ’n ander politieke bedeling nie. En dit terwyl die twee verhore plaasvind in ’n tydvak waarin Afrikaans die lont in die kruitvat van die Soweto skole-opstand (1976) word wat spoedig landwyd versprei terwyl die digter sy tronkstraf uitdien.

DIE 1980’s

Vrylating en verhuising (1982)

Vroeg in 1982 word ’n wetswysiging aanvaar wat voorsiening maak vir die vervroegde vrylating of vrylating op parool van mense wat skuldig bevind is aan misdrywe teen die veiligheid van die staat. Hierdie toegewing maak deel uit van die hervormingspolitiek van die dag. Op 2 Desember 1982 word Breyten onverwags uit die gevangenis vrygelaat na sewe jaar tronkstraf. Na ’n besoek aan sy familie vertrek hy en sy vrou na Parys waar hy later Franse burgerskap verkry en vanwaar sy loopbaan as intellektueel op internasionale verhoë ontplooi.

Die breë publiek swyg oor sy vrylating; hulle het hom moontlik vergeet, want sy stem was stilgemaak tydens sy gevangeskap. Die oorwegende reaksie van die pers is een van waarskuwing. Dat hy sy ou politieke paaie moet vermy, sy bydrae moet lewer tot die pad van welwillende politieke evolusie in die land en sy talent moet aanwend in die belang van die Afrikaanse taal en letterkunde.

Elf maande later stem wit stemgeregtigdes ja-of-nee vir ’n “Nuwe Bedeling” en daar is ’n die oorwegende ja-reaksie van die Afrikaanse literêre establishment. Breyten meen egter dat ’n ja-stem wit diktatorskap en rassediskriminasie verder sal wettig; dat die aanpassings van die P.W. Botha-bewind ’n vals front skep waardeur die regering sy beeld na buite probeer verbeter terwyl die apartheidbestel geen ware evolusie ondergaan nie.

In die posttronk era deins Breyten terug van sy vroeëre “ons”-verhouding met die Afrikaner; kort na sy aankoms in Parys stel hy dit in ’n onderhoud dat hy nie meer ’n Afrikaner is nie. “En dit is nie uit opstand of uit skaamte nie. Ek voel my net nie meer verbonde aan die konsep nie. Ek is hoogstens nog Suid-Afrikaans”. Hy dra nie meer gewillig saam aan die skande van sy mense nie en sy verbondenheid met die land word komplekser. Hy is toegewy aan die saak van swart politieke mag en ’n meerderheidsregering. Maar selfs as radikale teenstander van apartheid bly hy by die Afrikaner betrokke en wel in die rol van bewusmaker of gewete: hy soek na die barsies en skeurtjies waardeur ’n verskuiwing in die Afrikanerbewussyn kan plaasvind en na metodes waardeur hierdie verskuiwings ingespan kan word vir die bewerkstelliging van politieke transformasie.

Gedurende die 1980’s word twee opeenvolgende noodtoestande aangekondig om verset teen apartheid te onderdruk; dit is ook die hoogty van “alternatiewe Afrikanerskap” wat uitdrukking vind in die Demokratiese Party, musiekgroepe – dink Voëlvry-toer – publikasiekanale soos die uitgewery Taurus, die literêre tydskrif Stet en die koerant Vrye Weekblad. Die establishment openbaar ’n nuwe-bedeling-houding ten opsigte van die dissidente digter wat toe nie, soos gehoop is, sy mond in die openbaar hou en net sy hand op papier sit om die Afrikaanse letterkunde en kultuur uit te bou nie.

Die Rapport-prys (1986)

Die Hertzogprys, die groot volksprys, word in 1984 aan Breyten toegeken vir sy tronkbundel (‘yk’). Hy wys dit egter van die hand omdat hy glo dat hy deur die aanvaarding van die prys sou help om ’n illusie van soepelheid te verleen aan diskriminerende strukture soos die “slegs blankes” Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

In 1986 word die nuut-ingestelde Rapport-prys aan hom toegeken vir hierdie bundel, tydens ’n luisterryke geleentheid in die Staatsteater. Die aanklagte wat hy maak tydens sy ontvangstoespraak, is dat die Afrikaner ’n onding doen aan mede-Suid-Afrikaners; dat die Afrikaner rassisme in stand hou; dat die Afrikanerkerke moreel bankrot is en nie standpunt inneem teen wat in die townships gebeur nie; dat die Afrikaanse establishment gelyk is aan die staat, apartheid, die Broederbond, die Akademie. Sy aanbeveling vir bevryding is die aftakeling van die Afrikaner se magsmonopolie omdat dit onwettig en totalitêr is.

