Notas by die bespreking van Kamphoer – Francois Smith

Skrywersagtergrond:

Francois Smith verdien sy brood en botter as uitgewersredakteur, maar as hy die geringste kans kry, skryf hy eerder sy eie werk. Van sy verhale het in die bloemlesings Bloots, Kosblik en Skarlakenkoors verskyn; sy vertaling van David Kramer: ’n Biografie is met ’n Sala-letterkundeprys bekroon. Hy en sy gesin woon in Wynberg, Kaapstad, maar hy eintlik kom hy van die Vrystaat.

Hy het ’n Ph.D. in die letterkunde van die Universiteit van Kaapstad en as hy nie skrywers soos Dan Sleigh, P.G. du Plessis en Elsa Joubert help om hul manuskripte te vervolmaak nie, tree hy as gasdosent in die letterkunde op, of bied skryf slypskole aan. In ’n vorige lewe was hy ’n siviele ingenieur by die WNNR waar hy navorsing gedoen het oor munisipale dienste en gespesialiseer het in die Geventileerde Verbeterde Putlatrine, ook bekend as die VIP (Ventilated Improved Pit Latrine). In die volgende lewe wil hy met wedvlugduiwe boer.

Volgens Murray La Vita is Smith bekend  as een van die beste teksredakteurs en ontwikkelaars van manuskripte in Afrikaans.

 Ronel Nel van Rooi Rose:  “Kamphoer is met een woord verbysterend. Smith het met sy debuutroman hom direk in die annale as top-letterkundige gevestig”  ‘n Grensverskuiwende boek!

Cas van Rensburg oud joernalis van Onrus:

“ ‘n Toekomstige Meester het sy eerste buiging op die verhoog van die Afrikaanse letterkunde kom maak”

Joan Hambidge sê: “Dit is geskryf met ‘n onuitwisbare pen” (indelible pencil).

Kerneels Breytenbach  “Ek het laas met Donna Tartt se The Secret History ’n roman gelees wat dieselfde reaksie by my ontlok het: Ek wou daagliks die aantal sinne wat ek lees, rantsoeneer, sodat ek die genot kon uitrek. Skryfwerk uit die boonste rakke, en ’n reuse-bydrae tot die debat oor geweld teen vroue.”

Smith se reaksie in ‘n onderhoud met Johnathan Amid (LitNet):  “Ek is ontroer en oorweldig deur die reaksie van resensente sowel as doodgewone lesers. Ek dink nie my boek is maklike of ontspanningslektuur nie, maar ek het soveel reaksies op Kamphoer gekry waarin daar blyke is dat mense nie net deur die storie aangegryp is nie, maar hulle dieper vlakke kon ontgin, dat hulle geskakeerd en ontvanklik en kreatief op die boek kon reageer. Daaroor is ek verskriklik bly. Ek weet nie eintlik wat anders om daaroor te sê nie as net maar dankie.”

Met die behandeling van die boek gaan ek temas uitlig wat in die verhaal voorkom en dan deurentyd ook let op die verwikkeldheid daarvan; die deurvlegting van die een verhaal met die ander (Susan Nell sien haar eie verhaal as twee; sy het ‘n sterfdatum en weer ‘n geboortedatum; sy het twee stelle ouers, die Sotho’s en haar eie bloedouers,  asook twee lewens, dié in Suid-Afrika en dié in Nederland). 

Die temas wat voorkom is onder andere:

  • Trauma: Kollektiewe en individuele trauma en die ingrypende invloed daarvan op die gees van die mens.
  • Die psigiatrie met verwysing na Freud et al se werk, die Id, ego en alterego-  en daarteenoor die tradisioneel- Afrika helende praktyke.
  • Tydspeling en ruimtelikheid,
  • Oorlog (drie oorloë en ‘n persoonlike oorlog!),
  • Verder sal ek kyk na karakterontwikkeling, taal en styl- dikwels fyn poëties.
  • Teenstrydighede; die verhouding en spanning tussen lewe en dood, die ego en alterego, en die spanning tussen fabel en die bo-natuurlike (Spikkelkoei).

Vraestelling

‘n Paar vrae word deurgaans gevra aan die skrywer en ons sal self moet oordeel wat die antwoord is:

  1. Hy skryf oor ‘n vrou se gevoelens na verkragting; kan hy?

Met die skrywe van Kamphoer het hy volgens ‘n onderhoud met  Murray La Vita, redelik noue kontak met Karel Schoeman gehad, met wie hy in die tyd gekorrespondeer het.  Karl het hom baie gehelp met die navorsing, maar Francois sê self: “..dit was asof hy geskreeu het: ‘weet jy wat jy doen? Besef jy dat jy as man probeer skryf oor ‘n vrou wat verkrag is?  

