Notas by die bespreking van Die blou van Onthou – Marita van der Vyver

Marita van der Vyver is in 1958 gebore in Kaapstad en behaal ‘n meestersgraad in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Tussen die ouderdom van 20 en 30 publiseer sy drie jeugromans voordat haar eerste volwasse roman, Griet skryf ‘n sprokie, in 1992 ‘n blitsverkoper en ‘n literêre sensasie word. Die boek is bekroon met drie van die mees gesogte literêre pryse in Suid-Afrika: die M-Net, die ATKV en die Eugène Marais pryse. Sedertdien het sy ‘n heeltydse en veelsydige skrywer vir alle ouderdomme geword, met ‘n tiental romans, kortverhale, twee versamelings van humoristiese essays, prenteboeke vir kleuters, kosboeke, talle kortverhale en essays in versamelbundels, en gereelde rubrieke in koerante en tydskrifte. Sy het reeds verskeie pryse vir haar skryfwerk gewen, asook ‘n internasionale studiebeurs van die SA Stigting vir Skeppende Kunste, en in 1997 is sy genooi om deel te neem aan die bekende International Writers Program van die Universiteit van Iowa in die VSA. Haar volwasse romans word deurgaans in Engels, Hollands en Duits vertaal, terwyl Griet skryf ‘n sprokie in sowat ‘n dosyn tale gepubliseer is. Dit was die eerste Afrikaanse roman ooit wat in Chinees vertaal is, en het meer onlangs ook in Yslands verskyn. Marita woon op ‘n klein dorpie in die suide van Frankryk saam met haar Franse man, Alain Claisse. (Spreek uit Alluhn Kless) Hulle het 3 seuns en ‘n dogter.

Marita het volledig dagboek gehou van die skryf van Die blou van onthou, (sy is ʼn ou dagboeker), deesdae is dit maklik om dit op ʼn blog te doen. Die proses van navorsing en skryf vir hierdie boek het byna twee jaar geduur, beginnende op Vrydag 18 Maart 2011.

Frustrasie! Want ek moet aan die skryf kom aan die nuwe storie. Dis nou al maande dat al my tyd en energie opgeslurp word deur die werk aan die nuwe huis, die trek na die nuwe huis, die inpak in die ou huis en die uitpak in die nuwe huis. Nou’s ek al 2 weke terug van my salige somervakansie in SA en die 1ste hoofstuk van die storie het vorm gekry in my kop, maar voordat dit ook op papier kan vorm kry, moet ek die chaos in my werkvertrek regruk.

Intussen doen ek ure lank navorsing op internet, net om darem te voel ek vorder ‘n paar treë vorentoe, so tussen die boeke wat ek alfabeties op die rakke moet rangskik. Te veel boeke, te min rakke, the story of my life. 

Gister binne ‘n uur via Google meer geleer oor Portugese teëls (azulejos) as ooit tevore in my lewe. Vroeër in die week wonderlike video-materiaal oor die Eeufees- Ossewatrek van 1938 ook op internet opgespoor. Dit was die kliek wat ek in my kop moes hoor voordat ek kon begin skryf. Veral Totius se woorde in daardie outydse stem: ‘Dit is ‘n wonder vir ons oë. Ons sien dit, maar ons deurgrond dit nie.’ Miskien, het ek gedink, miskien het ek hier ‘n inleidingsparagraaf…

Toe nie. Sy doen baie navorsing oor detail oor Kaapstad in die 40’s en 50’s en het die storie gemaak pas tussen info wat sy kon kry. Die later dele kon sy put uit haar eie ervaring en herinneringe, asook haar eie dagboeke, ook dié wat sy geskryf het tydens ʼn reis in Portugal toe sy jonger was.

Sy maak baie interessante ontdekkings met haar navorsing. Eers ‘n blog van ‘n Britse soldaat wat in Aug 1942 ‘n paar dae in Kaapstad deurgebring het – net mooi ‘n maand voordat my karakter saam met haar ma in Kaapstad moet inkopies doen en fliek – en 2 keer by 2 verskillende bioskoopsale gaan fliek het. Met beskrywings van die geboue, die films, selfs ‘n foto van ‘n kaartjie vir die vertoning in die Plaza Theatre. Selfs die prys van die kaartjie!

… maar nou haak ek al 2 dae vas op die drumpel van hfst 9, moeilikste deel tot dusver, waar ek na ‘n ek-verteller moet oorskakel, heel nuwe toon, want hier kom ons nou by die deel uit haar dagboek wat haar dogter jare later gaan ontdek. En as ek hierdie lewensbelangrike 3 weke in Portugal behoorlik wil beskryf, moet ek deegliker as ooit navorsing doen. Oor Portugese landskap, dorpe, kerke, politiek van 1960, en bowenal oor azulejos, die geglasuurde keramiekteëls waarom alles draai. Of wat die bal aan die rol moet kry.

Hierdie keer het ek nie net internet gebruik nie, maar ook teruggegaan na die dagboek wat ek in 1980 gedurende my eerste reis in Portugal gehou het. Lekker bruikbare stukkies daarin ook gevind. Selfs ‘n verwysing na Portugese teëls, laaank voor ek geweet het ek gaan eendag ‘n storie skryf waarin Portugese teëls ‘n rol speel.

Driekwart deur die Portugese pelgrimstog. Die grootste uitdaging hier is om die joernaalinskrywings kort en kragtig te hou. Nie gestroop nie, ek wil die emosie behou, maar die hele affêre moet nie uitgespel en uitgerek word nie. Eintlik is dit die grootste uitdaging van die hele teks tot dusver – om amper dertig jaar in die lewe van ‘n karakter in kort flitse van herinneringe te vertel. En dan moet ek dit weer ‘n keer doen met die tweede karakter. En weer ‘n keer met die derde karakter.

Geskiedenis word ook heeltyd betrek, bv om die 2e deel in te lui sê sy: Ek het geweet die jaar moet 1966 wees, en die toneel sal iets te doen hê met die moord op Verwoerd, maar die hoe en wie en waar kon ek net nie agtermekaar kry nie. Eers gedink aan Verwoerd se begrafnis in Pretoria, waar Nandi en haar ma by die skoonfamilie kuier, maar toe besef ek gister natúúrlik moet dit in die Kaap wees, in die huis waar Nandi se ma grootgeword het, om al daardie bekende karakters weer ‘n slag by die storie te betrek

Maart 1992, Referendumdag, en Tina en Charlynn kyk na die ou papierpoppe en gesels oor keuses. Nie politieke keuses in hulle geval nie. Keuses oor hulle ma’s. Wie’s jou regte ma? Die een uit wie se maag jy kom? Of die een wat jou die liefste het?

Al skryf ek tot ek 100 jaar oud word, sal dit seker nooit net doodgewoon maklik word nie. Anders gestel, as dit die dag maklik word, sal ek weet dis tyd om op te hou. Om deesdae ‘n roman te skryf, het jy 1 persent inspirasie nodig, and 99 percent staying away from Facebook.

Die storie in kort:

In die skemer van haar lewe kry Colette Cronjé ’n brief van ’n lank vermiste familielid. Dit kom uit Portugal en dit dwing haar om alles te onthou wat sy ’n leeftyd lank probeer vergeet het. Want wat ’n halwe eeu gelede in Portugal gebeur het, het haar eie lewe asook dié van die volgende twee geslagte onherroeplik verander.

