Reisiger – Elsa Joubert

Notas by die bespreking van Reisiger – Elsa Joubert,  by Kleinmond Leeskring.

Boekbespreking.

Vir my gaan hierdie boek oor die insigte waartoe Elsa Joubert die skrywer, die mens, die vrou en ma, die Afrikaner en Suid-Afrikaner (Afrikaan)  gekom het; sy het gesoek en bevraagteken,  en baie gevind, waarmee sy die leser boei, empatie wek, verstom en meesleur.

Biografiese inligting oor Elsa:

Gebore in die Paarl op 19 Oktober 1922 (90 jr. oud), word groot in ‘n huis waarbinne  haar intellektuele skerpte geslyp word. Haar pa is verbonde aan die onderwyskollege en sy liefde vir Afrikaans en werk met woorde dra hy aan haar oor; amper as ‘n soort juk wat sy die res van haar lewe sal dra; om in Afrikaans te skryf en politieke sake van die dag te bevraagteken.  In hul huis se solder kom hulle o.a.  af op geskrifte, notules ens. van die GRA. Iets wat haar Pa baie opgewonde gemaak het, onthou sy (in ‘n Wonderlike Geweld, eerste deel van haar outobiografie). ‘n Broer van Oom Lokomotief (J J du Toit) het glo in hul huis gewoon, voorheen. Sy kom uit ‘n vooraanstaande en bekende Bolandse familie. Haar oupa, Ds. de Villiers van Worcester, getroud met een van die vele Murray dogters, uit die bekende kerkfamilie van Wellington-faam. Haar ouma dus Engels, en daarom praat haar ma en die familie aan moederskant baie Engels. Dwarsdeur haar reise kom mens ook agter, die bande met vooraanstaande Afrikaners, die wete dat sy  na aan die elite staan en deur die Afrikaner establishment omarm word, sy betree ook die binnekringe van die destydse politieke kernsirkels deur familiebande met minister Klasie Havenga. In Europa hou verskeie ambassadeurs ‘n oog oor haar, en verskaf werk, waar nodig,  sy is bekend by koerantredakteurs en skryf steeds vir Die Huisgenoot en ander publikasies terwyl sy as jong meisie in Europa toer.  In Parys is dit Maud Sumner, en Jan Rabie wat hul oor haar ontferm.  Deur haar lewe is sy bevriend met die bekendste Afrikaanse skrywers en kunstenaars:  Rykie van Reenen (mede-joernalis), Ingrid Jonker, André Brink, Uys Krige , Audrey Blignaut, Anna M Louw, Marjorie Wallis, Ettiene le Roux ea. Sy het dus reeds vroeg ook met die kunstenaars kennis gemaak en in hul dampkring  beweeg. Hul invloed beleef.

Lys van boeke en lys van toekennings:

  1. 1.  Titel van die boek:

(Prof Gerrit Olivier UJ.) “Reisiger is veel meer as die normale outobiografie.  Joubert kombineer op vernuftige en meevoerende  wyse ‘n vertelling oor haar lewe as volwassene met die deeglikheid van ‘n historiese navorser, die nuuskierigheid van ‘n ontdekkingsreisiger en die karakteriserende , strukturerende en soms slinkse vermoëns van ‘n deurwinterde romanskrywer.” ‘n Memoir in die vorm van ‘n roman, ‘n reis deur selfontwikkeling en selfontdekking, ‘n reis in die gees, intiem en eerlik tot op die been, reis die leser saam met Joubert ook deur haar hele oeuvre , wat mens van voor af inspireer om dit alles weer te lees, met meer insig.

Reisiger wys heen na Elsa se nimmereindige wanderlust, sy reis as jongmeisie van 25 alleen Afrika deur, hoogs onkonvensioneel, met ‘n boot  van Mosambiek na Dar es Salaam, Zanzibar, Mombasa, en verder deur Nairobi na die Victoriameer in Kenia en Uganda, om die oorsprong van die Nyl te sien en verder per boot al langs die Nyl  deur Ethiopië en die Sudan na Egipte! Sy is , in haar eie woorde, die Limietberge oor… Dit is in der waarheid die naam van ‘n reeks in die Du Toitskloofberge, maar in haar geval, het dit ook simboliese betekenis. In haar tydsgees en skryfwerk, en emosionele welstand  is sy die limietberge oor. Sy waag dit om te skryf oor sosio-politieke gebeure in SA wat haar teen die bors stuit. Sy reis uiteindelik nie net deur die wêreld nie, maar hierdie boek (soos Wonderlike geweld) is ‘n reis deur haar eie emosies. Sy beskryf met verstommende eerlikheid en detail haar emosies as jongmeisie, waar sy halsoorkop verlief raak op Mahmoed ‘n Keniaanse Indiër. Die tweespalt tussen haar liefde vir Mahmoed en die vir Klaas word op emosionele wyse op die spits gedryf toe hy siek lê in Stockholm en sy besef “dis net ‘n romantiese vervlietenheid”. Die hele boek reflekteer haar emosionele tweespalt en die teenstrydighede waarteen sy baklei: Afrikaner Patriotisme aan die een kant; en teenkanting teen die apartheidskonsep.  Dit brei ook later uit na godsdiens begrippe  en oriëntasies waarin sy nie altyd tuis voel nie. In haar eie woorde sê sy dat haar reis nie net deur die wêreld is nie, maar ook ‘n reis na binne. (Bls. 194 gesprek met Anna M Louw, en Sarah Goldblatt.)