Een ding wat ek voor die tyd reeds geweet het, voordat ek die volle implikasies daarvan besef het – en ek kon dit eers behoorlik besef toe ek daarmee besig geraak het – is in watter mate, wanneer jy oor iemand anders skryf, jy baie seker moet maak dat jy nie oor jóúself skryf nie.  “Hoewel ’n mens skryf met ál jou ervaring, met ál jou kennis, met álles wat in jou is, moes ek vir myself sê: Maak doodseker wie se gevoel is dit hierdie.  “Ek het ook agtergekom dat ek geneig was om te skryf met so ’n effense melan-

choliese stemming en wat ek goed geweet het eerder ék is as wat dit sý is, en

ek moes myself dwing om te herlees. Ek het ook die redakteur Linda Rode gevra

om báie spesifiek te kyk vir wat ek genoem het opgeklitste emosies, dinge wat

nie rêrig organies uit daai karakter kom nie, maar wat eintlik my eie goeters is wat ek op haar projekteer.”  (Freud se konsep van projeksie; Francois het sy eerste vrou baie vroeg in hul huwelik op grusame wyse verloor; sy is vermoor by hul huis. Hy het dus ‘n eerstehandse kennis van trauma en die nalatenskap daarvan in jou wese. Sy doktorsgraad het gehandel oor die letterkunde en die dood.)

  1. Die ander vraag is of sy werk as teksredakteur nie dalk sy eie skryfstyl beïnvloed nie?

(My proses, as ek ‘n boek voorberei vir bespreking, is om dit eers bloot deur te lees en alle aspekte wat my opval, aan te teken. Ek het deurgaans die gevoel van Karel Schoeman se stem en styl gekry. Daardie selfde sensitiewe, raak beskrywings van die landskap; die skep van stemming deur meesterlike taalgebruik, asook om die innerlike landskappe van sy karakters fyn te verwoord.  Daar is ook twee stemme wat die verhaal vertel, stemme uit die verlede, onthoustemme van die verinneweerde Afrikanermeisie en die van die vrou wat dink sy is genees in Nederland.  Woorde wat opval is beskrywing van water of damme wat “skitter”, die speling van lig oor die landskap, die verlatenheid, wydheid van die landskap, ryk simboliek en ook die sikliese aard van die verhaal. 

Ek sien ook NP v wyk Louw se woorde: “die fyn net van die word” uit Raka – moontlik oor Susan Raka beleef het, Raka in haarself rondra en nie kan loskom nie? En dan DJ Opperman se Spikkelkoei. Inderdaad ‘n letterkundige wat skryf…)

Die Vrystaat, waar Kamphoer deels afspeel, is waar Smith grootgeword het – op ’n familieplaas naby Rouxville, en in die dorp self.

Smith : “Die Vrystaat en daardie soort landskap is tot ’n groot mate my innerlike landskap ook – daardie óóptes, daardie kleur en daardie lig . . . En die klanke daarvan ook. “Hoewel ek glad nie meer blootgestel word aan Sotho nie, is my oor baie goed daarop ingestel. “Dis vir my nog altyd, saam met Afrikaans, die tale van my hart.  ”Die Vrystaatse landskap laat ’n mens natuurlik onwillekeurig aan Karel Schoeman dink.  “Sonder dat ek dit voorsien het, is daar in Susan se terugkoms na Suid-Afrika en daardie reis beslis eggo’s van Karel Schoeman se Ander Land. . . En sy reageer eintlik op ’n tipe Karel Schoeman-landskap; op daardie léégheid. En sy ril daarvan; sy kan eintlik nie daarna kyk nie.  “Ek het met my heel eerste skryfsels al daarvan bewus geraak dat ek Karel Schoeman se stem moet dóódkry in myself . . . En sy ritmes.  Die een ding wat ek dink ek ánders doen as Karel Schoeman , is dat ek ’n variasie van ritmes probeer.  Álmal is nie net afsplitsings van dieselfde soort gemoedstemming nie. Die ander ding is hierdie boek speel omtrent uitsluitlik in ’n vrou se kop af; ál die ruimtes is eintlik háár ruimtes.” (Onderhoud, Murray La Vita.)

 

  1. n Derde vraag is of hierdie ‘n oorlogsroman is.

In wese is dit nie, dis ‘n sielkundige reis deur die lewe en siel van ‘n getraumatiseerde vrou as slagoffer in die hande van die Britse mag; die mense in magsposisies.

