Notas by die bespreking van Die blou van Onthou – Marita van der Vyver

Marita van der Vyver is in 1958 gebore in Kaapstad en behaal ‘n meestersgraad in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Tussen die ouderdom van 20 en 30 publiseer sy drie jeugromans voordat haar eerste volwasse roman, Griet skryf ‘n sprokie, in 1992 ‘n blitsverkoper en ‘n literêre sensasie word. Die boek is bekroon met drie van die mees gesogte literêre pryse in Suid-Afrika: die M-Net, die ATKV en die Eugène Marais pryse. Sedertdien het sy ‘n heeltydse en veelsydige skrywer vir alle ouderdomme geword, met ‘n tiental romans, kortverhale, twee versamelings van humoristiese essays, prenteboeke vir kleuters, kosboeke, talle kortverhale en essays in versamelbundels, en gereelde rubrieke in koerante en tydskrifte. Sy het reeds verskeie pryse vir haar skryfwerk gewen, asook ‘n internasionale studiebeurs van die SA Stigting vir Skeppende Kunste, en in 1997 is sy genooi om deel te neem aan die bekende International Writers Program van die Universiteit van Iowa in die VSA. Haar volwasse romans word deurgaans in Engels, Hollands en Duits vertaal, terwyl Griet skryf ‘n sprokie in sowat ‘n dosyn tale gepubliseer is. Dit was die eerste Afrikaanse roman ooit wat in Chinees vertaal is, en het meer onlangs ook in Yslands verskyn. Marita woon op ‘n klein dorpie in die suide van Frankryk saam met haar Franse man, Alain Claisse. (Spreek uit Alluhn Kless) Hulle het 3 seuns en ‘n dogter.

Marita het volledig dagboek gehou van die skryf van Die blou van onthou, (sy is ʼn ou dagboeker), deesdae is dit maklik om dit op ʼn blog te doen. Die proses van navorsing en skryf vir hierdie boek het byna twee jaar geduur, beginnende op Vrydag 18 Maart 2011.

Frustrasie! Want ek moet aan die skryf kom aan die nuwe storie. Dis nou al maande dat al my tyd en energie opgeslurp word deur die werk aan die nuwe huis, die trek na die nuwe huis, die inpak in die ou huis en die uitpak in die nuwe huis. Nou’s ek al 2 weke terug van my salige somervakansie in SA en die 1ste hoofstuk van die storie het vorm gekry in my kop, maar voordat dit ook op papier kan vorm kry, moet ek die chaos in my werkvertrek regruk.

Intussen doen ek ure lank navorsing op internet, net om darem te voel ek vorder ‘n paar treë vorentoe, so tussen die boeke wat ek alfabeties op die rakke moet rangskik. Te veel boeke, te min rakke, the story of my life. 

Gister binne ‘n uur via Google meer geleer oor Portugese teëls (azulejos) as ooit tevore in my lewe. Vroeër in die week wonderlike video-materiaal oor die Eeufees- Ossewatrek van 1938 ook op internet opgespoor. Dit was die kliek wat ek in my kop moes hoor voordat ek kon begin skryf. Veral Totius se woorde in daardie outydse stem: ‘Dit is ‘n wonder vir ons oë. Ons sien dit, maar ons deurgrond dit nie.’ Miskien, het ek gedink, miskien het ek hier ‘n inleidingsparagraaf…

Toe nie. Sy doen baie navorsing oor detail oor Kaapstad in die 40’s en 50’s en het die storie gemaak pas tussen info wat sy kon kry. Die later dele kon sy put uit haar eie ervaring en herinneringe, asook haar eie dagboeke, ook dié wat sy geskryf het tydens ʼn reis in Portugal toe sy jonger was.

Sy maak baie interessante ontdekkings met haar navorsing. Eers ‘n blog van ‘n Britse soldaat wat in Aug 1942 ‘n paar dae in Kaapstad deurgebring het – net mooi ‘n maand voordat my karakter saam met haar ma in Kaapstad moet inkopies doen en fliek – en 2 keer by 2 verskillende bioskoopsale gaan fliek het. Met beskrywings van die geboue, die films, selfs ‘n foto van ‘n kaartjie vir die vertoning in die Plaza Theatre. Selfs die prys van die kaartjie!