André P Brink sê: Sy verander self die wêrelde waarin sy reis, en gee ‘n vertolking daarvan. Dit is veral duidelik in haar reise deur Afrika, sy wou uitvind wat beteken Afrika, wat spel Afrika en hoe sy daarin pas, as wit Suid-Afrikaner.

Reis is uiteindelik ook die lewe; ‘n lewensreis vir elke mens, van groei en verander en insigte kry en nuwe koers inslaan en terugkyk na wat was, vorentoe na waar die hoop jou vat…  Maar weer die teenstrydigheid, sy kry die oorweldigende gevoel dat sy net vry sal voel as sy geanker is, sy wil reis, maar wil geanker ook wees, aan haar gesin,  taalgenote, volk. Dis hieroor waarvan haar seun Nico praat in die Volksblad as hy sê dat sy ma skryf as haar dagtaak benader het. “Sy was nie ‘n ware Sestiger nie”. Haar tydgenote (al die sestigers) was “uitgelate, sorgeloos, mense wat hul kunstenaarslewe eendoelig en selfbevredigend uitleef”.

Sy besin oor die hoé van reis, as sy sê: “reis, alleenreis, is ‘n koerasie ervaring: afskeid neem, dinge laat inplof, jouself uit ‘n ander hoek sien. ‘n Nuwe hoek. As jy alleen reis praat jy nie baie nie” (bls 385).

Elsa se skrywerskap word ook in haar teks op subtiele wyse verbind aan die motief van die lewe as ‘n reis, as reisiger-wees op jou lewenspad, ook saam met Klaas, haar lewensmaat.  Die vergeelde foto van haar en Klaas op die buiteblad illustreer die gedeelde skrywerslewe waarin reis ‘n sentrale rol gespeel het. “ons was saam op reis aan die soek vir die summum bonum “: (verklaring in die Oxford Dictionary) die hoogste ideaal waarvolgens  waardes en prioriteite vasgestel word in ‘n etiese sisteem.  Dus die sin in die lewe.

  1. 2.  Temas:

Tweespalt, identiteitskrisis, digotomie, teenstrydighede, wroeging, reis: Dit vorm die litirêre motief vir feitlik al haar verhale. Die konflik tussen die riskante ideaal van skrywerwees en die koestering binne veilige familiebande; die tweespalt tussen Afrikaner patriot wees en Afrikaanse skrywer wat moet ontbloot, moet vrae vra en antwoorde soek, verantwoordbaar wees.  Die Afrikaanse wees in Afrika. Haar liefdesverhouding, nie net met haar taal nie, maar ook met Afrika, en met reis, is ‘n tema dwarsdeur haar oeuvre.

Van jong meisie af wou sy skryf,  sy het skryf as baie ernstige lewenstaak gesien, maar sy het in haarself getwyfel, en dit het telkens na die oppervlakte gekom as onvermoë om te skryf, anders as joernalistiek, waarin sy haar gemaklik gevind het.  Tipies onder die invloed van die tydsgees, het sy skryf nie as “werk” beskou nie, eerder as ‘n “selfverwenning of ego-vertroeteling”  (bls. 247)waarmee sy haar tyd mors. En dit was juis die groot digotomie in haar lewe; mag mens maar skryf as jou werk sien, of nie? Dit is dan juis daarom dat sy nie soos haar mede-sestigers haarself hart en siel in ‘n soort boheemse oorgawe net in haar kuns verdiep het nie, maar ‘n goeie ma en vrou en gedissiplineerde skrywer geword het.  Sy het selfs skuldig gevoel toe sy langs die swembad waar haar kind gala swem, sit en aantekeninge maak vir haar nuwe boek, wat sy met vaart geskryf en klaargemaak het: Ons wag op die KapteinLees bls 146! Die beeld wek geweldige empatie by die leser.