As mens na die motiewe van die twee skrywers van Susan Nell se lewensverhaal kyk, toon dit duidelik die verskil:

Nico Moolman wil deur sy skrywe bewys dat die verhaal geskiedkundig, feitelik waar is en in die Boere-oorlog afgespeel het. Hy soek verbete na bewyse (grafte: van Alice Draper en die oop graf langsaan, ook van die joiner, Perry se foto’s, outentieke geskrifte en ook die tentnommer waarin hul in die kamp was.)  Sy verhaal Camp Whore  bewys as’t ware dat die verhaal wat Susan Nell se dogter vertel, waar is. Terwyl Smith dieselfde verhaal as roman herskryf het.

 

Joan Hambidge sê in hierdie verband, dat die gegewe van die Anglo-Boereoorlog hier op ‘n nuwe wyse bekyk word. Hier dink ek onwillekeurig ook aan  PG du Plessis se Feesmaal van die ongenooides  wat ook nuut deur die lens van ‘n Britse kameraman bekyk is. Smith bring hier ook die kameraman in: die gehèue, die áánklag, die gewète –  vir latere geslagte om te onthóu. Foto’s sê meer as bloot die prentjie.    Smith is aan die word: “Die fotograaf Jack Perry, wat ’n groot rol in Susan se lewe speel en heelwat kampfoto’s geneem het… ek het van sy foto’s gesien.  “Een bly my by: ’n onbekende meisie wat saam met twee ou, ou krygers gevange geneem is. Die twee Boere sit hangskouer op die perdekar met die maer merrie. Sy staan langsaan, uitdagend – ’n nimfagtige figuur, met ’n bos gekoekte hare. Jy kon dit vóél: die wilde seksualiteit… (onderhoud met Elmarie Rautenbach in Rapport 17 Augustus 2014).

Traumaliteratuur:  (verwys Chris van der Merwe se bundel: Die Houtbeen van St Sergius: Opstelle oor Afrikaanse romans 2014)

 

Na die twee wëreldoorloë in Europa het daar in Nederland n volksbeweging tot stand gekom, gekenmerk deur optimisme en die siening van ‘n oop samelewing . “Nederland sou daarvolgens ‘n voorbeeld vir die wêreld wees met ‘n liberale demokrasie en ‘n sekulêre tolleransie in ‘n multikulturele samelewing waar daar geen plek vir rassisme is nie.” (Van der Merwe 2014:282)  (Vergelyk ons reënboognasie.)   Hierdie sterk oorhel na die uiterste optimisme en tolleransie, kom egter nou, vandag,  onder groot druk in nederland, agv talle vreemdelinge wat hulle in Europa en Nederland vestig;  asook aanvalle en moord op Nederlanders en ander Westerse lande, (Twin Towers, en nou in Parys, Jan 2015, en Londen, die moltreinaanvalle).

In ons land is ons ook ontnugter.  Dit veroorsaak in Nederland en ook hier dat heel regse bewegings tot stand kom, met uitsluitings, vervolging en rasgedrewe sienings.

Vraag:  Sou mens kon sê die mens se oordeelsvermoë word dus aangetas deur kollektiewe trauma?

Traumaliteratuur – teorie:  (Volgens Paul Ricoeur en Chris van der Merwe.) Die mens vorm sy identiteit nie in isolasie nie, maar binne ‘n sosiale verband, en hy/sy kan nie in ‘n ivoortoring los van daardie sosiale verbondenheid groei nie. Die mens het ‘n verhaal, sy eie verhaal, wat ontwikkel – ‘n verlede, hede en toekoms – (mens beplan immers ook hoe jou lewe verloop), en die verhaal word ryk ingekleur deur ervarings van en interaksie met ander, met die hele sosiale, politieke, religieuse en ekonomiese bestel.

Trauma vernietig egter die skakels in jou verhaal wat dit koherent maak,  dit kan op beide vlakke, kollektief (oorlog) of individueel (verkragting) gebeur . Trauma word gekenmerk deur ‘n verlies van betekenis, ‘n versteuring van die identiteit wat tot stand gekom het; die getraumatiseerde kan nie verhaalsgewys in woorde meer sy verhaal vertel nie; hy kan nie sinvol na die gebeure kyk en afstand kry nie, stukke ontbreek. Trauma gebeur teen wil en dank, en die slagoffer is uitgelewer daaraan, hy kan die gang  daarvan nie beïnvloed of begryp nie. (Cilliers van den Berg en Hennie van Coller 2011: Litnet.  Postkoloniale Literatuur en die representasie van Trauma).

Hy/sy verloor sy  eiewaarde, vertroue in die medemens/gemeenskap, raak paranoïes, die geheue selektief.      Susan vertrou aanvanklik nie die twee Sotho’s nie, dink selfs hulle wil haar vet voer en slag… mens kan daaroor lag as dit nie so tragies is nie. Sy verloor haar kinderlike geloof en raak bang vir die oog van God, en die predikant;  die aanklaers!