Haar dogter, Nandi, se verset teen haar ouers en haar afkoms is so verreikend dat sy haar kind vir aanneming weggee, en alleen oorsee vlug en alle bande met haar familie verbreek. Haar kleindogter, Tina, word groot sonder om haar bloedfamilie te leer ken. Maar bloed bly bloed, jou familie bly jou familie, en jou taal bly jou taal. Daarom word dit die verhaal van ‘n Afrikaanse familie, van drie opeenvolgende geslagte wat reageer op mekaar en op hul tyd, van drie vroue wat leef in die spanning tussen weggaan en moet bly, tussen vergeet en móét onthou.

Vir die bespreking steun ek swaar op die resensies van Elbie Adendorf, Gerda Taljaard en Christell Stander. (Ek gebruik dele, veral van Adendorf se resensie, verbatim)

Die blou van onthou handel oor die tema van onthou, soos in die titel voorspel word. Maar dit is nie net ’n onthou van die verlede ter herinnering nie, maar ’n onthou van ontbloting en ’n onthou om by versoening en genesing uit te kom. Colette skryf juis in ’n e-pos aan Tina: “Die onthouduiwel bring geen helderheid nie, net verlange en deurmekaar drome.” In ’n ander e-pos skryf sy: “Blou is die kleur van onthou, dit weet ek nou. Blou soos die teëls in Portugal, waar ons almal se stories begin het, myne en my dogter en my kleindogter s’n. Teen dié tyd is ek van kop tot tone blou van al die onthou.”

Elbie Adendorf op LitNet:

Dit is die verhaal van drie vroue se “stories” wat begin met “Colette se swygstories”, gevolg word deur “Nandi se liegstories” en eindig met “Tina se onthoustories”. Die drie titels, asook die motto wat na elke verhaaltitel uit ’n belangrike literêre werk gegee word, gee reeds aanduidings van die belangrikste motief wat in elke verhaalstruktuur na vore kom. In die eerste verhaalstruktuur, met die motto uit Shakespeare se Hamlet: “Yea, from the table of my memory, I’ll wipe away all trivial fond records”, swyg Colette oor wie die pa van haar kind is. Die tweede vertelstruktuur, met die motto uit Robert Louis Stevenson se Virginibus Puerisque: “The cruellest lies are often told in silence”, verwoord Nandi se opstand teen veral die leuens van haar ma, Colette. In die laaste vertelstruktuur, met Ronelda S Kamfer se gedig “oorvertel 5” as motto, moet Tina, die kleindogter van Colette, die drie verhale bymekaar uitbring deur die onthou van die verlede by die nou van vandag uit te bring.

Binne elke vertelling van die drie vroue word ander vertelvorme, soos e-posse, briewe en ’n reisjoernaal, ook gebruik. Dit is veral die reisjoernaal van Colette wat die drie verhale koppel. Colette vertel in die reisjoernaal van haar reis na Portugal en die ontmoeting met die teëlmaker Fernando. Nandi vind die reisjoernaal tussen haar oorlede pa se dokumente en dit wat sy daar lees, lei tot haar verset teen haar ma. Tina gebruik die reisjoernaal om terug op haar ouma se spore te gaan en sodoende dan ook die kringloop te voltooi.

Die verhale van drie vrouekarakters en hulle lotgevalle binne die Suid-Afrikaanse konteks, is natuurlik nie ’n nuwe gegewe in die Afrikaanse literatuur nie en sluit aan by ’n bekende literêre tradisie waar die persoonlike lewe(ns) van die karakter(s) gekoppel word aan die breë Suid-Afrikaanse en wêreldse geskiedenis. (Agaat, Marlene van Niekerk en Elsa Joubert se Reise van Isobelle)

Die roman bied ’n chronologiese blik op 70 jaar se Suid-Afrikaanse geskiedenis: vanaf die geskiedkundige Ossewatrek van 1938 tot Verwoerd se dood, die sewentigerjare se skoleprotes, die tagtiger- en negentigerjare se politieke protes en die grensoorlog, die einde van apartheid en selfs hoe dit is om in die Nuwe Suid-Afrika te leef. Binne hierdie Suid-Afrikaanse geskiedenis is daar die familie se standpunte oor die land se politieke geskiedenis. So byvoorbeeld is daar Colette se een broer wat ’n ondersteuner van apartheid is, terwyl die ander broer ’n sterk teenstander daarvan is. Ouboet was vir my te oulik!

Die drie vroue se verhale word nie net met die land se verhaal gekoppel nie, maar ook met belangrike wêreldgebeure, soos Neil Armstrong se maanlanding, prinses Diana se afsterwe in 1997 en die aanval op die Twee Torings in 2001. Binne die drie vroue se verhale word die land en die wêreld se geskiedenis verder herskep met verwysings na kleredrag, musiek, boeke en haarstyle. (Hierdie dinge het haar grys hare gegee, om presies in te pas by die verhaal, skryf sy op haar blog.) Vir my het dit bietjie geforseerd voorgekom, asof dit te doelbewus ingepas word.

Die roman verwoord die bekende tema van die moeder-dogter-verhouding, aangesien dit die verhaal van drie geslagte vroue, ouma – ma – kleinkind, vertel. Elkeen van hierdie verhale bevat ’n chronologiese vertelling vanaf klein dogtertjie tot volwasse vrou. In hierdie ma-dogter-tema is daar die onstuimige verhoudings en opstand teen die ma-figuur, soos veral oorgedra deur Nandi. Daar is ook die immerbekende temas van verlies, veral die verlies van ’n kind en die liefde, veral die romantiese liefde vir ’n man. Binne hierdie temas word ook subtiel kommentaar gelewer oor die lotgevalle van vrou-wees deur die eeue.

Dit is veral ’n reisverhaal. Deur die drie hoofkarakters se oë leer die leser verskillende plekke in Suid-Afrika, maar ook in die buiteland, en veral Portugal, ken. Die reis na Portugal is iets nuut in Van der Vyver se skryfwerk nadat sy reeds Frankryk as landskap in etlike van haar werke gebruik het. Portugal as belangrike ruimte word reeds in die titel gesuggereer, aangesien die blou Azulejos ’n belangrike argitektoniese kenmerk van Portugal is. “Azul” is die Portugees vir blou, die tradisionele kleur van “azulejos”, waarvan teëlkuns in Portugal gemaak word. Net soos elke teël noodsaaklik is om ’n volledige “teëlskildery” te vorm, so is die onthou van elke herinnering, hoe pynlik ook, belangrik om ’n volwaardige mens te maak. (Tema) Ander verbindings met Portugal is die fado en die saudade (ʼn Onvertaalbare woord, dit beskryf ‘n diep emosionele toestand van nostalgiese of diep melancholiese verlange na ‘n afwesige iets of iemand wat ‘n mens lief het). Ken ons nie almal daardie hunkering nie? Amper na onsself?

Reise na Portugal koppel al drie die verhale, maar veral die eerste en laaste verhale van Colette en Tina, aangesien dit die drie verhale tot voltooiing bring. Marita self is baie lief vir Portugal, en het hierdie maand juis weer op haar spore gaan loop onder andere in Sintra, Porto, Evora en Lisboa. Sy beskryf Porto so op Facebook: Porto is now officially on my list of favourite cities. Like Paris it gets better with every visit.

Al drie die vroue is Portugal toe om “hulle daar te gaan vind”, soos die roman dit stel. Colette reis na Portugal omdat sy moeg was vir die Engelse koue weer en vryheid wou smaak voordat sy en Hannes sou trou; Nandi reis soontoe om haar pa te gaan opspoor en op haar ma en pa se voetspore terug te gaan; en Tina loop ook terug op die voetspore om haar Portugese oupa te gaan soek: “Sy sal hom vind, lewend of dood, ter wille van haar ouma. Ter nagedagtenis aan haar ma. En vir haarself ook, sodat sy die einde van hierdie storie kan leer ken.”