Wroeg oor godsdiens, vertwyfeling en bevraagteken van gevestigde gebruike laat haar Die laaste Sondag skryf.  Sy voer ook baie gesprekke met Sarah Goldblatt en Anna M Louw  oor godsdiens. In Gordel van Smarag vra sy saam met Leipoldt die vraag, of dit gewens is , om waar daar reeds ‘n gevestigde godsdiens met al sy inherente waardes en gebruike is, dit te probeer vervang met ‘n nuwe?

  1. 3.  Skryfstyl, beeldspraak en taalgebruik:

Ek verkneukel my telkens oor haar ryk woordeskat en uitstekende beheer van die taal, die instrumente waarmee sy kap en beitel, skuur en skaaf totdat die meesterstuk voltooi is. Dit wil my voorkom asof sy doelbewus ook argaïese Afrikaans gebruik, moontlik omdat sy haar memoirs skryf; uit die veertigerjare vorentoe. Voorbeelde: toverlantaarn (bls 419), efemeer (kortstondig  bsl 419), ‘n stapel voldane (kwitansies), selfveilhebbende liefde vir my land (selfopofferende bls 60),  benieud (nuuskierig), horssweep. Afwisselend gebruik sy eie woordskeppings (sieleblyheid, eindbestemmingloos), oud (vasgereent, ewenwel) en nuut langsmekaar. Dit sorg vir’n  interessante leeservaring.

Sy begin die boek in die verlede tyd maar gaan ongemerk oor in die hede. Sy gebruik kort sinne met trefkrag, wat ‘n moderne styl verteenwoordig, maar ook beïnvloed is deur haar joernalistieke loopbaan .

Beeldspraak – die wurgvy bls 224. Is ons apartheidspolitiek die wurgvy  (wat sy in die Heilige woud in Venda gesien het) wat sy tentakels om ons Afrikaanse gemeenskap slaan en ons uiteindelik gaan doodwurg tot net verkrummelde stof gaan oorbly?

Sy het simbolies, apartheid gesien as die rotsriffie waarteen sy vastrap en teenskop, wat haar rede gee om te skryf. En toe apartheid verval, soek sy ‘n nuwe rotsriffie om teen vas te trap, nuwe inspirasie om oor te skryf. Dit vind sy dalk in ‘n onderhoud met Melt Myburg in Litnet, as sy haar bekommernis uitspreek oor die moontlike verdwyning van Afrikaans, en oor die mense se stilswye oor plaasmoorde en misdaad “mense probeer dit vergeet, wil dit nie beleef nie…Om oor plaasmoorde te praat is soos om ‘n faux pas in ‘n geselskap te maak….Mense is te bang om dit in die oë te kyk”.

Uitstekende beskrywings,  lees bls. 200 Mosambiek, en, 229 en 230; Angola.

  1. 4.  Bevraagteken van heersende strominge, en insigte:

In ‘n Wonderlike geweld ( dit is haar pa se beskrywing van die jeug, wat met geweldige drang vorentoe beur en groei en nuwe lote uitstoot), beskryf Elsa haar vorming as jong patriot, wat Afrikanerwees as ‘n soort heiligheid beleef, en later ontnugter staan teenoor die dwalinge van Afrikanernasionalisme, soos sy dit beleef.  Haar reise deur Afrika en ook in Suid-Afrika (Venda) bring kennis van die swart inheemse mense , want sy voel ons KEN nie die swart mense nie, hul gevoelens en begeertes en kultuur nie.  Sy vra haar af wat maak Westerlinge in Afrika? In Missionaris vertel sy die verhaal van die sendeling  Aart Antonie van der Lingen,  en sy kom tot die insig: Lees bls. 340, 342.

Selfs haar swart skrywersvriend Richard Rive sê vir haar: “You agonise too much. Relax.”. “Writers cannot change the laws but they can change the climate in which laws can be changed”( Bls 236).

Die geweldige stryd in haar, soos reeds bespreek, kom tot ‘n spits toe sy aansluit by die Skrywersgilde en binne die dampkring van mede Afrikanerskrywers wat soos sy dink, tot die insig kom:  dat patriotte blindelingse navolgers van politieke leiers is, terwyl die taalpatriotte daarteen veg. So troos sy haarself.  (Sy skryf aan Chris Barnard om hom te bedank vir sy bydrae, wat vir haar ‘n Eureka oomblik was, sy pos nie die brief nie-): lees bls 246, 247 -8. Sy voel bevry van al die teenstrydighede, die klippe in haar pad, en ook vind sy weer haar godsdiens-anker, en bid tot God.

Na haar verliefdheid op Mahmoed, kom sy tot ‘n insig van groot belang: “Ek het gedink: Almal het een liefde vir wie jy, mét wie jy sou wil sterwe. Dis nie die swaarste nie. Daar is ‘n ander, sterker liefde vir die mens met wie en vir wie jy wil léwe.”  Haar pad saam met Klaas bly deurentyd vir haar haar anker.