Die getraumatiseerde beleef oor die algemeen ‘n verlamming.  Sy is willoos, wil nie dink oor vorentoe of agtertoe nie,  sy sit of lê in die grot, sy wil nie, kan nie dink nie.

As die trauma nie verwoord kan word nie, bly dit onverwerk.   Dus die verlies van taal, die woordeloosheid waarmee ‘n traumaslagoffer gelaat word is belangrik vir die skrywer  wat in dié narratief werk. lees bls 229 -230   bo (haar gesprek met tant Marie Koopmans-de Wet . )

Onbewus word die traumagebeure onderdrukte emosies: Susan onthou wat tant Marie vir haar gesê het:  “ek moet probeer om sonder die hoed te lewe anders sal die litteken die belangrikste ding in my lewe bly”  Sy moet nie wegsteek, onderdruk nie.

Die Skuldgevoel en selfhaat  is altyd teenwoordig – Hoer! Is al wat sy aanvanklik kan verwoord. .  lees bls 64 bo

Bladomslag:  Dui op selektiewe geheue. Dit wat sy wel in haar gedagtes kon sê:  Kamp en Hoer. Dit is dus hoe sy haarself gesien het, skuldig, nikswerd, skaamte.  As gevolg van trauma. Die jaartal is uitgekrap, want dis dubbelsinnig; haar sterfdatum en geboortedatum.

Getraumatiseerde mense voel hulle word magloos gelaat, hulle verloor hul greep op die werklikheid, hul beheer oor hul lewe en is slagoffers. Susan beleef haar verkragting as ‘n slagskaap; sy word aan die hakskeen gegryp, (verkragting ‘n vrou se Achilles hiel?) sy word gesleep, keel afgesny (kopwond) en haar ingewande uitgeryg..  So beleef sy dit, ‘n slagdier. God vind haar skuldig, sy sal geslag word, die offer is hoog om sonde te besweer…. Lees bls 64 

Getraumatiseerdes moet dus weer hul identiteit terugneem.  Instinktief weet Marie Koopmans- de Wet watter raad om te gee: “Vat jou naam terug. Jy is Susan Nell. (Draper) Dit is die enigste manier om weer te begin lewe, om jou naam terug te vat. Dit is die begin”. (Susan het Nederlandse identiteit aangeneem).

Slagoffers moet weer kan mag kan uitoefen  (OP Hamilton-Peak), emosies soos woede kan ervaar, en voel hulle is in beheer van hul  lewens.  Smith sê in ‘n onderhoud op Kwêla dat alhoewel die twee verkragters in werklikheid selfmoord gepleeg het na hul ontmoeting met Susan, wou hy sien wat kán gebeur as hy dit verander na vergelding en wraak en mag terugneem.

Hierdie emosies beleef Susan eers jare na die trauma gebeurtenis.

Daar is ‘n onderskeid tussen traumatiese gebeure en traumatiese herinnering: dit is veral in die herinnering dat die destruktiewe lê. Daardie rondwoel in die onderbewuste. Die pad na genesing is dus lank en  het moontlik geen einde nie.

Daarom kom herhalende herinneringsflitse gedurig voor, die getraumatiseerde probeer die episode oproep om sodoende weer ‘n greep op sy/haar eie lewe te kry. Hulle moet weer chronologies hul eie verhaal kan vertel; die hele verhaal! Die proses begin in die grot, waar sy slegs vervlietende beelde sien en in haar lyf beleef. Haar gedagtes is soos wanneer jy jou hand in ‘n waterpoel steek en die modder probeer optel: dit gaan  net wolkerig op in niks.

Freud en die psigoanalise.

Freud kan met reg gesien word as een van die mees invloedryke mense van die twintigste eeu. Hier verwys ek nie net na sy sielkundige benaderings nie, maar ook sy invloed op die kunste, literatuur en selfs hoe mense hul kinders grootmaak. Sy woordskeppings word wyd gebruik: ontkenning, katarsis, neuroties, repressie, libido,  projeksie, “Freudian slip”.

Hy was die vader van die psigoanalise (Sigmund Freud (1856-1939) en het geglo dat mense met geestessiektes, oa. soos angs en depressie, gesond kan word deur hulle bewus te maak van wat in hul onderbewuste aangaan, en sodoende insig in hulself en hul emosies, motiewe, dryfvere en vrese kry. Ervarings wat traumaties is word onderdruk en manifesteer as afwykende simptome; onopgeloste trauma werk  dus negatief in op ‘n mens se psige. Die doel van psigoanalise is dus om onderdrukte emosies en ervarings na die bewuste vlak te bring om dit sodoende te verstaan en te verwerk. Die begrip “katarsis” is ook hier ter sprake, ten einde die pad na gesond word te kan loop.  (LW In Nederland en Engeland was die twee psigiaters bewus van Susan se onderdrukte, onopgeloste emosies.  Sy vertel die verhaal, dus ontvou die wete stadig in haar bewuste “Jy is nie jou oorlog nie”.)