Die bekroning en die toespraak lok teenstellende reaksie uit van die uitgelese gehoor. Hulle juig hom tydens die aankondiging dat hy die prys gewen het staande toe, maar hulle reageer gedemp op sy kritiese aanvaardingstoespraak. Vir verligte Afrikaners is die toespraak ’n verleentheid omdat hulle, dertien jaar na die Somerskool-toespraak, nie wou hoor dat hulle nog nie werklik gevorder het op die pad na (hulle) bevryding nie. Verkrampte toehoorders vind sy gebrek aan erkentlikheid en onkunde oor onlangse politieke ontwikkelinge en nuwe-bedeling-sentimente aanstootlik. Die verligte pers, aanhangers van die “nuwe politieke bedeling”, kon nie uitsprake soos hierdie onderskryf nie. 

Die poststaatsteater era

Die Afrikaner-establishment het sedert die later-tagtigerjare ’n wortel-en-stok-verhouding met Breyten. Toe die wortels van vervroegde vrylating en literêre pryse hom nie hokslaan vir die Afrikanersaak nie, word die slaanstok van visumweiering weer ingespan (in 1987 toe hy sy siek vader wou besoek en in 1988 om ’n ere-doktorsgraad aan die UWK te ontvang). Hierdie visumonthoudings lok weinig openbare reaksie uit.

Dit hou Breyten egter nie uit die (literêr-) politieke diskoers nie en hy spreek vanaf verskillende platforms skerp kritiek uit teen die era van die “Nuwe Bedeling”. Hy is mede-inisieerder van ’n andersoortige ondergrondse aksie as in die 1970’s, naamlik ’n hoogs geheime ontmoeting tussen die ANC en ’n groep progressiewe Suid-Afrikaanse meningsvormers in Dakar, Senegal, in 1987 en later met ’n groep skrywers en letterkundiges by die Victoria Waterval. Hy glo dat hy as skrywer die verantwoordelikheid het om ’n bydrae te lewer tot ’n regverdiger gemeenskap en die totstandkoming van ’n nuwe Suid-Afrikaanse kulturele identiteit.

Die reaksie wat hy in hierdie era uitlok, is uiteenlopend. Vanuit reaksionêre perspektief word hy steeds as volksverraaier veroordeel; hervormingsgesindes én ontnugterde verligtes span verskillende strategieë in om hom vir hulle saak te probeer opeis en in ’n veilige kulturele hawe tuis te bring; ’n opkomende radikale faksie het onvrede met sy rol as onderhandelaar. Sy invloed as wêreldburger in die ontplooiing van die postapartheid politiek kan egter nie onderskat word nie. Hy het bygedra tot die skepping van ’n politieke en intellektuele klimaat waar gesprekvoering, onderhandeling en die regularisering van die Suid-Afrikaanse politiek en sosiale situasie moontlik gemaak is.

DIE 1990’s

Tydens die Waterval-beraad, aan die vooraand van die oorgang na die “Nuwe Suid-Afrika” was Breyten se aansporing: “Bly beweeg, ver anderkant bevryding. Niks is vir ewig gewen of gevestig nie. Of, waarskynlik, vir ewig verloor nie”. Hierdie woorde was profeties ten opsigte van sy rol as kunstenaar en intellektueel in die nuwe Suid-Afrika.

Hy bou in die 1990’s voort op sy omstrede reputasie as staatskritikus. Hy kruis in ope briewe en op openbare podiums swaarde met staatspresidente Mandela en Mbeki en sy uitsprake oor die WVK, openbare skuldbelydenis, die post-bevrydingsrol van die ANC, nuwe soustreine en die korrupsie van mag ontlok verontwaardigde reaksie uit verskillende oorde. Dit is nog steeds Afrikaanstaligheid wat sy verset dryf.