Die swerfjare van Poppie Nongena maak opslae oor die wêreld en gooi haar in ‘n maelström van politieke debat, Afrikaners wat haar verguis , maar veral die reaksie van Engelsprekendes, die grype na haar boek vir hul eie belang, laat haar voel  asof sy papgetrap is deur die politieke uitbuiting van die boek. Haar daaropvolgende depressie en volslae moegheid  lei na verdere insigte: Die psigiater meen dat sy skuldig voel oor die dood van haar sustertjie, maar sy sê: “Ek dink nie ek rou oor my sussie nie. Ek rou oor die dood van die kind van ses wat ‘n patriot wou wees. Die kind van sestien met ‘n brandende fakkel in die hand wat haar wil uitgiet in die brandende olie vir haar volk. Die kind wat deur my verraai is.”

Na haar reis in Europa, vra sy haarself die vraag: waarom gaan sy terug na SA? Die antwoord: “Omrede my taal, wat my medium is, omrede my gehegtheid aan die stuk aarde waarop ek gebore is, en, voel ek, omrede ‘n gevoel van betrokkenheid, selfs verantwoordelikheid teenoor daardie stukkie aarde”.

In haar boek,  Gordel van Smarag,  waar sy op die voetspore van Leipoldt, ‘n kinderheld, volg na Indonesië, Java en Batavia,  word sy opnuut bewus van die digotomie van Afrikanerwees. Sy sien dit as tussenlanderskap, nog vis nog vlees, met ons lojaliteit en liefde vir ons geboorteland, maar tog is ons geestelike landskap Europa. Ons is beide die koloniseerder en die gekoloniseerde (deur die Engelse). Op die reis besef sy die universele waarheid, waar die onderdrukte vry word, volg naamsverandering.  Batavia word Jakarta, Buitenzorg word Bogor,  en so ook byna al die ou Hollandse stadsname.  Hier ontdek sy Afrikaanse woorde pondok, kampong, lokasie, doepa (wierook) , en dat ons mense se dj-klank van Java kom. Djakarta, djava, djamu (djy djou djuffrou!).

  1. 5.  Resensies:

Andre P Brink op Woordfees: Elsa sien deur haar reise ‘n Afrika met nuwe oë; sy reis ook deur die oë van Poppie Nongena. As jy haar verhale lees moet jy bedag wees op waar die verbeelding jou heen lei, jy toer na ‘n verbeelde werklikheid. In Ons wag op die kaptein is haar boodskap: ‘n Mens moet kan sê of dit na alles, die moeite werd was hier op aarde, ‘n soort wag op die apokaliptiese! 

Prof Naomi Morgan in Volksblad: Haal die mees roerende stuk aan waar Klaas vir Elsa beskryf hoe hy die dood sien, en dit bring insig en berusting vir haar! Lees bls 459:

Melt Myburgh onderhoud op Litnet: Deurentyd is sy gedryf deur die wil om die feite na ons mense te bring, sy het dit as opdrag gesien, en gevoel ons is baie afgeslote hier aan die suidpunt van Afrika “ons was net vreeslik apart!”

Prof Gerrit Olivier (direkteur van die Sentrum vir Europese Studies aan die UJ )met die oorhandiging van die UJ prys vir skeppende skryfkuns: Joubert bring ‘n besonderse, intieme soort geskiedskrywing tot stand, in ‘n teks wat vir die Afrikaanse letterkunde, en ‘n begrip van die afgelope sestig jaar in SA, van blywende waarde sal wees” Sy gee ‘n histories belangrike ooggetuie verslag van belangrike gebeure. (aanval op Verwoerd, Bram Fischer verhoor, Afrikaanses in Patagonië, persoonlike besoek aan Nelson Mandela , ens).

Henriette Roos van Unisa in die tydskrif vir letterkunde:  Onder die nuwer insigte is die vrees dat Afrikaans gaan uitsterf, soos in Patagonië; haar ambivalente verhouding tot die amptelike kerk wat voorkom in haar boeke soos Bonga, Die laaste Sondag, Missionaris en Twee vroue. Die onmiskenbare boodskap word in hierdie outobiografie oorgedra: “in jou einde is jou begin” (bls 439). Waar die verhouding met Mahmoed haar laat glo het dat donker en lig saam kan wees, wéét sy na Klaas se dood dat sonlig en skadu een is..”die deurgeskifde loshangende stukke tou van my lewe is opgetel en vasgebind…die reis van mens tot mens (is) afgelê”….die oorlog is verby” bls 487.

Bespeking deur Mariana Celliers.

Mariana Celliers aan die woord

Mariana Celliers aan die woord

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s