  • Sy konsepte oor bewussynsfunksies nl die ID, Ego en Superego is welbekend. Die ID opereer net in die onderbewuste en bevat die oorlewings- en selfdestruktiewe instinkte. (spanning tussen lewe en dood altyd teenwoordig!)  Aggressie is oa ook selfdestruktief.
  • Die Ego opereer in beide onderbewuste en bewuste vlak en help die persoon om in ‘n veilige omgewing wat die Id skep, sosiaal aan te pas.
  • Die Superego stel mens in staat om volgens moraliteitsbeginsels te ontwikkel om sosiaal aanvaarbaar te wees. Dit opereer ook in beide vlakke van bewussyn. Die superego sal dus skuld en skaamgevoelens voortbring en die Ego sal as skeidsregter optree. Hieruit ontwikkel die bekende verdediginsmeganismes:
  • Onderdrukking, ontkenning, projeksie, substitusie, regressie, sublimasie.

Die interpretasie van drome kom ook uit sy kamp en is die verwerking van die werklikheid (die dag of vorige dae se ervarings) met ‘n onderliggende, onderbewuste oplossing van probleme, of van onderdrukte gevoelens.. vgl. Susan se ontstellende en terugkerende drome.

Vergelyk dus hierdie verdedigingsmeganismes met Susan se verthaal se verloop en ook die volgende waarna Smith verwys:

Een van die dinge wat Smith  ontroer het terwyl hy vir Kamphoer

Navorsing gedoen het, was iets wat ’n amateur-historikus in sy Boereoorlog-boek geskryf het.

“Hy het vertel toe hy ’n kind was, het sy oupa en ouma, wat albei in die kon-

sentrasiekamp op Aliwal-Noord was, in daai stadium saam met hulle in die huis gewoon. En hulle het nooit ooit enigiets oor die oorlog gesê nie. Maar hy kan wél

onthou wanneer hulle huisgodsdiens gehou het, het hulle gesing. En wat hy

kan onthou, is sy oupa se lae, krakerige basstem . . . hier onder, donker; en sy

ouma se hoë, dún stemmetjie wat soos ’n vlermuis bo-oor sy oupa se dowwe ge-

kraak gefladder het. En as hulle gesing het, het hulle altyd só hartseer geraak

en begin huil.

“En as kind het hy vir sy pa-hulle ge-vra: ‘Hóékom is Ouma en Oupa so hart-

seer?’ Hulle het hom nie geantwoord nie. As volwassene het hy eers agter-

kom hóékom hulle so hartseer was.“Daar is goeters wat . . . intense erva-

rings wat dikwels . . . daardie mense wat dit ervaar het, het net nie die woor-

de daarvoor nie; kan eintlik nie daaroor praat nie

. . . Óf mense dink dis verby en probeer daaróór leef en dan kom dit op

allerhande maniere terug . . .”

Smith moes as’t ware homself vergewis van die ontwikkeling van die Psigiatrie van die tydperk en hoe die vrou se regte en voorregte gevorder het. Kon Susan studeer in die psigiatrie in Nederland in die tydperk?

Ook is die interessante hoek wat hy gebruik, om die Afrika- en Westerse psigiatrie by mekaar te laat aanklank vind, deur die navorsingswerk van WHR Rivers oor tradisionele medisyne van stamgemeenskappe by te werk. Hy was ’n psigiater wat baanbrekerswerk gedoen het oor die behandeling van wat die wêreld gedurende die Eerste Wêreldoorlog as “bomskok” leer ken het. Rivers was uiteindelik vir my ’n belangrike skakel tussen daardie grot waarin Susan Nell herstel het en die oorlogshospitaal waarin sy later gaan werk het

Nou moes hy die uitdaging aanpak, wat Prof vd Merwe gee vir skrywers van traumaliteratuur:

“Skrywers het die verbeelding sowel as die taalvermoë om litirêre narratiewe te skep wat traumatiese gebeure oortuigend weergee. Hulle kan trauma tot verhaal omskep deur die grense van taal te verskuif en nuwe narratiewe moontlikhede te bedink. In die kreatiewe proses kan hulle gebruik maak van allerlei styl- en struktuurmoontlikhede, wat kan help om die kompleksiteit van trauma outentiek weer te gee –

*aporia, ( weerspreking of onlogiese in die teks) . Susan is verward, dink selfs hulle gaan haar slag. Onlogies om HP op motorfiets te neem,  en te dink sy gaan hom red of vermoor…

*ambivalensie,  wanneer Susan  vir Hurst en Anne ontmoet het sy ambivalente gevoelens oor hulle,  vertrou hulle nie. Ook Jaques. Alhoewel hulle besondere vriende was , het sy hom verwar met haar ambivalente gevoelens: bls 104: “hy was stomverskrik, hy was doodbang vir wie en wat sy is”.    Die hele verhaal is ambivalent; haar verhaal word vertel, maar in werklikheid soek sy haar verhaal; boeiend is  die ambivalensie tussen vergewing of vergelding wanneer sy Hamilton-Peak ontmoet ; die motorfietsrit geen simplistiese beskrywing of oplossing nie. Die leser bly geboei.

