Philida – André P Brink

Notas gebruik by die bespreking van Philida deur Elize Gerber.

Philida
André P Brink
Uitgewer: Human & Rousseau (2012)
ISBN:9780798155212
Prys: R220

Die toekenning van die Jan Rabie-Marjorie Wallace-beurs (2010) van die Universiteit van Wes-Kaapland aan André P Brink het heelwat kommentaar en kontroversie in die land veroorsaak. Hierdie toekenning het Brink in staat gestel om die navorsing en skryf van die roman te onderneem en gelukkig het die negatiewe stemme bedaar en kan ons nou onbevange die roman waardeer/kritiseer.

Die subtitel, “‘n Slaweroman” en die motto, ‘n aanhaling deur Antjie Krog
“ek is
Die here hoor my
‘n vry fokken vrou”
vorm die grondslag van die roman. Hierdie aanhaling kom uit die gedig “ek staan op ‘n moerse rots langs die see by Paternoster” (Gedigte 1989-1995)

Dit is die verhaal van Philida van de Caap rondom die vrystelling van die slawe in 1834. Haar karakter is gebaseer op ‘n ware, historiese figuur en hoewel haar verhaal in die 19e eeu afspeel, is daar besliste raakpunte met vandag en is daar ‘n aktuele boodskap/waarskuwing opgesluit vir vandag. Die plaas, Zandvliet, waar sy as breimeisie gewerk het (1825-1832) is die huidige Solms-Delta. (Moontlik is die wonderlike voorbeeld van bemagtiging en die versoenende invloed van musiek wat vandag op Solm-Delta uitgeleef word, ‘n boodskap van hoop vir ons vandag. ‘n Mens wil amper wens dat Philida dit vandag kan sien en beleef. Hulle stryd was inderdaad nie verniet nie!)
Philida se eienaar, Cornelis Brink, was ‘n voorouer van Andre P Brink. In haar resensie verwys Ena Jansen na Brink se gesprek op Litnet waarin hy gesê het:
“Philida se storie wil ek skryf omdat haar storie ook my storie is.
My eie voorouer was daarby betrokke en is een van die karakters. Ek kan myself nie ken tensy ek ook Philida verstaan en deur my eie bloed en gebeente eien nie.”

Soos met die meeste van Brink se verhale is hier bewuste sosiale en politieke betrokkenheid by die land en sy mense. Die raakpunte met “Houd-den-Bek” (1982) en “Oomblik in die wind” (1975) is nie per ongeluk nie. Veral eersgenoemde figureer sterk in hierdie roman. Later meer hieroor.

Struktuur:

Die verhaal bestaan uit 3 dele:
Deel 1: hfst 1-15 Klagte
Deel 2: hfst 16-26 Vandisie
Deel 3: hfst 27 Gariep
2.

In die eerste deel is verskillende vertellers afwisselend aan die woord en so spring die fokus van die een na die ander karakter. Deel 2 is deurgaans in die derde persoon terwyl die derde deel se vertelling uitsluitlik deur Philida oorgeneem word:
“ Dit is hier waar ek die woord wil oorvat. Want my storie staan nou end se kant toe en dis net ek wat Philida is wat dit kan vertel, nie ander mense nie.” (p.283)

So vorm die verhaal ‘n raam waarin Philida se aanvangswoorde bewaarheid word:
“Hier kom kak”(p. 11)

Om die verhaal in historiese konteks te plaas is daar telkens ‘n samevatting bo-aan elke hoofstuk bv.: Waarin Philida en Ouma Petronella die pad Caab toe vat en onder meer kennis maaak met ‘n vrou wat met slawe boer (hfst11 p. 110)

Ons ontmoet Philida in November1832 waar sy op pad is van die plaas, Zandvliet na Stellenbosch toe om ‘n klagte te gaan lê by die slawebeskermer teen Francois Brink, seun van die plaaseienaar saam met wie sy 4 kinders gehad het en wat nie sy belofte nagekom het om haar vry te koop nie.
“ Ek sal jou vrykoop, ek sal Stellembos toe gaan en met die Landdrost praat, ek sal heelpad Caab toe gaan as dit moet, en betaal wat hulle vra, dat jy vry kan kom en gaan soos jy wil. Met skoene aan jou voete.
Die onthou ek goed. Van die skoene aan my voete. Wat hy my van die heel begin geblo het. Want hy’t mos geweet, soos wat ék weet: die man of vrou met skoene aan die voete, dié is ‘n vrye mens. Dié is mens.” (p. 23)