Noudat die Afrikaner nie meer in die magsposisie is nie, is dit vir hom makliker om ’n saak uit te maak vir Afrikaans en vir die skep van kulturele ruimtes. Sy deelname aan podiums vir die Afrikaanse taal en kultuur (soos die Oorlegplatform vir Afrikaans, Groep 63 en die KKNK), sy aanvaarding van die Hertzogprys, sy beroep op Afrikaanssprekendes om na hulle kulturele en sosiale regte om te sien, sorg vir nuwe etikette om sy nek. Hy word óf omhels as nuwe “kampvegter” vir taal- en minderheidsregte óf afgestoot as “nuwe regse” wat vasskop teen nasiebou, regstellende aksie, die WVK, die verlies van Afrikaans se bevoorregte posisie en die politieke transformasie waarvoor hy hom beywer het.

Resepsie van Boklied (1998)

In 1998 word Breyten se eerste drama as opdragwerk opgevoer by die KKNK, wat sedert 1995 ’n platform vir Afrikaanse kunste-uitlewing bied. Daar is groot verwagtinge dat hy sy kant sal bring vir die Afrikaanse / Afrikaner-saak. Die gehoorreaksie tydens die openingsaand wissel tussen ekstase en uitstappery. Dit is die uitstappers en hulle briefskrywende ondersteuners (wat teen die seksuele inslag van die drama is) wat die meeste openbare aandag in die media kry. Hierdie volksjurie is terug in die ou vertroostende patrone: Breyten is weer die stout seun; kaal is die mens nie gebore nie; Afrikaans is die heiligdom van die volk en kan nie so misbruik word nie.

Daar word ook vanuit georganiseerde groepsgeledere beswaar aangeteken teen die stuk. Die ATKV-Dames voel dat die moraliteit van “ons mense” deur hierdie tipe kuns afgekraak word. Die Sakemanne-vir-Jesus verklaar dat Boklied ’n belediging vir die mens as kroon van die Skepping is. Drie gemeentes van die Afrikaanse Protestantse Kerk in Bloemfontein versoek SUKOVS om nie met die speelvak van die stuk in hierdie stad voort te gaan nie en onderneem ’n meningsopname by ’n plaaslike radiostasie: minstens 622 mense stem teen die opvoering, terwyl slegs drie voel dat dit moet voortgaan.

Die kunsopvatting wat hierdie reaksies onderlê, eggo dié van die 1960’s. Hierdie keer het kenners en kundiges egter opgeruk om lansies te breek vir Boklied. Argumente wat op die tafel geplaas word, sluit in dat hierdie soort konsepkuns ’n debat oor eksistensialisme en die skeppingsproses oopmaak; dat dit ’n surrealistiese teatrale fantasie in Afrikaans is; dat dit aansluit by die Frans-Afrikaanse toneelkonneksies en die eeue-oue skandemakertradisie van die toneel; dat dit raakpunte het met die konvensies van die Griekse komedie-teater; dat dit terugkerende temas en metafore in Breytenbach se oeuvre uitwys, asook sy Zen-Boeddhistiese werkswyse. Daar is selfs ’n kultuurfilosofiese diskoers oor die Afrikaner en sy taal van stapel gestuur wat vanaf ’n ontbytbyeenkoms op die fees uitkring tot artikels in koerante en vakjoernale. Toonaangewende meningsvormers van die dag meen Boklied is in vele opsigte ’n waterskeiding – nie net vir die Afrikaanse toneel nie, maar ook in die Afrikaanse geesteslewe aan die einde van die 20ste eeu.

Akademici, kritici en die volk gesels oor Boklied en die afsluiting van die speelvak in Oudtshoorn, waar mense ten duurste betaal het vir kaartjies op die swartmark, word beskryf as ’n triomf. Die stuk word bekroon met die Herrie-prys en twee maande later oes dit nege Vita-bekronings in. Het Breyten vir hom ’n nis uitgekap in die nuwe Afrikanerbinnekring?