*Woorde word aangewend om die karakter se psigologiese groei en ontwikkeling uit te beeld. Bv bls 109. Slagveld. Deurwurm, slagoffer, maar dan ook later die beeld van die lansier wat aangejaag kom op sy perd, lans laag om sy aanvallers  te deurboor. (Susan x Hamilton –Peak)

*Ooptes, ruimtes, spronge in tyd –  Volop in teks.

Smith erken in ‘n onderhoud dat die moeilikste aspek in die skryfproses op die taalvlak lê: om bepaalde stemmings, emosies, ritmes, en klanke in taal gestalte te laat kry (Naomi Meyer)   Poësie–“Ek kan net hierdie een hoofstuk (10, bls 72 – 73))  lees en julle kan self oordeel:

*en ironie.”  (Van der Merwe2014:286).

Ironie:  Oorlog trek haar . bls 40  “Sy het op die boot al daaroor gedink; dat sy hierheen gedryf is deur ‘n krag in haar waarvan sy heeltemal onbewus was” (onbewuste stuur haar na genesing, dit wat sy nodig sal hê).  Sy kry ook dieselfde gevoel as sy per boot Engeland toe reis na die hospitaal vir bomskok pasiënte. Sy is deur drie werklike oorloë, maar haar eie oorlog op individuele vlak bly saam met haar, reis haar lewe deur saam.

Ironie : Bomskok; bls 40 word goed beskryf en bls 47 die ironie..

Britte se oorlog : Ironie  bls 160. “Dinge het verander sedert die oorlog (vroue se stand) . Dis ‘n mooi oorlog, pragtig, hierdie Britte s’n; jy kan jou nie ‘n mooier oorlog voorstel nie.” 

Karakterontwikkeling;  tyd en ruimte

Hierdie twee temas loop saam.  Die skrywer slaag uitstekend daarin om in die gedagtewêreld van Susan te klim. As mens mooi dink, jou gedagtes is gedurig aan die beweeg in tyd, vorentoe, agtertoe, vér agtertoe, huidig.  Dit is eintlik normaal. Maar vir die skrywer is dit ‘n groot uitdaging. Hy moet self tred hou met die ruimtelikheid wat hy skep.

“Ek het met twee sleuteltonele begin: daardie oomblik toe sy die naam van haar verkragter op die deur van ’n kamer in ’n Britse militêre hospitaal herken, en die moment sestien jaar vroeër toe sy as agtienjarige ná haar trauma in ’n grot naby Winburg ontwaak. Ek het geweet ek wil twee stemme gebruik: die vrou as volwassene en as kind. Van hierdie twee aanvangsmomente het die twee verhaalstringe uitgegroei en verweef geraak op maniere wat ek nie voorsien het nie. Stelselmatig het ek agtergekom die een string is ’n beweging vanuit die duister na die lig; die ander ’n teenoorgestelde beweging, vanuit die lig na die donkerte. Maar alles het in die laaste instansie in taal plaasgevind. Dit is waarmee ’n skrywer werk, dit is sy materiaal. Per slot van rekening gaan dit dan oor vakmanskap, oor hoe jy in taal iets geloofwaardigs en aangrypends skep.” (Johnathan Amid onderhoud: LitNet)

Wanneer Susan die onmiddellikheid van die trauma beleef, vertel sy in die eerste persoon, sy is daar; intens, eerstehands, verrinneweerd.  Maar wanneer sy haar verhaal vertel in Europa en Engeland, is dit in die derde persoon. Sy probeer afstand kry, die psigoterapie wat sy bestudeer het, leer haar so.

Die uitbeelding van hoe die hoofkarakter ontwikkel ,  word met intense emosie, fyn en raak beskrywings, beelde en flitse ge-illustreer.  Ritmies, soos poësie. Mens kan saam met haar die verskrikking en verwarring aanvoel.  As mens die boek begin lees, is jy verward; soos die karakter.  Dit begin by ‘n katarsis en werk agtertoe en vorentoe.  En algaande kom mens die verhaal agter. Prof Chris van der Merwe noem dit: “tot verhaal kom”  dis juis die gesegde wat hier goed tot sy reg kom. Elke mens het ‘n verhaal, (sielkunde) en trauma laat jou jou eie verhaal vergeet, breek jou eie verhaal in brokkies en stukkies, en jy sal self die pad moet loop, die pen moet opneem, of in gesproke taal weer “tot verhaal” moet kom. Sodat dit alles weer sinvol in plek val.