Tog kom ander reisvorme ook in die roman voor: daar is die verbeeldingsreise van die dogtertjies as daar met die papierpoppe gespeel word; daar is die dagga-reise van Nandi; daar is reise deur die geskiedenis; daar is die liefdesreise van die drie vroue, maar ook van die ander karakters; en dan is daar ook veral die lewensreise.

Twee ander belangrike herhalende motiewe bind die drie vroue se verhale: die teëlskilderye in Portugal en die papierpoppe. Die teëls koppel met “blou”, ’n belangrike woord wat reeds in die titel prominensie kry. Die teëls vorm saam een teëlskildery. In elkeen van die verhale kry die teëlskilderye prominensie en het dit ’n uitwerking op hulle.

Die skoendoos vol papierpoppe word van een geslag na die volgende geslag oorgedra, uiteindelik ook na Tina, wie se enigste verbintenis met haar ma is. Die papierpoppe bind dus nie net die drie geslagte vroue nie, maar raak ’n simbool van hoe vroue deur die eeue verander het. Eers was daar die onderdanige vroue, daarna was daar die opstandige vroue, en dan was daar die dapper vroue, want in Colette se ma se woorde: “Dit was nog nooit ’n grap om ’n vrou te wees nie. Veral nie in Afrika nie.” Belangrik is ook die oorgee van die papierpoppe aan die bruin familie se vroue om hulle lotgevalle ook te betrek. Politieke statement. Dan ook, simboliseer Clark se af voet vir my die man wat minder mag het oor die vrou.

Van der Vyver maak gebruik van intertekstualiteit deur middel van verwysings na ander literêre werke om die verhaal tyd-ruimtelik te situeer, maar ook om ’n dieper nuanse aan die verhaal te gee. (Hierdie is nie my woorde nie!) Die verwysings na die Portugese digter Fernando Pessoa kom herhalend voor en is belangrik, aangesien hy motiewe soos reis, liefde en die drie vroue se verhale koppel. Die teëlmaker, wat veral in die eerste vertelling ’n belangrike rol speel, is ’n naamgenoot van Fernando Pessoa.

Die intertekste met Afrikaanse digters soos Totius, Elisabeth Eybers en Eugène Marais, en ook met Afrikaans liedjies en gesegdes, word veral gebruik om Colette se pa se liefde vir Afrikaans aan die nageslagte oor te dra. Nandi verwoord dit soos volg: “Maar meer as enigiets anders sal ek sy liefde vir sy taal onthou. Nee, dis meer as liefde, dis ’n soort versotheid, soos ’n jong seun wat op ’n stunning girl verlief raak en nie sy geluk kan glo as sy hom toelaat om aan haar te raak nie. Oupa het sy lewe lank daardie jong seun gebly en die stunning girl se naam is Afrikaans.”

Die Portugese digter Fernando Pessoa, na wie telkens in hierdie roman verwys word, merk op dat “daar skepe [is] wat na vele hawens vaar, maar nie ’n enkele een gaan na ’n bestemming waar daar nie pyn wag nie. En daar is geen hawe waar dit moontlik is om te vergeet nie”.

Daar is dus ook ander, figuurlike reise hier ter sprake: verbeeldingsvlugte, dagga-trips, kopreise en lewensreise. ’n “Reis” deur Suid-Afrika se geskiedenis – van die opkoms van Afrikanernasionalisme, die sluipmoord op Verwoerd, die Soweto-opstande, die grensoorlog, die “Groot Krokodil” se swaaiende vinger en die einde van apartheid tot die geweld van die Nuwe Suid-Afrika.

Daar is ook erotiese reise wanneer Colette se minnaar se liggaam ’n “padkaart” word: “Teen hierdie tyd is die herinneringe van my beminde se lyf en my beminde se land so deurmekaar geknoop dat ek nie meer kop of straat kan uitmaak nie. Dorp of stert. As ek aan Lissabon dink, sien ek sy tong tussen sy tande. Of sy gespierde dye. Sintra roep sy breë bruin borskas op, Coimbra sy sagte oorlobbe  ...

Christell Stander: Die beheersdheid waarmee sensualiteit gedurig op die grens tussen blootstelling en ontbloting gehou word, is die prysenswaardige aspek van die roman. Dit is die subtiliteit van afwagting, verlange, versugting wat die leser aan die lees hou.

Die verlies van taal kom ook ter sprake, daarom dokumenteer Van der Vyver verskeie Afrikaanse gesegdes, volksliedjies en woorde soos “perdebylyfie”, “Boesmanstêre” en “lanterfanter”, of sy bang is dat die “soetste taal”, “die mooiste taal op aarde”, haar gaan ontglip.

In ’n Stilet-artikel redeneer Sonja Loots dat romans as “geheuemuseums” kan dien om kultuurerfenis te bewaar omdat daar in hedendaagse Afrikaanse romans ’n bewustheid van die gemarginaliseerde posisie van Afrikaans is. Dit blyk dus of ook Van der Vyver probeer om vergete of kwynende kultuurgoed te dokumenteer. Sy doen dit egter sonder om van die land se pynlike en omstrede verlede te vergeet.

Kritiek:

In Christell Stander se resensie sê sy wanneer die roman naas ander epiese werke in Afrikaans gelees word, is die bydrae tot hierdie genre nie van dieselfde omvang as grensverskuiwende werke soos Hierdie lewe van Karel Schoeman, of die werk van Marlene van Niekerk, André Brink, Etienne van Heerden en Elsa Joubert nie. Crito (die resensent van resensente) kritiseer Stander oor hierdie punt, waarom die vergelyking?

Beide Stander en Gerda Taljaard voel daar is iets voorspelbaars aan die wyse waarop Suid-Afrikaanse politieke landmerke telkens gebruik word as fokuspunte vir insiggewende familie-oomblikke. (Waarmee ek saamstem, die doelbewustheid waarmee dit ingevleg word, bly lyk soos wat dit gedoen is – doelbewus.)

Christell Stander: Enersyds kan die terloopsheid waarmee die langstaande verhouding met die huishulp beskryf word ook as ’n simptoom van oorgang tot hedendaagse nie-rassigheid gelees word. Andersyds geskied dit dalk weereens ten koste van diepte.

Sy reken ook dat die potensiaal van die romangegewens nie tot hul volle reg kom binne die struktuur en aanbieding daarvan nie.

Self dink ek dat die karakters te ‘slim’ is met die wysheid en perspektief van nabetragting van die skrywer. ʼn Leser het gekla dat die tydspronge binneverhaalstukture verwarrend is, maar vir my was dit slim. ʼn Ander leser voel dat sy as leser ʼn buitestaander bly voel het, en dat sy nie kon assosieer met een van die karakters nie. Omdat sy in dieselfde tydgleuf grootgeword het, wou sy beter kon assosieer

Crito kritiseer al die resensente, dat hulle nie die betekenisvolheid van die naam Colette onder loep geneem het nie. Vir my is dit toe ‘n aanduiding dat daar iets moet wees. Die Franse skrywer Colette het klaarblyklik nie ‘n goeie verhouding met haar dogter Bel-Gazou gehad het nie. Sy het haar ma blykbaar beskuldig dat sy nie ‘n kind wou hê nie, en haar in die sorg van ‘n Engelse nanny gelos het. Op ʼn vraag aan die skrywer self sê sy: Ek haat dit om my eie werk op ‘n pretensieuse manier te ontleed, so al wat ek sal sê, is dat ek nooit ‘n karakter se naam sonder ‘n goeie rede kies nie. En dat Crito slim is. Marleen van Wyk met ook op dat die naam Nandi kan dui op koning Shaka se ma, wat sterk vrou beteken.