Philida se verhouding met Frans is die deurlopende draad in die verhaal waardeur die verhaal van slawerny en ook ander verhoudings uitgebeeld word. Sy en Frans het saam grootgeword, sy ‘n bietjie ouer as Frans, speelmaats en vriende en later ook in ‘n seksuele verhouding. Dit lyk of hulle werklik lief was vir mekaar, maar ‘n mens weet nie of Frans net bloot lafhartig is om teen sy pa en die wetboek op te staan nie en of die gebrek aan regte en identiteit van slawe net te groot was vir hom. Sy verraad wanneer hy sy vreemde woorde uitspreek as antwoord van haar klag is skrynend:
“Wat die meid daar sê, is net so waar as wat dit vals is.
Wat beteken dit so danig? Vra die man van die Drostdy.
Dit beteken heel niks, sê Frans vir hom, dis ‘n slaaf se woord, myne is ‘n witman se woord.” (p.59)

Hierdie verraad is nog dieper as ‘n mens lees dat Ouma Janna in werklikheid Cornelius se ma is – daarom dat sy vrygekoop is en in haar eie kamer op die werf bly . Ironies dat hy dit selfs in die openbaar erken.

Slawe se magteloosheid word verder dramaties geillustreer deur die verskriklike wreedheid waarmee Cornelius Philida laat verkrag deur twee jong slawe van die buurplaas. Sommige kritici bevraagteken die eksplisiete aard van hierdie toneel. Later probeer hy haar self verkrag. Hierdie oomblik is vir haar die bevrydingsoomblik wanneer sy Nee sê:

“En dit weet ek nou is die grootste sê wat ‘n mens kan sê. Nee! En nou kan ek in daardie nee inklim en daar bly net so lank as wat ek wil.”(p.103)

3.

Wanneer Philida terug stap Zandvliet toe beleef ons dmv terugflitse haar geskiedenis en die lewe van slawe. Teoreties het die slawe regte gehad, soos om te gaan kla, maar die eienaars se woorde is geglo en die slawe telkens uitgelewer aan hulle lot (vgl die beskrywing van die vandusie p.155,156)

Die verhaal volg Philida se lewe deur verskillende fases tot by die vrystelling van die slawe in Desember 1834
Cornelius besluit om haar te verkoop sodat haar en haar kinders se teenwoordigheid nie Frans se kanse by die aanvallige en ryk Maria Berrange van Oranjezicht sal bederf nie. Al probeer Frans hom teesit is sy pa onverbiddellik omdat dit die enigste manier is waarop hy sy plaas sal kan red. Interessant is die opskryfproses van al die roerende goedere in die huis voor die vandusie. So kry ons ‘n oortuigende blik op die bestaanwyse en gebruiksgoedere van daardie tyd. (p.206-209).

Sy word verkoop aan ‘n mnr Bernabé de la Bat van Worcester waar sy baie beter behandel word, maar tog steeds slaaf bly. Sy maak kennis met ‘n belangrike figuur, die slaaf, Labyn, wat haar leer skryf en ook bekend stel aan Islam. In hulle gesprekke delf sy al hoe dieper in die betekenis van vryheid en later, met slaaf Floris se terugkoms, word dit al hoe duideliker. De la Bat neem haar en Labyn ook na Houd-den-Bek om hulle te waarsku teen opstand. So is die verband met Brink se vroeër roman voltrek met die vertelling van Galant en sy opstandelinge se lot (p.178-179) later besoek sy en Labyn die oorlewende opstandelinge (Ontong en Achilles) (260-265). Afdeling 2 sluit af met die uiteindelike vrystelling van die slawe, 1 Desember 1834, maar vir Philida begin die dag soos alle dae :
“Jare lank het dit soos ‘n ruik in die lug gehang, ‘n swaar ruik wat jou kon dronk maak of bedwelm…… Maar selfs toe die hoop verander het in weet, was dit nog nie sommer vir glo nie. Te lank het dit ingeweek in mens se vleis en bloed en senuwees en in jou diep gebeente in. Nou, skielik, was dit godweet daar en waar. Maandag 1 Desember in die jaar van Onse Here 1834.” (271)

Tog kry die dag vir haar betekenis wanneer Floris aan elkeen ‘n paar skoene skenk en sy besluit om haar kinders te doop.(p.277)
“Ek moes op so ‘n dag darem iets doen, sê sy. Dit was tog tyd … En waar wil jy ‘n beter dag kry as die een? Ek en jy is vry en die kinders is gedoop in die Slamse geloof, en nou kan ons weer verder gaan. Boonop met skoene aan ons voete.”

Die slot van die verhaal is die epiese tog na die Gariep waarin sy self die vertelling oorneem. Hierdie dag, die Blou Maandag van die vrystelling beteken
“slaafwees (beteken) van nou af iets anders”

Dis toe ek in my binneste besluit het: Dit was al die jare jull ewat die reg gehad het om te sê: Philida, jy’s slaaf. Maar julle het nie reg om te sê: Philida, jy’s nou vry nie. Want dit kan niemand vir jou van buite af sê nie, dit kan net van die binnekant af kom. En dit kan net ek sê, en dit sê ek. Vandag is ek ‘n vry vrou.” (284)

In die geskiedenis is daar net sprake van drie kinders by Frans en nou eers hoor ‘n mens wat moontlik met die 4e kind kon gebeur het.