… maar nou haak ek al 2 dae vas op die drumpel van hfst 9, moeilikste deel tot dusver, waar ek na ‘n ek-verteller moet oorskakel, heel nuwe toon, want hier kom ons nou by die deel uit haar dagboek wat haar dogter jare later gaan ontdek. En as ek hierdie lewensbelangrike 3 weke in Portugal behoorlik wil beskryf, moet ek deegliker as ooit navorsing doen. Oor Portugese landskap, dorpe, kerke, politiek van 1960, en bowenal oor azulejos, die geglasuurde keramiekteëls waarom alles draai. Of wat die bal aan die rol moet kry.

Hierdie keer het ek nie net internet gebruik nie, maar ook teruggegaan na die dagboek wat ek in 1980 gedurende my eerste reis in Portugal gehou het. Lekker bruikbare stukkies daarin ook gevind. Selfs ‘n verwysing na Portugese teëls, laaank voor ek geweet het ek gaan eendag ‘n storie skryf waarin Portugese teëls ‘n rol speel.

Driekwart deur die Portugese pelgrimstog. Die grootste uitdaging hier is om die joernaalinskrywings kort en kragtig te hou. Nie gestroop nie, ek wil die emosie behou, maar die hele affêre moet nie uitgespel en uitgerek word nie. Eintlik is dit die grootste uitdaging van die hele teks tot dusver – om amper dertig jaar in die lewe van ‘n karakter in kort flitse van herinneringe te vertel. En dan moet ek dit weer ‘n keer doen met die tweede karakter. En weer ‘n keer met die derde karakter.

Geskiedenis word ook heeltyd betrek, bv om die 2e deel in te lui sê sy: Ek het geweet die jaar moet 1966 wees, en die toneel sal iets te doen hê met die moord op Verwoerd, maar die hoe en wie en waar kon ek net nie agtermekaar kry nie. Eers gedink aan Verwoerd se begrafnis in Pretoria, waar Nandi en haar ma by die skoonfamilie kuier, maar toe besef ek gister natúúrlik moet dit in die Kaap wees, in die huis waar Nandi se ma grootgeword het, om al daardie bekende karakters weer ‘n slag by die storie te betrek

Maart 1992, Referendumdag, en Tina en Charlynn kyk na die ou papierpoppe en gesels oor keuses. Nie politieke keuses in hulle geval nie. Keuses oor hulle ma’s. Wie’s jou regte ma? Die een uit wie se maag jy kom? Of die een wat jou die liefste het?

Al skryf ek tot ek 100 jaar oud word, sal dit seker nooit net doodgewoon maklik word nie. Anders gestel, as dit die dag maklik word, sal ek weet dis tyd om op te hou. Om deesdae ‘n roman te skryf, het jy 1 persent inspirasie nodig, and 99 percent staying away from Facebook.

Die storie in kort:

In die skemer van haar lewe kry Colette Cronjé ’n brief van ’n lank vermiste familielid. Dit kom uit Portugal en dit dwing haar om alles te onthou wat sy ’n leeftyd lank probeer vergeet het. Want wat ’n halwe eeu gelede in Portugal gebeur het, het haar eie lewe asook dié van die volgende twee geslagte onherroeplik verander.

Haar dogter, Nandi, se verset teen haar ouers en haar afkoms is so verreikend dat sy haar kind vir aanneming weggee, en alleen oorsee vlug en alle bande met haar familie verbreek. Haar kleindogter, Tina, word groot sonder om haar bloedfamilie te leer ken. Maar bloed bly bloed, jou familie bly jou familie, en jou taal bly jou taal. Daarom word dit die verhaal van ‘n Afrikaanse familie, van drie opeenvolgende geslagte wat reageer op mekaar en op hul tyd, van drie vroue wat leef in die spanning tussen weggaan en moet bly, tussen vergeet en móét onthou.