Van der Vyver het haar reeds as skrywer binne die Afrikaanse literêre sisteem bewys. Sy skryf met ’n fyn ingesteldheid teenoor haar lesers en haar werk ’n toeganklikheid wat nie aan alle Afrikaanse skrywers toegeskryf kan word nie.

Dalk is die tipiese romantiese slot van die twee geliefdes wat bymekaar uitkom, te voorspelbaar, maar hierdie is ’n boek wat gerus gelees kan word, want dit verwoord nie net die “blou onthou” van drie vroue nie, maar ook elke leser se “blou onthou”.

As geheel sluit die roman aan by die melancholiese styl van die oorspronklike fado’s in Portugese musiek. In die ewig verlangende liefde na ’n afwesige minnaar, in saudade, is die lewe meer leefbaar as in die barheid van ’n oorgereguleerde, liefdelose bestaan.

BlouNa my mening is dit haar beste boek ooit. My grootste probleem daarmee was dat Colette bietjie ouer is as ek, en Nandi weer jonger, dit was daarom moeilik om my in te leef as die karakter waarop die boek geskoei is. Dis tog wat Marita van der Vyver doen, is dit nie? Sy skoei die karakter op my, op my innerlike, my fantasies en my vrese. My diepste wese. Of so voel dit vir my. Sy skryf so dat ek nie kan glo dat dit nie werklike mense is met ‘n werklike verhaal nie. Oor verlies en geheime, versoening en verdriet. Maar bowenal, oor die blou van onthou.

Daar’s mos dinge wat mens vergeet, selfs al wíl jy onthou, en dan’s daar dinge wat mens onthou, al wil jy vergeet  . . .

Bestel jou kopie van Kalahari
Bestel Die blou van onthou as e-boek vir jou Kindle

(Bespreking deur Trisa Hugo)

Notas by die bespreking van Karel Schoeman se lewe en werke

Karel Schoeman  –  Hierdie lewe en die ander boeke van die Stemme trilogie: Die uur van die Engel; en Verliesfontein.

Bibliografiese inligting: Lees vanaf uitdruk.

Prof Chris van der Merwe het in een van sy besprekings van Karel Schoeman se werke, genoem dat daar die vyftigers was, met hul plaasromans, die berugte sestigers, ook o.a. modernisme en post-modernisme. … En dan was daar Karel Schoeman!

So het ek ook reeds toe ek in die tagtigerjare sy boek Op ‘n Eiland gelees het, besef: hier is iets anders; ‘n ander stem; ‘n ander aanslag.   Iets wat mens wil-wil ontwyk, wat jy nie in ‘n blik kan druk of ‘n  etiket aan kan hang nie.  Niks vreesliks gebeur in die boek nie, maar tog vergeet jy dit nooit nie. Dit raak jou iewers diep aan.  Kannemeyer in sy Afrikaanse Literatuurgeskiedenis merk die volg op: “Nêrens in sy oeuvre het Schoeman soos hier daarin geslaag om die broosheid en onvolkomenheid van die verhouding tussen mense deur middel van gesprekke, gebare, suggesties en stiltes, so suiwer op te vang nie.”

Vraestelling:

Wat is dit dan wat Karel  Schoeman so anders maak?

Om hierdie vraag te beantwoord, sal daar natuurlik baie noukeurig na meer as een van sy boeke gekyk moet word. Ek sal onder sy vel moet inkom!

Ek het dus met die oplees van die Stemme trilogie, uiteindelik sewe boeke gelees.  Soos my man spottend verwys: as jy oor Dawid en Goliat moet praat begin jy by Genesis en eindig by Maleagi.

Ek het baie gekry om oor te kan praat, maar soos JM Coetzee tereg opmerk as hy ‘n boek skryf:  hy sê wat hy wil sê in om en by  200 bladsye. Alles daarna is oorbodig. Ek sal probeer…maar ek is beperk;  definitief  tot baie minder as 200 bladsye!!

Terloops, daar is redelik algemeen deur resensente parallelle gevind tussen JM Coetzee en Karel Schoeman se romans; veral tussen “Hierdie Lewe” en “ In the Heart of the Country”.

Kenmerkend

Wat kenmerk Schoeman se skrywes?   Dit is veral die Stemminge wat hy skep.  Die praat na binne, uitbeeld van die introspektiewe gedagtewêreld van ‘n verteller. Die taal  wat hy ontgin  en moeiteloos soos goud uit die lae klip kap en meesterlik gebruik in elke konteks.  ;  die navors, opteken, weergee van geskiedenis, van ‘n sosiale milieu binne spesifieke politieke bestel, simboliek van godsdienstige aard, om dan daaruit tot insigte te kom wat universeel van aard is. Die kontraste; lig en donker, boos en goed;  die natuur en die mens; die onderstrominge in menseverhoudings, die stadige tempo van die boeke, die heen en weer beweeg tussen verlede en hede, die oënskynlike niks wat eintlik gebeur nie, oënskynlike afwesigheid van spanningslyn , die beskrywings  ryk en gevul met simboliek. Uitmuntende karakterbeelding van hoofsaaklik die randfiguur. Daar is ‘n poëtiese aanslag in sy boeke, ‘n sikliese aard deur die gebruik van herhalings en simboliek, soos in poësie. Sy skrywes is soos die werk van ‘n skilder. Soos ‘n skilder gebruik hy nie net basiese kleure nie, maar skakerings, kwashale wat ineenvloei en oorvleuel om ‘n meesterwerk te skep. Ek sou hom ‘n impressionis noem – Maar al waarmee hy skep, is die woord.  Aan die hand van hierdie en ander  insigte sal ek na die trilogie Stemme kyk.

Temas –

Buitestaander

Die tema wat soos ‘n goue draad deur  die Stemme trilogie loop, is dié van die buitestaander , die randfiguur se waarneming van buite die dampkring. In uur vd E is die tema meer die uitstoot van die andersdenkende, die skrywers, Ds Heyns, Danie Steenkamp, Jood, wat op die randjie van sosiale binnekringe bly, nie ge-ag word nie maar wat telkens opteken, dit wat hy wil verwoord. In Hierdie lewe is dit die enkeling, ou tantetjie wat haarself uitstoot, die randfiguur, die eensame,  wat leef in afsondering, nederig, die een wat luister, waarneem, sonder doelbewuste handeling, en nie wil deel wees van die kring van die spotters nie. In Verliesfontein word  albei tipes buitestaanders aangetref: Kallie en Miss Godby wat deur die gemeenskap as eienaardig ge-eien is en uitgestoot word en Alice wat haarself uit eie keuse afsonder. Kalie wat sukkelend voortstrompel  om in die sosiale milieu aan te pas en in te pas, meesleurend deur gebeure buite sy beheer.  LW hulle hakkel byna almal.

Binneruimtes en Buite ruimtes: Die wêreld word as gevangenskap uitgebeeld, tantetjie smag na buite, na helder lig, maar kry nie veel daarvan nie.