DIE 2000’s

Deelname aan die LitNet-aanlyn-skrywersberaad (2000)

Die nabyheid aan eertydse Afrikanernasionaliste en die voorpraters van die nuwe Afrikanerbinnekring raak al knellender vir Breyten. Hy kry die geleentheid om hom hieroor (en oor ander sake) uit te druk in sy openingstoespraak van die eerste LitNet-aanlyn-skrywersberaad in 2000. (LitNet is sedert 1998 nog ’n ondersteunende platform vir Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika.)

Dit is duidelik dat hy hom al meer verset teen die nuwe konstruk wat die volk en die media van hom maak. Hy deel woeste klappe uit na sowel die “ons”-groep (wie is hierdie ons?) as die “heersende (staats)apparaat se Groot Lieg”. Hy betreur die mislukking van nasiebou en versoening en die wyse waarop die staat steeds georden is volgens rasselyne. Hy klap na ou Afrikaanse taalstryders wat hulself nou besprinkel met die parfuum van minderheidsregte en selfbeskikking en hulle geflikflooi na gedeelde belange met die bruinmense. Te midde van talle ander pleidooie vir die groter belang, meen hy: “ Ons mag ons nie laat verwilder van die noodsaaklikheid om sélf (… ook op georganiseerde manier) om te sien na kulturele en sosiale regte nie. Dit beteken dat ons moet veg vir die oophou en die gebruik van [Afrikaans] en daarom ook dat ons moet sorg daarvoor dat dit nie uitgeskuif word in die skole of aan die universiteite nie.”

In ’n ope-brief-aanval op LitNet se SêNet-ruimte word Breyten daarvan beskuldig dat hy deelneem aan die “nimmereindigende gesanik” dat Afrikaans se status besig is om in te kalwe, terwyl dit niks anders is as die logiese stuiptrekking van apartheid se dood nie; dat hy die gulde geleentheid verspeel het om voorbrand te maak vir die einde van Afrikaans as amptelike taal en om die volk soos ’n Moses van ouds die beloofde postapartheid-land in te lei.

Hierna onttrek Breyten hom aan bestaande forums (soos die dinkgroep rondom ’n Afrikaanse universiteit op Oudtshoorn) en bou openbare kriewelrighede en polemieke rondom hom op.

Resepsie van Die toneelstuk en Die Burger-volkstemming (2001)

Die KKNK van 2001 was veronderstel om ’n driekunsfees vir Breyten se skeppende werk te wees: ’n nuwe verhoogstuk, ’n doekboek-kunsuitstalling (gekombineer met konsepteater) en musikale verwerkings van sy poësie. Maar toe kaap die verhoogstuk, Die toneelstuk, die openbare oog as omstrede gebeurtenis toe toneelgangers uitstap omdat dit nie voldoen aan hulle verwagting vir bevestigende vermaak nie.

Anders as wat die geval was tydens die resepsie van Boklied drie jaar vroeër, kom die literêre establishment en ander openbare meningsvormers stadiger uit hulle blokke. Enkele stemme gaan wel tydens en kort na die fees op wat die toneelstuk en die openbare reaksie daarop kontekstualiseer binne ’n breër raamwerk as dié van ’n gesellige volksfeeslaer. Daar word daarop gewys dat dit ’n uitdaging aan feesgangers bied om na te dink oor hulle religieuse belewing; dit toon ’n renons in slagspreuke en dogmas en bevraagteken oorgelewerde en vooronderstelde idees oor identiteit; dit trek die tentpenne op en vier die kunste, die onsekerheid en die vraag (in teenstelling met die antwoord).

Terwyl die segsmanne van die nuwe Afrikaner-establishment (wat hulle beywer vir minderheidspolitiek, nuwe definisies van identiteitsvorming en ’n taalstryd) in die Boklied-dae ’n bepaalde soort politieke rol vir Breyten voorsien het, voel hulle nou ongemaklik oor sy ontnugtering met en sy sogenaamde oorvereenvoudigde en romantiese kritiek van die eietydse politiek.