Vir die bespreking steun ek swaar op die resensies van Elbie Adendorf, Gerda Taljaard en Christell Stander. (Ek gebruik dele, veral van Adendorf se resensie, verbatim)

Die blou van onthou handel oor die tema van onthou, soos in die titel voorspel word. Maar dit is nie net ’n onthou van die verlede ter herinnering nie, maar ’n onthou van ontbloting en ’n onthou om by versoening en genesing uit te kom. Colette skryf juis in ’n e-pos aan Tina: “Die onthouduiwel bring geen helderheid nie, net verlange en deurmekaar drome.” In ’n ander e-pos skryf sy: “Blou is die kleur van onthou, dit weet ek nou. Blou soos die teëls in Portugal, waar ons almal se stories begin het, myne en my dogter en my kleindogter s’n. Teen dié tyd is ek van kop tot tone blou van al die onthou.”

Elbie Adendorf op LitNet:

Dit is die verhaal van drie vroue se “stories” wat begin met “Colette se swygstories”, gevolg word deur “Nandi se liegstories” en eindig met “Tina se onthoustories”. Die drie titels, asook die motto wat na elke verhaaltitel uit ’n belangrike literêre werk gegee word, gee reeds aanduidings van die belangrikste motief wat in elke verhaalstruktuur na vore kom. In die eerste verhaalstruktuur, met die motto uit Shakespeare se Hamlet: “Yea, from the table of my memory, I’ll wipe away all trivial fond records”, swyg Colette oor wie die pa van haar kind is. Die tweede vertelstruktuur, met die motto uit Robert Louis Stevenson se Virginibus Puerisque: “The cruellest lies are often told in silence”, verwoord Nandi se opstand teen veral die leuens van haar ma, Colette. In die laaste vertelstruktuur, met Ronelda S Kamfer se gedig “oorvertel 5” as motto, moet Tina, die kleindogter van Colette, die drie verhale bymekaar uitbring deur die onthou van die verlede by die nou van vandag uit te bring.

Binne elke vertelling van die drie vroue word ander vertelvorme, soos e-posse, briewe en ’n reisjoernaal, ook gebruik. Dit is veral die reisjoernaal van Colette wat die drie verhale koppel. Colette vertel in die reisjoernaal van haar reis na Portugal en die ontmoeting met die teëlmaker Fernando. Nandi vind die reisjoernaal tussen haar oorlede pa se dokumente en dit wat sy daar lees, lei tot haar verset teen haar ma. Tina gebruik die reisjoernaal om terug op haar ouma se spore te gaan en sodoende dan ook die kringloop te voltooi.

Die verhale van drie vrouekarakters en hulle lotgevalle binne die Suid-Afrikaanse konteks, is natuurlik nie ’n nuwe gegewe in die Afrikaanse literatuur nie en sluit aan by ’n bekende literêre tradisie waar die persoonlike lewe(ns) van die karakter(s) gekoppel word aan die breë Suid-Afrikaanse en wêreldse geskiedenis. (Agaat, Marlene van Niekerk en Elsa Joubert se Reise van Isobelle)

Die roman bied ’n chronologiese blik op 70 jaar se Suid-Afrikaanse geskiedenis: vanaf die geskiedkundige Ossewatrek van 1938 tot Verwoerd se dood, die sewentigerjare se skoleprotes, die tagtiger- en negentigerjare se politieke protes en die grensoorlog, die einde van apartheid en selfs hoe dit is om in die Nuwe Suid-Afrika te leef. Binne hierdie Suid-Afrikaanse geskiedenis is daar die familie se standpunte oor die land se politieke geskiedenis. So byvoorbeeld is daar Colette se een broer wat ’n ondersteuner van apartheid is, terwyl die ander broer ’n sterk teenstander daarvan is. Ouboet was vir my te oulik!

Die drie vroue se verhale word nie net met die land se verhaal gekoppel nie, maar ook met belangrike wêreldgebeure, soos Neil Armstrong se maanlanding, prinses Diana se afsterwe in 1997 en die aanval op die Twee Torings in 2001. Binne die drie vroue se verhale word die land en die wêreld se geskiedenis verder herskep met verwysings na kleredrag, musiek, boeke en haarstyle. (Hierdie dinge het haar grys hare gegee, om presies in te pas by die verhaal, skryf sy op haar blog.) Vir my het dit bietjie geforseerd voorgekom, asof dit te doelbewus ingepas word.