Hier wil ek vertel van ‘n gesprek wat ek onlangs met ‘n vriendin gehag het, wat in Trompsburg omgewing boer en Karel goed geken het, hy was dikwels by hulle op die plaas.  Sy sê jy het hom nie uitgenooi saam met baie mense nie, hy hou nie daarvan nie. Hy het bv eenkeer eenkant gesit, net hulle gesin was daar, en die geselsies en doen en late gade geslaan, sonder enige deelname van sy kant Daarna, toe hulle hom terugneem huis toe, hy het nie bestuur nie, merk hy op dat hy daarvan hou om soos ‘n toeskouer op die kant te sit, hy voel geisoleerd, hy wil nie betrek word nie, wil net almal en als betrag van die kant af. Alhoewel hy die kuier geniet het.  Ander tye weer, los hulle hom dat hy rondstap op die plaas, altyd alleen. Hy het gesê dat hy die tyd op Trompsburg die meeste geniet het in sy hele lewe, hy was vry om rond te stap en ook om sy voordeur toe te hou as hy wou. Kenmerkend van hom was dat hy met sy mandjie dorp toe gestap het, almal vriendelik gegroet het. Gesê het dat sy kommunikasie hier baie meer was as waar hy in die stad net interaksie gehad het as hy ‘n inkopie betaal het, met die kassier. Mense het hulle familiegeskiedenis met hom gedeel en hy het Nederlandse geskrifte vir hulle vertaal of verduidelik.  Hy het egter alleenmens gebly. Nou in ‘n aftree-oord in Bloemfontein.

Die Suid-Afrikaanse platteland, gewoonlik dor, ongenaakbaar,  wye vlaktes, verre horisonne, verlatenheid en die unieke speling van lig en duister, soos die son beweeg: Meestal Die plaasroman. Uitstekende tekening van die landskap en sy mense: bls 133 U vd E

Die Afrikaner-identiteit teenoor al die ander volkere en rasse wat in ons land saamgebondel is. Hoe ruimtes (landskappe) verander namate kolonisering plaasvind, politieke invloede wat inwerk op die skep en herskep van ‘n land (grond word afgevat, herverdeel); hoe die omgewingsinvloed soms ‘n sterker rol speel as die oorerwing in die vorming van karakters. Vgl Tantetjie. Die gesukkel van die Afrikaner om sy identiteit te kry, te vestig.

In Hierdie Lewe is daar nie groot gewag gemaak van die verskil of stryd tussen rasse nie, maar eerder tussen klasse. Vgl. Dulcie, die vrygemaakte slaaf van Ouma, wat neersien op die Hollander wat langs die pad opgetel is en die kinders kom leer het. “ hy het in een van die buitekamers gewoon (Dulcie in die huis) en Dulcie en Gert het op hom neergesien asof hulle nie voel dat hy by die witmense gereken behoort te word nie”. Die Moeder wat uit ‘n armoedige sigeunerbestaan kom, wat geveins hoogmoedig (en angstig om in te pas) alleen deur die lewe strompel, baklei om haar posisie te verbeter en sodoende haar kinders en man vervreem . Valse vriende maak, uiteindelik.

In die Uur vd Engel, sien mens duidelik die ondertoon van wie is aanvaarbaar en wie nie, selfs die pastorie vroue, wat snedig en neerhalend is. Sekere mense moet by die agterdeur inkom (wit of bruin). Hulle loop stofspore op die blink vloere. Skynheiligheid. Polities in of uit, ens.

Die stemme  kom uit die verlede, uit die hede, uit verskillende lae van die samelewing: sosiaal, polities, etnies. Stemme, wat stilgemaak word deur sosiale drukgroepe; hetsy dit kerk, skool, politiek, sosiale stand of etniese verband is. Die tipies plattelandse stemme wat saambondel soos skape  en wat al blêrende  in hul eng  uitkyk en agterdog, die andersdenkendes uitskuif. Harde stemme, bitsig, smalend. Die stemme is die geheue, gewete, die herinneringe, die antwoorde op die vraag na herkoms. Die aanklag teen die samelewing. Die insigte wat uit nadenke en navorsing kom. Die stemme inspireer uiteindelik die skrywer om dit te verwoord.  Die stemme van die bediendes en werkers is uiteindelik die wat vir tantetjie die waarheid van die gebeure laat agterkom: Moord, ontug, en die plek waarheen Sofie en Pieter gevlug het, Bastersfontein digby. (p 93).

Maar hoor sy ooit haar eie stem?? Stemme uit die graf…..

Gay:  In die geval van Jood word dit baie sterk gesuggereer,  die  afskeep van sy vrou ,sy kuieraande met sy enigste vriend, die onderwyser wat baie kort daar afgelos het,  ook Nico Breedt, die skrywer van die verhaal wat skielik, haastig platteland toe vlug en skynbaar van sy minnaar verlaat is. In tantetjie se geval bly dit ‘n baie effense suggestie.  Sy keer haarself weg van enige intimiteit met alle mense.  En Kallie? Die karakters is meestal a-seksueel.  In ‘n Ander Land is daar ook die suggestie dat die hoofkarakter, Versluis, gay kan wees. Die afsondering, alleenheid, die eensaamheid en uitgestotenheid  bly wel sterk suggesties. Lees bls 353 oor Jood se lewe:

Lig en donker: Goed en kwaad.   In Verliesfontein speel die twee temas teen mekaar af. Die wese van goed en kwaad word ge-opbenbaar. Bose daad om Adam te vermoor, goed van die vroue wat die magistraat te probeer keer, alle denominasies en nasies bymekaar kry om versoening te probeer bewerkstelling midde-in die oorlog.  Hierdie Lewe, moeder se genadeloosheid teenoor Vader se sagmoedigheid. Bose dade in die duister…

Natuur: lig en donker, skaduwees…

Bybelse figure en gebeure

Die ryk simboliek wat deurgaans in Schoeman se boeke aanwesig is, wys heen na ‘n Christelike konteks, synde eie aan die Afrikaner se leefwêreld.

Die geroepenes.  Soos profete.  In Die uur vd Engel is dit die verskyning van ‘n Engel aan die hoofkarakters: Danie wat altyd “anders” was en wat altyd stemme gehoor het en toe ook die Engel wat in ‘n helder lig aan hom  verskyn het.  Ds. Heyns wat as kind reeds ‘n mistieke ervaring gehad en geroepe gevoel het om predikant te word.  Jood was weer vas oortuig hy is geroepe tot skryf.  Lewenstaak, lewenslank. Dus die geroepenes.  In Hierdie Lewe is daar baie wat heenwys na Bybelse figure en gebeure.  Die liedjie wat die kneg Gert sing oor Kain wat vir Abel doodgemaak het, sinspeel op Jacob se dood en dat dit dalk nie ‘n ongeluk was nie? Ook die naamkeuses. Jacob is sy ma se geliefde seun, maar uiteindelik kry Esau (Pieter) die erfporsie, alhoewel nie vir lank nie. Hy kom terug na sy ouers en sy Pa ontvang hom soos die verlore seun.  Die slang is altyd in die paradys teenwoordig. Is dit toe al die tyd Eva, die mooie Sofie?  Toe tantetjie as jong meisie  een van haar rare oomblikke van geluk beleef; sy hardloop sorgvry in die veld, soos sy altyd met Sofie gedoen het, maar sy trap amper op ‘n geelslang. Van toe af is sy versigtig….  Die sondebok Adam, en Danie Steenkamp;  die skrywer, die alleenmens offer homself op ten einde die suiwer boodskap oor te dra. Soos ‘n profeet.  Baie heenwyse in Afr letterkunde na die skrywer as profeet.