Die reaksie wat Die toneelstuk van teatergangers ontlok – wat wissel van skokkende en onverstaanbare kuns tot die mis-sit van die politieke pot van die dag – is bekende temas in die omhels-afstoot-dans van Breyten en die volk. Hierdie keer egter bou die reaksie op na breekpunt. Die uitstappery uit Die toneelstuk asook die ondeurdagte uitlating van een meningsvormer dat Afrikaners se afwysende reaksie Breyten kan vervreem en dat hulle hom “soos ’n lam ter slagting kan lei”, gee aanleiding tot ’n opportunistiese stukkie internet-joernalistiek aan die kant van Die Burger.

Die tegnikus wat op daardie stadium vir die plasing van nuusberigte op die webwerf van Die Burger se internet-uitgawe verantwoordelik was, het die vraag bedink om lesers met die druk van ’n knoppie te laat stem oor of die volk Breytenbach moet vervreem of nie. Volgens ’n berig in die koerant het sowat 80% van die respondente ten gunste van vervreemding gestem. Hoeveel mense aan hierdie volkstemmery deelgeneem het, is nooit bekend gemaak nie.

Minstens een rubriekskrywer meen dat dit die ander 20% van die “volk” is wat tel en wat ’n plan sal maak om ’n samisdat [ondergrondse]-kultuur rondom Breyten te skep. Maar hierdie “ander” bly self ondergrond en laat niks van hulle hoor nie. Lede van die literêre establishment wat hulle wel oor hierdie volkstemming uitlaat, meen daar behoort nie veel kommer te bestaan oor ’n werklike verwydering tussen Afrikaanse lesers en een van die taal se voorste skrywers nie. Een wys daarop dat die skrywer homself in elk geval as ’n nomade beskou eerder as deel van ’n groep en dat dit gesond is dat daar ’n kloof is tussen so ’n ingewikkelde groepering soos die Afrikaanse “volk” en sy skrywers, anders raak die verhouding alte gemaklik.

Enkele openbare figure voeg hulle stemme by die yl openbare reaksie en fokus op semantiese aspekte, soos “Afrikaanse gemeenskap” teenoor die uitgediende konsep “volk”. Daar word selfs ’n beroep op Breyten gedoen om hom nie buite die politieke logika te stel nie: As kreatiewe gees behoort hy deel te neem aan die nuwe idioom in terme waarvan die Afrikaanse gemeenskap homself stel. Hierdie aanmaning laat mens dink aan vorige soortgelyke laer-verruimende beroepe op Breyten.

Teenoor hierdie soort reaksie staan ’n rubriekskrywer se waarskuwing teen die “Groot Geselligheid”: kultuur behoort geen gesellige heenkome vir die kunstenaar te wees nie: “Ons moet oppas dat ’n geslag sonder protes teen die eie verbygaan. Afrikaans moet ’n ruimte oopbaklei en oopdink via sy mees kritiese, ongedurige geeste wat alles wat Afrikaans is krities ondervra. Dis wat die taal, en die kultuur wat dit dra, reikwydte en vitaliteit sal gee”.

In ’n Engelse brief aan die redakteur van Die Burger laat Breyten weet dat hy in elk geval nie lid van die volk is nie en vra hy om verskoning as hy die verkeerde indruk geskep het.

Hierdie volkstemming-fiasko was nog ’n episode in die sikliese omhels-afstoot-patroon wat die verhouding tussen Breyten en die Afrikaanse publiek / volk kenmerk.

Ondergrondse publikasie (2002)

Omdat Breyten nou voel dat die kommunikasieterrein tussen hom en sy mense heeltemal vergiftig en verrot geword het (of nie meer bestaan nie en niemand meer omgee vir wat hy mag bied nie), stuur hy vanaf Augustus 2002 nuwe gedigte op elektroniese wyse (per e-pos) aan enkele vriende. In ’n opportunistiese skending van sy private ruimte word sy korrespondensie op ongekontekstualiseerde wyse  aan die klok gehang in ’n rubriek op LitNet. Hierdie skinderbrokkie gee aanleiding tot kwistige briefskrywery daaroor op SêNet waar jan-en-san-alleman óf dink dit is ’n lawwe gebaar / ’n teken van vroeë seniliteit óf Breyten verkwalik dat hy hulle nie in die gekose groepie insluit nie – hulle sal egter nie sy boeke mis nie, want hulle krul saans heerlik op in die kooi met ’n Engelse hygroman.