4.

Sy gebruik haar erfporsie van Ouma Petronella om vir haar en Labyn ‘n vrybrief te koop om na die Gariep te gaan. Hulle tog neem hulle verby Houd-den_Bek waar hulle ‘n baie onvriendelike ontvangs kry. Hulle ontmoet ook die kleurvolle karakter Kupido Kakkerlak (Bidsprinkaan) by wie hulle die les leer dat vryheid nie ‘n plek is nie, maar iets in jou binneste is:

“… jy kan jou malle moer af soek, maar jy sal hom nie kry solank as wat jy hier of daarof orals wil loop soek nie. Jy moet eerder leer binnetoe kyk.” (299)

Die stryd tussen die Christendom en Islam is ‘n belangrike gesprekspunt tussen Labyn en Kakkerlak en bied ook aan die leser die geleentheid om na te dink oor die rol van die Christendom vs Islam in Suid-Afrika en in die breër Afrika-konteks.

Die staptog is vir Philida ‘n staptog in haarself en haar verlede in totdat sy uiteindelik helder weet waar sy hoort/ nie hoort nie.(308)

“Nou weet ek. Op hierdie plek is ek nié. Die enigste plek waar ek is, is daar waar ek vandaan kom.”

“Gariep is maar die naam wat ons leer gee het aan die rivier in onse binneste….” (310)

Uiteindelik die antwoord op die eksistensiële vraag van menswees.
“Ek wat slaaf was. Ek wat mens is. Ek wat eintlik alles is.”

Dat die prys van vryheid onmoontlik duur is, staan baie prominent ook as waarskuwing vir ons vandag.

Motiewe:

Talle motiewe tree as bindmiddels in Philida se verhaal op met die tema Wat is vryheid? as belangrikste fokus.
Ander motiewe is skoene, brei, skaduwees.

Brei en skaduwees:

Albei metafore beeld die maak van stories uit. Philida sê: Ek brei my storie end-uit. Of ek kan sê: Ek vertel my trui heelpad. Want die twee loop saam. (65)

(69): “ ‘n Mens se skaduwee, dis soos Ouma Nella al baie gesê het, hy’s soos jou storie, hy kom ook heelpad saam, dag en nag”

(73): “ Daar kan altyd met my gemaak word wat ander mense met my wil maak. Ek is ‘n stuk breiwerk wat deur iemand anders gebrei word.”

Skoene/ loop

5.

23:” … die man of vrou met skoene aan die voete, die is nie slaaf se kind nie, die is ‘n vry mens. Die is mens.”

30: “ …vir ons is daar nie meer baas en slaaf nie, dis net ek en jy, ek blo en ek blo en ek blo, van nou af dra ons altwee skoene.”

33: “ want Philida is ‘n slaafkind en slawe en skoene kom nêrens by mekaar uit nie. … Vir haar was dit eintlik nooit die vrykoop self wat saak gemaak het nie, dit was die skoene.

36: …ek en Frans en Kleinkat en ons kinders saam, vry, vir altyd en altyd en met skoene aan.”

40: “ Al wat ek kan doen, is om my loop te loop, om my eie storie met my eie voete in die sand te skrywe.’

Legendes en mites van die oermense:
Saam met Philida se verhaal loop die wonderlike stories wat sy van kindsbeen gehoor het en leer ons die stories van ons verlede:

64: die Waterslang, die Naglopers, die Watervrouens, die langhaarvrou, die ouvrou met net een groot oog, die hotnotsgod.
66 die mannetjies onder die Bakkrans – oor die skepping en die sondeval

243:/ 267die trapsuutjies en die maan
Ander sake:

Uitbeelding van die lewe aan de Caab in die vroeë 19e eeu

112/113 die Kaapse mark
154 vandusie
Labyn se stories oor die Koran en Mohammed
206 inventaris van besittings

Kleinkat, die vark en die kekkelende trassiehen (karikature van kritici? – Joan Hambidge en Zelda Jongbloed}) is almal aspekte wat die karakters belig en selfs humor bewerkstellig.

Die taalgebruik is ouwêrelds en soms kinderlik naïef, maar oortuig in die mond van karakters uit daardie era. Sommige karakters soos Cornelius en Ouvrou Janna bly egter karikatuuragtig, maar Frans word tog meerdimensioneel geteken. Of Brink daarin slaag om in die perspektief van ‘n vrou te oortuig, bly debatteerbaar. Ten spyte van kritiek deur o.a. Jakes Gerwel, Ena Jansen en Izak de Vries, is daar tog genoeg om die leser te laat nadink oor ‘n tydperk in ons geskiedenis wat soms blyk nog nie verby te wees nie.

Elize Gerber
Julie 2013

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s