Die roman verwoord die bekende tema van die moeder-dogter-verhouding, aangesien dit die verhaal van drie geslagte vroue, ouma – ma – kleinkind, vertel. Elkeen van hierdie verhale bevat ’n chronologiese vertelling vanaf klein dogtertjie tot volwasse vrou. In hierdie ma-dogter-tema is daar die onstuimige verhoudings en opstand teen die ma-figuur, soos veral oorgedra deur Nandi. Daar is ook die immerbekende temas van verlies, veral die verlies van ’n kind en die liefde, veral die romantiese liefde vir ’n man. Binne hierdie temas word ook subtiel kommentaar gelewer oor die lotgevalle van vrou-wees deur die eeue.

Dit is veral ’n reisverhaal. Deur die drie hoofkarakters se oë leer die leser verskillende plekke in Suid-Afrika, maar ook in die buiteland, en veral Portugal, ken. Die reis na Portugal is iets nuut in Van der Vyver se skryfwerk nadat sy reeds Frankryk as landskap in etlike van haar werke gebruik het. Portugal as belangrike ruimte word reeds in die titel gesuggereer, aangesien die blou Azulejos ’n belangrike argitektoniese kenmerk van Portugal is. “Azul” is die Portugees vir blou, die tradisionele kleur van “azulejos”, waarvan teëlkuns in Portugal gemaak word. Net soos elke teël noodsaaklik is om ’n volledige “teëlskildery” te vorm, so is die onthou van elke herinnering, hoe pynlik ook, belangrik om ’n volwaardige mens te maak. (Tema) Ander verbindings met Portugal is die fado en die saudade (ʼn Onvertaalbare woord, dit beskryf ‘n diep emosionele toestand van nostalgiese of diep melancholiese verlange na ‘n afwesige iets of iemand wat ‘n mens lief het). Ken ons nie almal daardie hunkering nie? Amper na onsself?

Reise na Portugal koppel al drie die verhale, maar veral die eerste en laaste verhale van Colette en Tina, aangesien dit die drie verhale tot voltooiing bring. Marita self is baie lief vir Portugal, en het hierdie maand juis weer op haar spore gaan loop onder andere in Sintra, Porto, Evora en Lisboa. Sy beskryf Porto so op Facebook: Porto is now officially on my list of favourite cities. Like Paris it gets better with every visit.

Al drie die vroue is Portugal toe om “hulle daar te gaan vind”, soos die roman dit stel. Colette reis na Portugal omdat sy moeg was vir die Engelse koue weer en vryheid wou smaak voordat sy en Hannes sou trou; Nandi reis soontoe om haar pa te gaan opspoor en op haar ma en pa se voetspore terug te gaan; en Tina loop ook terug op die voetspore om haar Portugese oupa te gaan soek: “Sy sal hom vind, lewend of dood, ter wille van haar ouma. Ter nagedagtenis aan haar ma. En vir haarself ook, sodat sy die einde van hierdie storie kan leer ken.”

Tog kom ander reisvorme ook in die roman voor: daar is die verbeeldingsreise van die dogtertjies as daar met die papierpoppe gespeel word; daar is die dagga-reise van Nandi; daar is reise deur die geskiedenis; daar is die liefdesreise van die drie vroue, maar ook van die ander karakters; en dan is daar ook veral die lewensreise.

Twee ander belangrike herhalende motiewe bind die drie vroue se verhale: die teëlskilderye in Portugal en die papierpoppe. Die teëls koppel met “blou”, ’n belangrike woord wat reeds in die titel prominensie kry. Die teëls vorm saam een teëlskildery. In elkeen van die verhale kry die teëlskilderye prominensie en het dit ’n uitwerking op hulle.

Die skoendoos vol papierpoppe word van een geslag na die volgende geslag oorgedra, uiteindelik ook na Tina, wie se enigste verbintenis met haar ma is. Die papierpoppe bind dus nie net die drie geslagte vroue nie, maar raak ’n simbool van hoe vroue deur die eeue verander het. Eers was daar die onderdanige vroue, daarna was daar die opstandige vroue, en dan was daar die dapper vroue, want in Colette se ma se woorde: “Dit was nog nooit ’n grap om ’n vrou te wees nie. Veral nie in Afrika nie.” Belangrik is ook die oorgee van die papierpoppe aan die bruin familie se vroue om hulle lotgevalle ook te betrek. Politieke statement. Dan ook, simboliseer Clark se af voet vir my die man wat minder mag het oor die vrou.