’n Rubriekskrywer wys op die spesiale verhouding wat Afrikaners met digters het en dekades reeds is Breyten ons groot digter. Maar dit is ’n komplekse verhouding, want wit Afrikaners lees natuurlik nie eintlik (sy) gedigte nie en koop nie (sy) digbundels nie. Die gemiddelde verkope van ’n digbundel in Afrikaans is hoogstens 500 eksemplare, terwyl Breyten ’n topverkoper is met moontlik meer as dubbel hierdie getal. Maar mense wat nie sy digbundels koop nie, sal hom op straat herken. Hierdie rubriekskrywer meen ons gaan armer wees sonder Breyten se bundels: hy en ons gaan verveliger wees sonder die krapperigheid tussen ons.

Die US-taaldebat (vanaf 2005)

Eers laat in 2005 keer Breyten weer in die openbare kollig toe hy inwillig om sy naam te voeg by dié van Van Zyl Slabbert en Hermann Giliomee in ’n ope brief in Die Burger oor die taalbeleid van die US.

Gedurende die rektorskap van prof. Chris Brink het die US einde 2002 ’n taalbeleid en –plan aanvaar wat bepaal het dat Afrikaans “by verstek” of “outomaties” die onderrigtaal van die universiteit sou wees. Dit was die sogenaamde A-opsie. Ander opsies, wat onder bepaalde omstandighede oorweeg kon word, is die T-opsie (afwisseling van Afrikaans en Engels), E-opsie (feitlik slegs Engels) en die AE-opsie (parallelle, gedupliseerde Afrikaanse en Engelse klasse).

In die ope brief voer die skrywers (later word na hulle verwys as die nuwe “groot taalstryders”) aan dat die US buite sy beleid optree deur in die praktyk die fakulteit Lettere en Wysbegeerte na die T-opsie te laat oorskakel en dat dit in skerp kontras is met versekerings wat die vorige jare gegee is. Daarna volg ’n dringende versoek aan die US-Raad van meer as honderd Afrikaanse skrywers om die besluit om te keer. Daar was ’n ontploffing van briewe van die kant van die publiek in Die Burger en die meerderheid was teen die T-opsie gekant.

Breyten was weer in die oog van ’n storm (en ’n volksaak). Hy verwoord in 2006 sy siening oor die voortgaande debat in ’n essay in Die Burger. Sy standpunte raak die volgende aspekte aan: geen taal is van aard rassisties nie; Afrikaans is ’n bastertaal; Afrikaans vergestalt ’n ruimer identiteit as Afrikanerskap; die noodsaak van moedertaalonderwys; taal as bemiddelaar; taal as metamorfose. Hy maak ’n stelling wat weer tot misverstand sou lei: “Ons kan sê dat ons bevoorreg is, want dis tog seker ’n unieke ervaring om in mens se leeftyd te sien hoe vergaan die taal wat die uitdrukking was van ’n besonderse stuk geskiedenis […] want Afrikaans dra die konnotasies van ’n vorige onregverdige bestel […].”

Hy bring in hierdie essay ’n oproep tot ’n nuwe stryd: “Wat bly dan oor? Sekerlik die noodsaak vir en dalk selfs die haalbaarheid van versetpleging, wéér en wéér. (En asseblief tog – ek pleit nie vir geweld nie!). Want die stryd sal weer opvlam! Daar is nog genoeg van ons wat wéét dat vrye denke begin by die konkretisering van taalvaardigheid – in ons geval met die reikwydte van ’n soepel bastertaal wat meegehelp het om die wete van hierdie land te laat sing as kennis.”