Dis dan ook die raad wat die ou Sotho haar gee, gebore uit  voorvader -wysheid:   (94 -95).  Die voormense, die Baroa het die rotstekeninge gemaak,  sodat hulle kan onthou van die oertyd, hulle mag nie vergeet waar hulle voorvaders vandaan kom nie.  Tiisetso sê vir haar sy sal self die pad moet loop en haar eie beeste moet gaan haal uit die verlede, sy moet teruggaan en onthou, die verlede se spoke besweer; die pad alleen loop. . Sy moet die spikkelkoei, die een met baie kolletjies soos ‘n tarentaal, gaan soek, is sy raad. Dit herinner sterk aan DJ Opperman se gedig: “Sprokie van ‘n Spikkelkoei”  wat ‘n fabel is oor skuld en vergelding.  . Sy moet haar spikkelkoei, gaan soek en konfronteer.  Hier is dus die spanningslyn:  tussen fabel en die bonatuurlike , tussen die Westerse en Afrika stamkultuur -psigoanalise,  waaroor Rivers navorsing gedoen het, en wat Susan gefassineer het in Nederland, sy het die metodes toegepas op die pasiënte in die hospitaal in Devon.  Met sang en suggestiebls 96 . Sy het self  die trapeutiese krag van musiek en stories en dans ervaar met die gesingery en dansery van Tiitsetso en Mmamella; dat dit haar gedagtes lig maak,  haar laat onthou van die verlede maar ook vergeet, asof in ‘n trans.  Vir Hurst sê sy die singery laat haar pasiënte dinge uit die verlede onthou, assosiasies en sang is baie sterk, en dit maak die seer draagliker. Op Bls 129 sê sy vir Hurst: “ dat mens deur verhale, soos met liedjies, by die bron van jou genesing kan uitkom En dat genesing en vernietiging dikwels nie van mekaar onderskei kan word nie”  – weer ambivalensie.

Dit is juis die tyd in die grot met die terapie wat Tiisetso en Mamello toegepas het (nie onbewus nie?) en die gesprek met Jack Perry  in Kaapstad wat Susan laat besluit het om in die sielkunde opgelei te word.  Is dit nie dalk een van die aansporings in menige sielkundiges se beroepskeuse nie? Die beleef van eie of naastes, se trauma ?  ”Haar lewenspad het gelei na daardie wonde wat die diepste lê en die stadigste gesond word, die wonde aan die siel.

Susan sê op verskeie plekke dat sy weer gebore is; in die grot, die baarmoeder.  Dat sy twee geboortedatums het en ook ‘n sterfdatum. Bls 241- 242.  Haar tweede stel ouers, die Sotho’s Mamello en Tiisetso kom sterker op die voorgrond as haar eie ouers, want hulle het help rigting gee, help genees, help mens word en haar weer op haar pad gesit.

Sy beleef haar eerste katarsis (Freud) wanneer Mamello haar reinig,  haar fisies help skoon kom , maar dit word ‘n religieuse ritueel, Susan word innerlik gesuiwer; sy huil vir die eerste keer en sit met haar eie liggaam in vrede. Lees bls 114- 115.

Met haar aankoms in Nederland beleef sy die vals euforie en glo sy vas, dat sy hier sal kan leef en oorleef, en soos die mense daar, “so volstrek afsydig, asof agter glas, deur daardie wêreld (kan) loop.  En sy het gedink: “So hoort dit. So kan ‘n mens leef, in hierdie absolute vreemdheid, in algehele afsydigheid.”  Die absolute onderdrukking van emosies in die onderbewuste. Bls 243. Dis ook hoe sy haar “verhouding” met Jaques beskryf en beleef. Afsydig, onaangeraak, sy stoot hom weg.

Sy gaan Engeland toe omdat daar nou sale vol mense lê wie se binneste ‘n spelonk vol vlieënde bomskerwe geword het . ‘Dis die ménse in die oorlog wat my trek’, het sy gesê” (bls 43). Dit is egter ‘n teenstrydigheid met wie sy vir die wêreld gewys het sy is: Ongevoelig en afsydig. Die verhaal word dan baie slim verweef rondom die twee rigtings en raakpunte in die psigiatrie, deur die werk van Rivers en Freud toe te pas in die ontwikkeling van Susan Nell se lewe.