Van der Vyver maak gebruik van intertekstualiteit deur middel van verwysings na ander literêre werke om die verhaal tyd-ruimtelik te situeer, maar ook om ’n dieper nuanse aan die verhaal te gee. (Hierdie is nie my woorde nie!) Die verwysings na die Portugese digter Fernando Pessoa kom herhalend voor en is belangrik, aangesien hy motiewe soos reis, liefde en die drie vroue se verhale koppel. Die teëlmaker, wat veral in die eerste vertelling ’n belangrike rol speel, is ’n naamgenoot van Fernando Pessoa.

Die intertekste met Afrikaanse digters soos Totius, Elisabeth Eybers en Eugène Marais, en ook met Afrikaans liedjies en gesegdes, word veral gebruik om Colette se pa se liefde vir Afrikaans aan die nageslagte oor te dra. Nandi verwoord dit soos volg: “Maar meer as enigiets anders sal ek sy liefde vir sy taal onthou. Nee, dis meer as liefde, dis ’n soort versotheid, soos ’n jong seun wat op ’n stunning girl verlief raak en nie sy geluk kan glo as sy hom toelaat om aan haar te raak nie. Oupa het sy lewe lank daardie jong seun gebly en die stunning girl se naam is Afrikaans.”

Die Portugese digter Fernando Pessoa, na wie telkens in hierdie roman verwys word, merk op dat “daar skepe [is] wat na vele hawens vaar, maar nie ’n enkele een gaan na ’n bestemming waar daar nie pyn wag nie. En daar is geen hawe waar dit moontlik is om te vergeet nie”.

Daar is dus ook ander, figuurlike reise hier ter sprake: verbeeldingsvlugte, dagga-trips, kopreise en lewensreise. ’n “Reis” deur Suid-Afrika se geskiedenis – van die opkoms van Afrikanernasionalisme, die sluipmoord op Verwoerd, die Soweto-opstande, die grensoorlog, die “Groot Krokodil” se swaaiende vinger en die einde van apartheid tot die geweld van die Nuwe Suid-Afrika.

Daar is ook erotiese reise wanneer Colette se minnaar se liggaam ’n “padkaart” word: “Teen hierdie tyd is die herinneringe van my beminde se lyf en my beminde se land so deurmekaar geknoop dat ek nie meer kop of straat kan uitmaak nie. Dorp of stert. As ek aan Lissabon dink, sien ek sy tong tussen sy tande. Of sy gespierde dye. Sintra roep sy breë bruin borskas op, Coimbra sy sagte oorlobbe  ...

Christell Stander: Die beheersdheid waarmee sensualiteit gedurig op die grens tussen blootstelling en ontbloting gehou word, is die prysenswaardige aspek van die roman. Dit is die subtiliteit van afwagting, verlange, versugting wat die leser aan die lees hou.

Die verlies van taal kom ook ter sprake, daarom dokumenteer Van der Vyver verskeie Afrikaanse gesegdes, volksliedjies en woorde soos “perdebylyfie”, “Boesmanstêre” en “lanterfanter”, of sy bang is dat die “soetste taal”, “die mooiste taal op aarde”, haar gaan ontglip.

In ’n Stilet-artikel redeneer Sonja Loots dat romans as “geheuemuseums” kan dien om kultuurerfenis te bewaar omdat daar in hedendaagse Afrikaanse romans ’n bewustheid van die gemarginaliseerde posisie van Afrikaans is. Dit blyk dus of ook Van der Vyver probeer om vergete of kwynende kultuurgoed te dokumenteer. Sy doen dit egter sonder om van die land se pynlike en omstrede verlede te vergeet.

Kritiek:

In Christell Stander se resensie sê sy wanneer die roman naas ander epiese werke in Afrikaans gelees word, is die bydrae tot hierdie genre nie van dieselfde omvang as grensverskuiwende werke soos Hierdie lewe van Karel Schoeman, of die werk van Marlene van Niekerk, André Brink, Etienne van Heerden en Elsa Joubert nie. Crito (die resensent van resensente) kritiseer Stander oor hierdie punt, waarom die vergelyking?