Danie Steenkamp het verkondig en getuig – die voorloper (Johannes die Doper)

Tantetjie het ‘n lydsame lewe gelei. ‘n Martha.

Adam Balie het die hooste offer gebring – hy het gesterf om sy mense te verlos van vervolging.

 

Titels

In Verliesfontein (Stemme 1) is die skrywer oppad na die dorpie Fouriesfontein. Hy soek na die graf van die Boere rebel Giel Fourie.  Oppad, egter, raak die pad weg, en word hy op mistieke wyse gelei na ‘n tussenruimte, “‘n ruimte tussen twee werklikhede” Hier kry hy egter meer as wat hy soek : die verlies van wat hy gedink het hy soek, (Fouriesfontein) word ‘n vonds,VERLIESFONTEIN ‘n fontein van onuitputlike waarhede, van lewe, dinge wat van universele waarde en sinvol is. Hy ontdek die ware verhaal van Abraham Esau (Adam  Balie) wat deur boeremagte doodgemartel is en wat nie algemeen in ons geskiedenis opgeteken is nie.(Verliesfontein) –

In Hierdie lewe word vier geslagte ( dis waarbinne een mens se lewe afspeel), se daaglikse lewe en stryd om te bestaan en vorentoe te beur uitgebeeld, met al die verskillende karaktertipes ; die ewige mens in al sy fasette , binne verskillende kontekste, wagtend op die dood wat niemand ontkom nie.  Die tydelikheid en sterflikheid, die gevangenskap in jou omstandighede,  Wat is die sin van hierdie lewe? Dis gelee in die TRIOMF wat tantetjie aan die einde beleef. (kom daarby).

In Die Uur van die Engel, word die geroepenheid van die skrywer uitgebeeld.  Die dwingendheid  en geroepenheid van die skrywer, hy kan nie anders nie, hy moet. Die engel verskyn en hy moet werk teen tyd..

Taal en Styl: Spiraalvormige verteltrant

Schoeman het by uitstek die gawe om taal so in te span dat dit atmosfeer skep. Hy gebruik die taal van die tydperk, vgl. Skrywes van Ds Heyns: hoogdrawend en uiters formeel: lees bls  11 en 12 Let op stukkie humor! Bls 12

Ek  verkneukel my veral in die woorkeuses wat hy maak. Flakkerende kersvlam, teen oor flikkerende lamp. Flakkerend = opskietende vlamme; Flikkerend  = vlam van wisselende sterkte.

Die soek na die presiese woorde : iets “vervaag, verkrummel, en verpulver” (word poeier).  Een woord kan nooit alles duidelik genoeg sê nie! Die geswoeg om die juiste woorde te vind vir dit wat hy probeer weergee( 211 en 212, ) en die ritse woorde wat Schoeman inryg om te probeer vasvat wat hy wil oordra, veral tov menslike gedrag, gevoelens( Bls 210).

Ou woorde: parasool, portiek, (voorportaal of stoep) tribune (verhoog, gebou met stoele), verskole eerder as verskuilde.

Hy raak uiteindelik kunstenaar van die woord, skilder, digter, sielkundige. As ek aan Verliesfontein dink, dan is die oorheersende gevoel die van tastende in die duister, so asof mens nie heeltemal en altyd kan sien nie. Dus uiteindelik beskryf Schoeman vir my, bowenal, die proses van skryf, die eie aard van ‘n skrywer, die oplettendheid wat hy moet hê, die woorde om te se wat hy wil se . Al wat die skrywer het is die taal, die woorde. Beelde en herinneringe en stemme sien en hoor en onthou hy, navorsing en oplees kan hy doen, maar kan hy dit werklik korrek weergee?  Hy wil nie oordeel fel of emosionele uitlatings maak nie, maar objektief en raak, die waarheid skryf. Sy skrywe is nie emosionele uitbarstings en weerligstrale en donderslae nie; maar eerder ‘n klein klippe wat hy in die water gooi, wat ‘n rimpeling veroorsaak, saggies, skaars waarneembaar, maar wyd uitkringend tot aan die oewers en die eindes van die waters.

Wat veral opval, is die spiraalvormige verteltrant.  Die ruimtelikheid, sikliese aard van die verhale.  Schoeman sal byvoorbeeld wyd en diep delf om sy geskiedkundige feite te versamel en poog om dit  korrek weer te gee. (Hy is immers ‘n navorser van veral geskiedkundige aard.) Juis hierdie delf in die geskiedenis, noop die skrywer om sy verbeelding teuels te gee, want hoe weet jy presies hoe dit was? Die verhaal sal wyer uitkring,  maar altyd in ‘n agtertoe en vorentoe, weer terug, vorentoe, ondertoe, boontoe, wyd en diep en later al nouer die web span tot hy by die spits kom van dit wat die sin is van alle die werskaffery.  Dit skep ook juis die unieke atmosfeer in sy boeke.

Die huiwerende en selfbevraagtekenenende vertelstyl van die ou tante, dui op die prosedures wat gevolg word vir ruimtelike geskiedskrywing. Haar storie word duidelik chronologies vertel, maar gedurig onderbreek en weggelei van die chronologiese. Tipies van dui gedagtewêreld, mymerings.

Die drie boeke is nie uitgegee volgens chronologiese volgorde in tyd nie, alhoewel ons nie weet met watter een hy begin skryf het nie?Hy sou moes begin met Danie Steenkamp en eindig met Adam Balie; maar eintlik  moes Verliesfontein dan Stemme 3 geheet het en Die uur van die Engel  Stemme 1 wees?  “Hierdie lewe” bly egter sentraal, die mens se lewe en afsterwe hier op aarde.

Skrywerskap

“Die verlede is ‘n ander land: waar is die pad wat soheentoe loop? Jy kan net blindelings die spoor volg waar dit voor jou voete uitstrek, nie self die rigting kies waarin jy sou wil gaan nie.” (bls 31 Hierdie Lewe) en Verliesfontein se aanvangs sin.  Die verlede ken jy nie, jy hoor net daarvan, lees net daaroor. Waar is die pad? In die geheue van mense, die geskiedskrywe, die flentertjies geskrifte, oorspronklike briewe, en foto’s , saam met die fantasie en verbeelding van die skrywer. Dit is sy taak om daaroor verslag te lewer. Lees bls 8 verliesf. Hy gaan induktief te werk. Begin by spesifieke iets.

In die Uur van die Engel word daar diep gedelf deur die TV skrywer (Nico Breedt) wat ‘n storie probeer kry hier op die plattelandse dorpie waar hy grootgeword het. Amper soos ‘n argeoloog, grawe en soek hy na skerwe van gestorwe lewens, stukkies van briewe, ‘n haarborsel wat behoue gebly het, letterlik potskerwe en murasies, geslote hekke waardeur gegaan moet word (moet iets oopdwing om dieper die verlede in te delf). En enige aanduiding wat vir hom ‘n duideliker prentjie sal bied van Danie, die eerste digter (versies maker) in Afrikaans. Dus die letterkunde as motief.  Nico gaan soek na die plek waar Danie se graf sou wees en ondergaan daar ‘n  mistieke ervaring deur die boer wat vanuit nêrens kom om hom die plek uit te wys waar die graf was. Muse.

 In Verliesf is die motief polities/histories ; soek na graf v boereheld.  In Hierdie lewe is motief menslik/sosiale gedrag. Soeke na die sin van die lewe, bestekopname.