Maar ‘n gedurige spanning word in haar uitgebeeld.  Bls 192 , 219  Sy was later nie eers bewus daarvan nie.  Frommeling van haar rok, ‘n gedurige onbewuste handeling. As sy met Hurst praat,  is sy altyd bedag op wat om te sê en wat nie. Sy leef dus ‘n leuen, steeds. Het nog nie vrede met haar identiteit gemaak nie, wil nie sê sy kom van Suid-Afrika nie. Die onthou maak haar steeds senu-agtig.

Verwarde Seksualiteit is altyd ‘n ondertoon. By die skuld en skaamte.

Bls 161 – steeds in Engeland het sy nog die gevoel; , toe sy alleen pub toe gaan, voel sy hoe almal haar aankyk:  Vroualleen, Hoer!

Die geval in die skeepsruim met die Hollanders oppad van Kaapstad  Holland toe  bls 190 en verder  lees. Haar wegskram van enige lyflike aanraking, ook  op die posboot na Devon.  Met Jaques, haar sg geliefde; kyke wat soldate haar gee, asook mans oor die algemeen, grynsend met hulle bolip weggetrek soos ‘n spuls ramerg.

Haar tweede katarsis; die ontmoeting met Hamilton-Peak.  Sy is verlam, die naam wat sy nooit kon sê nie, word deur Hurst genoem: “en dis asof sy met die noem van daardie naam opgeraap word –sy voel die rukking asof sy in die oog van ‘n warrelwind staan  – en neergesmyt word tussen ‘n werpsel tente op ‘n godverlate Vrystaatse vlakte”.  (p9) Sy sien eerste die oor raak, (baie goeie beskrywing) .  Sy eien haar verkragter aan die hap in die oor, dis haaar merk.  Sy het hom ook soos ‘n skaap gemerk! Let op die sterk emosie wat loskom. Lees p 8.

Haar derde katarsis is wanneer die woede losbreek. Sy wil hom doodmaak. Die ambivalensie word beskryf, gaan sy hom doodmaak of gesond? Hoe gaan sy dit doen?

Hy was die verkragter en sy die slagoffer; nou is dit byna asof sy hóm verkrag. Sy voel die krag van die motorfiets se enjin en sien hoe Hamilton-Peake se gesig vertrek is van vrees en afgryse. Sy is meedoënloos en hard, haar lag is soos die gegier van ’n roofvoël (181). Dit is haar manier om die mag en beheer terug te kry wat sy verloor het toe sy verkrag is. Hamilton-Peake moet weet wie sy is en gekonfronteer word met wat hy aan haar gedoen het; hy moet sy rol as die skuldige in die storie erken en haar as die verontregte eien. Daarom neem Susan sy hand in hare en laat hom voel aan die litteken aan haar kop, die plek waar hy haar indertyd met ’n whiskybottel getref het. Kort hierna sterf Hamilton-Peake, en dit lyk of die motorfietsrit die direkte oorsaak van sy dood was. Susan het haar wraak gekry; die magtelose vrou het beheer herwin; sy het oorleef en hy het ondergegaan.

Deur die afrekening met Hamilton-Peake het Susan aan haar verhaal ’n tipe voltooiing verskaf. Maar ook dit is nie so ’n eenvoudige saak nie. (Van der Merwe LitNet Akademies -resensie – essay)

Sy sê sy het Hamilton-Peake doodgemaak, nadat sy aanvanklik dit nie erken het nie, Hurst het haar egter verontskuldig en toe word sy woedend dat hulle, Hurst en Anne die taak van haar durf wegvat. Dis sy wat hom doodgemaak het, Bls 222 …”daar neem sy ‘n greep op haar lewe en sê: “ek het hom doodgemaak”.  Maar Hurst het haar aangekyk en rustig gesê: “dan is dit afgehandel” (subteks  “Jy word gesond, jy het jou spook en werklike aanvaller begrawe.)  . Susan besef gaandeweg “ Jy is nie jou oorlog nie” Jy moet jouself losmaak van jou oorlog ten einde jouself terug te kry. bls 48

Terug by Reymaker in Nederland sê Susan “Ek was omtrent in ‘n oorlog”. LEES bls 232

Ten slotte:

Reis gedagtes: ‘n  Mens se lewe is ‘n reis. Hare het twee keer begin Op  Bls 197 sê sy soms is dit beter dat ‘n reis vroeg eindig.  Dit sluit aan by die tweespalt ; begin en einde; tuiswees of gedurig op reis wees:

Susan het tot verhaal gekom. Sy het afsydig agter glas en ys geleef,  ” totdat die Groot Oorlog uitbreek en iets soos ys in haar laat kraak het “ lees verder bls 243

Notas en bespreking deur  Mariana Celliers
Mariana Celliers

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s