Beide Stander en Gerda Taljaard voel daar is iets voorspelbaars aan die wyse waarop Suid-Afrikaanse politieke landmerke telkens gebruik word as fokuspunte vir insiggewende familie-oomblikke. (Waarmee ek saamstem, die doelbewustheid waarmee dit ingevleg word, bly lyk soos wat dit gedoen is – doelbewus.)

Christell Stander: Enersyds kan die terloopsheid waarmee die langstaande verhouding met die huishulp beskryf word ook as ’n simptoom van oorgang tot hedendaagse nie-rassigheid gelees word. Andersyds geskied dit dalk weereens ten koste van diepte.

Sy reken ook dat die potensiaal van die romangegewens nie tot hul volle reg kom binne die struktuur en aanbieding daarvan nie.

Self dink ek dat die karakters te ‘slim’ is met die wysheid en perspektief van nabetragting van die skrywer. ʼn Leser het gekla dat die tydspronge binneverhaalstukture verwarrend is, maar vir my was dit slim. ʼn Ander leser voel dat sy as leser ʼn buitestaander bly voel het, en dat sy nie kon assosieer met een van die karakters nie. Omdat sy in dieselfde tydgleuf grootgeword het, wou sy beter kon assosieer

Crito kritiseer al die resensente, dat hulle nie die betekenisvolheid van die naam Colette onder loep geneem het nie. Vir my is dit toe ‘n aanduiding dat daar iets moet wees. Die Franse skrywer Colette het klaarblyklik nie ‘n goeie verhouding met haar dogter Bel-Gazou gehad het nie. Sy het haar ma blykbaar beskuldig dat sy nie ‘n kind wou hê nie, en haar in die sorg van ‘n Engelse nanny gelos het. Op ʼn vraag aan die skrywer self sê sy: Ek haat dit om my eie werk op ‘n pretensieuse manier te ontleed, so al wat ek sal sê, is dat ek nooit ‘n karakter se naam sonder ‘n goeie rede kies nie. En dat Crito slim is. Marleen van Wyk met ook op dat die naam Nandi kan dui op koning Shaka se ma, wat sterk vrou beteken.

Van der Vyver het haar reeds as skrywer binne die Afrikaanse literêre sisteem bewys. Sy skryf met ’n fyn ingesteldheid teenoor haar lesers en haar werk ’n toeganklikheid wat nie aan alle Afrikaanse skrywers toegeskryf kan word nie.

Dalk is die tipiese romantiese slot van die twee geliefdes wat bymekaar uitkom, te voorspelbaar, maar hierdie is ’n boek wat gerus gelees kan word, want dit verwoord nie net die “blou onthou” van drie vroue nie, maar ook elke leser se “blou onthou”.

As geheel sluit die roman aan by die melancholiese styl van die oorspronklike fado’s in Portugese musiek. In die ewig verlangende liefde na ’n afwesige minnaar, in saudade, is die lewe meer leefbaar as in die barheid van ’n oorgereguleerde, liefdelose bestaan.

BlouNa my mening is dit haar beste boek ooit. My grootste probleem daarmee was dat Colette bietjie ouer is as ek, en Nandi weer jonger, dit was daarom moeilik om my in te leef as die karakter waarop die boek geskoei is. Dis tog wat Marita van der Vyver doen, is dit nie? Sy skoei die karakter op my, op my innerlike, my fantasies en my vrese. My diepste wese. Of so voel dit vir my. Sy skryf so dat ek nie kan glo dat dit nie werklike mense is met ‘n werklike verhaal nie. Oor verlies en geheime, versoening en verdriet. Maar bowenal, oor die blou van onthou.

Daar’s mos dinge wat mens vergeet, selfs al wíl jy onthou, en dan’s daar dinge wat mens onthou, al wil jy vergeet  . . .

Bestel jou kopie van Kalahari
Bestel Die blou van onthou as e-boek vir jou Kindle

(Bespreking deur Trisa Hugo)

2 thoughts on “Notas by die bespreking van Die blou van Onthou – Marita van der Vyver

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s