Die gedagtewêreld en die feite waarmee jy sit ,dus  ineengevleg, om tot ‘n verhaal uitgebeeld te word. Feit en fiksie. Die boeke dui ook baie duidelik op die eensame werk van ‘n skrywer. Die noukeurige nadenke oor wat hy skryf, daarom kry ons redelik baie herhalings, terugblikke, om duideliker by die waarheid uit te kom.

Al hierdie werke, dui vir my duidelik na die proses van skryf  En dis soos ek  dit beleef  in die lees van Karel se boeke; strompelend in die donker gang, soekend by kerslig, agter donker dik mure en met klein venstertjies, afgesonder met my eie gedagtes, uiteindelik tot begrip, insig, en die lig kom.  Tot mens verstaan (hopelik) en sien en hoor wat hy wil sê. Die skrywer/verteller/leser word in al drie die boeke op misterieuse wyse/openbaringe, bonatuurlike ervarings  gelei na  wat en hoe om te skryf, omdat hy soek. 

Lees Van der Merwe. Litnet .Die Uur van die Engel:…bls 1 & 2………………

Gedrewenheid, dringendheid Ou tantetjie wat probeer onthou, gedwing word om te onthou, wat als moet onthou voor sy doodgaan.  Want sy is ‘n stem wat gehoor moet word. Hierdie tema kom ook by Engel voor: Die drie mans se dringendheid wat hulle voel om klaar te maak, klaar te kry, Die refrein wat deur die verhale loop; ek moet begin, ek moet aangaan, ek moet neerskryf, ek moet klaarmaak, lewenslank, ‘n lewenstaak..   alhoewel hulle op die ou end nie juis veel vermag het nie wat skryf aan betref. Dis ‘n worsteling om die Uur van die Engel te lees; dus Schoeman kry dit uitstekend reg om vir die leser die worsteling van skrywerskap uit te beeld!  Dis noukeurige, byna meedoënlose navorsing om tot op die been uit te kom, en dan is dit herkonstrueer, waarheid en verdigsel verweef, atmosfeer weergee, emosies probeer peil en die korrekte woord vind. Dit maak sy skryfwerk dieper, meer eerlik en  dit raak  aan jou siel

Die honger na erkenning ; gevoel van onbekwaamheid. Ds heyns

Hy vertel ook indirek hoe uitgelewer die skrywer is tov publieke kommentaar, en die effek wat dit op skrywers kan hê. Hoe hulle terugtrek (Ds Heyns en Kallie), of aggressief raak ( Jood), of een voudig ‘n ander gehoor soek (Danie). Hoe hulle stemme stil word.  Jood die aggressiewe, gebruik die mag van die pen;  dis sy vergelding. (197 en 198)

Die skrywer moet noukeurig navorsing doen, vanuit die perspektief dat dit sy plig en roeping is om die waarheid te soek en weer te gee. Die karakter Adam Balie wys  op die werklike gebeure in Calvinia waar Abraham Esau doodgemartel is deur Boeremagte.  Wat deur sekere geskiedskrywers verswyg word, diep hy hier op.  Die verskeie groepe in SA se geskiedenis lyk nie dieselfde nie.! Die verlies teenoor die vonds! Die ware wetenskaplike navorser, geskiedskrywer, se vonds is om by die waarheid uit te kom, sonder vooroordele.

Lees uit Chris van der Merwe se resensie Verliesfontein op Litnet:

Die skrywer se taak is dus om sy geletterdheid en kunstenaarskap in te span tot diens van die mensdom, om te luister, fyn op te let, te onthou, te besin, geduldig te wees, ten einde tot die dieper waarhede en insigte te kom en dit neer te pen..

Karakters

Hier gaan ek net noem dat die karakters in UvdE almal die geroepenes is: die engel het aan hulle verskyn, hulle is opgeroep tot die taak van opteken, skryf, preek, onderrig. Almal verstotelinge, buitestaanders.

Gaan hoofsaaklik na tantetjie kyk.

Dan Verliesfontein  verwys na die teenpole van die karakters soos reeds gesê.

Schoeman se karakters toon  baie eenvormige trekke: Die asketiese, anonieme, (tantetjie het nie eers ‘n naam nie so minderwaardig word sy ge-ag en ag sy haarself) die asosiale, apolitiese  aseksuele.  Fyn waarneming van lyftaal, woorde, handelinge , vorm karakters wat meesterlik uitgebeeld word.  Jy erken hulle.  Uitstekende beelde en sintuiglikheid en suggestie, ‘n binne-kyk, ‘n dieper kyk, ‘n weer kyk (doel van herhalings)is kenmerkend en so kan karakters beskryf, geskets, geskilder, en verstaan word. Nie verduidelik nie, dit moet die leser self doen.

Introspektiewe, aseksuele, daadlose en afsydige hoofkarakters. (Pieter Duvenhage 2002 lesing oor Verkenning) Die seksuele word onderspeel in al sy romans.

 

Hy gee vanuit  die buitestaander perspektief ‘n weergawe van die historiese werklikheid soos hy dit nagevors het, soos dit ‘n wetenskaplike betaam. Vooroordele, voorkeure, vooropgestelde idees en beinvloeding, mag hy nie gebruik nie, want hy wil by die waarheid uitkom. Sy karakters, egter, toon hierdie universeel menslike feilbaarhede wat hy nie oordeel nie, bloot beskryf, soos dit is: liefdeloosheid (al tantetjie se familie liefdeloos, behalwe pa en Sofie en Pieter) die misbruik, groepgedrag; of die mag van die heersers, die rykes, die invloedrykes die bondel, om andersdenkendes of stroomop mense opsy te stoot. Karakters ontwikkel vanuit omgewingsinvloede: hoe tantetjie ander mense om haar en na aan haar se optredes beleef, wat sy daaruit leer en uiteindelik blom of verwelk, in haarself keer as gevolg daarvan.  Bls 149 “ Ons gedagtes, ons planne, ons twyfels, of angste is nooit uigespreek nie, maar stadig en langs indirekte weë moes hulle uiting vind.”

Skreiend die beeld wat sy van haar gesin gee: (P44). So lê die tantetjie in Hierdie Lewe ook deurentyd in die donker, tastende na die verlede; dwingend in  die uitleg van die mosaiek van haar brokstukkies en lappies geheue. Sy wag op die lig; sodat sy verlos kan word van hierdie lewe vol duistere geheimenisse ; van swaarkry, liefdeloosheid, misbruik. Voorbeeld: Sy word ‘n uitsonderlike geleentheid gebied om geleerd te word, haar pa kry Miss le Roux uit die Boland wat in goue ponde betaal is om haar te leer en onderrig. LEES bls 104.  Sy het ook later besef; toe Maans grootword en sy weer niks word, dat sy maar net gebruik is soos ‘n kinderoppasser, om hom groot te maak, te leer lees en skryf. Hy wat vir haar soos haar eie kind geword het.  Haar geleerdheid is uiteindelik tot diens van die gemeenskap:  geskrifte en briewe rondom die nuwe kerk wat gestig word, die parlement toe ganery, kooptransaksies . Moeder het goed beplan, sodat elkeen in haar huishouding van nut sal wees…. Uiteindelik gebruik tantetjie haar skryfvermoë tot diens van haarself, sy skryf, moontlik poësie, en bêre dit in die laai. Skelm, niemand mag dit sien nie, want dan verraai sy haarself, dat sy wel gevoelens en gedagtes koester soos ander mense? Sy word op haar oudag  weer opgeroep word tot diens op die Plaas vir Maans en Stienie… Die ewige Martha.