Toespraak tydens die ontvangs van die Hertzogprys (2008)

In 2008 word Breyten se digbundel Windvanger met vier pryse bekroon: Die W.A. Hofmeyr-prys, die Protea-prys, die Universiteit Johannesburg-prys en die Hertzogprys. In sy ontvangstoespraak in die vorm van ’n tweegesprek, tydens die toekenning van die Hertzogprys, laat hy hom uit oor verskillende aangeleenthede: die toestand van die land; die posisie van Afrikaans; sy verhouding teenoor die taal en sy verhouding met die volk.

As ek my taal sou onteien sou dit beteken dat ek die wewing van my bestaan probeer vernietig. En so het ek uitgekom by die plek waar ek kan sê: ek het in opstand gekom teen die volk ook in die naam van die woord. In naam van die basterskap van die woord. […] Ek wil nie blaam toeskryf nie; ek het sommer net die kollektiewe verwysingsraamwerk verloor. Die “Afrikaner”-kollektiwiteit […] en die historiese ek […] werk eenvoudig met teenstrydige logikas. […] Natuurlik is ek bewus van die provokasie wat my denke blykbaar inhou. Mense wil nie losgeslaan word van die veiligheid van groepsvorming nie en die bevraagtekening van ’n ortodoksie word ervaar as anargisties.” 

Die Dansende Digtersfees (2013 / 2014)

Na sy vrylating uit die tronk het Breyten ’n wêreldburger geword en is hy ’n bekende op talle verhoë: skrywersbyeenkomste (soos Poetry International in Rotterdam), intellektuele forums (soos die Einstein Forum in Potsdam) en talle kongressale.

Hy skep ook ruimte vir plaaslike skrywers om verhoë te deel met woordkunstenaars van Afrika en die res van die wêreld: hy was onder andere die stigter van die Poetry Africa-fees in Durban, die mede-inisieerder van poësiekaravane in Afrika en nou ook die Dansende Digtersfees op Spier waaraan beroemde internasionale digters deelneem. In sy openingsrede tydens die eerste fees in 2013, “Stones of Utopia”,  bring hy poësie en politiek en die klippe wat die deelnemers saamgebring en opgestapel het só bymekaar:

Is poetry not the one partition we share with the unknowable? Has it not always been the deep throbbing consciousness of the single mouth of stuttered being before the eternal? Has it not always been the radical subversion of sharing and of solidarity? Do we not know or remember that every child crippled by poverty is one dancer less in the ballroom of humanity? And that every one woman raped by the brutishness of being possessed must mean one love poem less that will not be written? Yes, we are political: in total and permanent opposition to the pestilence of power. Would that our politicians be poets. But let them bring their own stones and stories. We are all human.

TEN SLOTTE

Breyten was nooit deel van die gewaande volkkonstruk in watter era ook al nie. Maar sy strewe na ’n Suid-Afrikaanse identiteit het ook (nog) nie gematerialiseer nie.

Hy is nie verlei deur die denke van die heersende hiërargie, meesters of norme nie. Hy is nie vioolspeler in die voorkamer van óf die maghebber óf die volk en sy establishment nie, maar hy bring verandering teweeg deur individuele optrede.

Hy het getrou gebly aan die rol wat hy reeds in 1964, die jaar van sy skrywersdebuut, uitgespel het vir die Afrikaanse skrywer en intellektueel:

Hy moet ook die gewete van sy gemeenskap beliggaam. Hy moet vooruit kan kyk en waarsku as hy dink ons raak die weg kwyt. Hy is ’n seismograaf en ’n weervoorspeller […]. Hy bewaar ons gemeenskaplike ervaring, die voetspore van ons langsame evolusie. Hy moet sorg dat daardie kort paadjie wat ons tot dusver gekruip het nie toegroei nie. Hy moet sorg dat ons are nie verkalk nie. Hy is ons geheue en ons spaarbank, ons flitslig en ons horlosie – en as hy dit nie is nie, wie sal dit dan wees?

Francis Galloway

LW: Hierdie is ’n praatteks. Wat betref uitsprake deur briefskrywers en rubriekskrywers asook ander koerantkommentaar word daar nie verwys na name nie, aanhalingstekens word selde gebruik en bronne word nie aangedui nie. Dit is dus gevaarlik om uit hierdie teks aan te haal.   

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s