Tantetjie: Die tantetjie se ontwikkeling as mens, van kind af tot in haar ouderdom het sy geleer:  Om eenkant, afgesonder, buite die ligkring te sit en waar te neem, te luister. Om haar onderdanig te hou aan alle vorme van gesag, om die minste te wees, om nie te nou by mense betrokke te raak nie want die seer is te vreeslik,  om haar plig te ken en uit te voer, stil te bly. Skreinend is haar eensaamheid:Lees bls 87 .

Haar enigste ervaring van mense wat omgee, Sofie wat haar ringetjie vir Tantetjie agterlaat bls 89. En Meester wat sy goue kruisie vir haar gee. Die twee steek sy weg, en dit vergaan uiteindelik saam met die klipmuur by die begraafplaas. Simboliek. Ringetjie kringloop van die lewe, kruis wat sy moet dra en elke mens.

Katarsisse in tantetjie se lewe. Enigste kere wat sy emosie gewys het is toe Sofie by hulle was en Pieter, die mens wat vir haar liefde betoon het. Sy soek na hulle en val neer in totale hartseer en pyn omdat hulle weg is. Die liefde wat sy geniet het vir altyd verlore. (p87) So sluit sy haar af van alle nou verbintenisse. Sy kruip weg binne-in haarself; die donker huis met klein venstertjies en hortjies, dig toe, sy kyk en hoor en dink, maar neem nie deel nie. Sy beskerm haarself van die seerkry soos sy dit al te dikwels sien.  Haar eie vorm van plesier  vind sy in die natuur, as sy buite is, buite haar selfopgelegte sel (huis) dan skitter die damme, skyn die son helder en verlustig sy haar in die veldblomme .

Tantetjie vind die eerste keer bevryding as haar ma doodgaan. Wanneer sy stokalleen gelaat word, om haar dae deur te bring sonder dat iemand haar lewe beheer. Ma se begrafnis is gepas vir haar lewe: “Hulle moes met koevoete uit die bevrore grond vir haar ‘n graf uitkap” (p161). Die donker is skielik uit haar lewe, in die dorpshuis beleef sy dat die vertrekke nou gevul (is) met “die helderwit glans van die weerkaatste lig”.   Sy put genot daaruit om self die tog Karoo toe te reël, en besluite te neem, die huishouding alleen waar te neem. Alleen te gaan stap so ver sy wil sonder inmenging of vrae of waarskuwings van ander.  So ervaar sy vrede. Haar lewe was so vasgevang in wat ander van haar wou hê dat sy nie haar eie lewe ooit kon leef nie. Hierdie lewe word dus ‘n vertelling en uitbeelding van al die menslike eienskappe: intriges, onwaarhede, skinderpraatjies, invloede,  selfsug en strewes van mense, oorheersing, onderdanigheid, versugtings, moord en haat en nyd en liefdeloosheid, en wegloop met jou broer se vrou. Al die trauma word uitgebeeld. Maar sonder die sensasie.

Sy was op die einde deur die arm mense en gekleurdes ge-ag. Hulle het in haar vermoëns geglo; uiteindelik het ander mense haar nodig gehad vir wie sy is. So het sy op ‘n suiwer manier diensbaar geword .  In die sterwende vrou wie se hand sy vasgehou het , het sy vir Sofie raakgesien, so van Sofie afskeid geneem en die datums op die grafsteen en in die familiebybel gaan regmaak. Die groot lieg, die toesmeer, gaan regmaak (p207).  Sy, die gelouterde het die waarheid aan die lig gebring.

Hierdie was ‘n liefdesgebaar soos van Christus. Ook teenoor die wat jy nie ken of ag nie. Geen hoogmoed, eie eersoekend nie. Bloot uit menslikheid. Dit toon ‘n parallel met die karakters van  Ds Heyns, Danie, Adam, Minnie Colefax.

Vroue – In Hierdie lewe speel die vroulike karakters eintlik hoofrolle. Die heersugtige ma, die sterker figuur, wat “éintlik die boer is”, soos die mense skinder, wat sorg dat hulle ryk word en vooruit boer, om ‘n plek in die sosiale kring te koop. In die voorste gestoeltes in die kerk te sit. Humor: bls 156. Die grootmoeder wat self gestaan en toesig hou het toe die nuwe kliphuis met grasdak gebou is; Stienie volg hierdie lyn. Sy oorheers die sagmoedige Maans en haar versugting is na geld en rykdom en aansien. Hierdie vrouerol word deur Ds Heyns se vrou geteken in Uur vd Engel, sy kom van ‘n ryk agtergrond, oorheers haar man, soveel so dat sy hom uiteindelik minag vir sy slapte, sy futloosheid. Lees bls 348

Daarteenoor die skugter Ou tantetjie. Sy word uiteindelik die sentrale figuur,  alhoewel sy nie wil nie, sy moet. Sy moet onthou . Sy moet vertel.

Die plek van die vrou in die verlede. Verskil dit van vandag? Dit vorm ook ‘n tema in die boeke:

Al die vroue is eintlik maar in liefdelose huwelike ingedwing: Jood en sy  vrou deur die bombastiese Pa wat hul albei geen keuse gelaat het nie. Ds Heyns dieselfde geval, alhoewel sy vrou tog op haar eie regte kon staan en self ‘n leidende figuur geword het (teenoor Jood se vrou wat in eensaamheid, stilte, afsonderig, onge-ag, ongesiens, onaangeraak (fisies) haar lewe moes sluit-  sonder keuse.  Moeder sorg dat Sofie met Jacob trou, en ‘n geslag later, kies sy Stienie vir Maans. Vroue in Hierdie lewe speel egter ‘n sterker rol: hulle bepaal meerendeels die loop van die verhaal. Die oorheersende Ma, en dan ook Stienie;  Sofie wat die normale verloop heeltemal onverwerp, wat die slang in die paradys was, waaroor broers geveg en gemoor het. Tot watter nut? In  Verliesfontein is daar gelykheid en vorm geslagte teenpole van mekaar soos reeds gelees. (Donker en lig boos en goed).

Afsluit

Met hierdie drie boeke wil Schoeman dus vir ons die lewe en werk van die skrywer weergee. Die eensaamheid van die skrywer, sy oplettenheid, sy gedrewenheid om dit wat hy soek, die waarheid, na te vors tot op die been, ywerig, sonder opgee, tot in die verre verlede. Om met behulp van die “muse” die storie te vertel wat die mensdom beskryf; deur die eeue. Die wese van die mens en sy motiewe, die effek wat mense op mekaar het, die rol wat die politiek, samelewing, en natuur  speel in die vorming van mense .

Hy maak van ‘n induktiewe metode gebruik, van belang vir navorsers: hy soek na die spesifieke, om uiteindelik by die waarhede van algemene en universele belang te kom. En hier haal ek vir my die mees belangrike paragraaf aan wat al drie boeke se slotsom is, waartoe die soekende Schoeman kom:  Die boosheid wat met die misbruik van mag gepaard gaan:  die boelies in die skole, in die samelewing, die magsvertoon van rykes, en invloedrykes . Die Romeinse keisers, die Hitlers, die Lenins, die Idi Amins, die Engelse in die Boereoorlog, maar ook die boeremagte ; wig en teenwig, en uiteindelik die mag van die politieke bestel van die dag. In ons land het ons dit baie deeglik beleef in ONS LEWE.

Bls 227 Verliesfontein!

(Mariana Celliers)