Notas by die bespreking van Coconut – Kopano Matlwa

COCONUT

Welcome Kamogelo (noun)  Amogela (verb)

Vir my was die eerste bladsy van Coconut baie opvallend. Ek het nog altyd gedink dat mense, oor die algemeen, veel meer aandag skenk aan hulle hare as enige ander deel van hulle liggaam. Maak nie saak wie jy is nie, is hare die ding wat meeste pla –  dis óf te krullerig óf te pen reguit óf die kleur is verkeerde, óf jy het te veel of te min. As jy donker hare het, wil jy blond wees en so gaan dit aan. Mens is nooit tevrede nie.

Maar vir die eerste keer sien ek hoe ‘n mens se hare ‘n ander jaloers kan maak. In Coconut begin Kopano Matlwa om haar karakter Ofilwe aan Kate Jones se wonderlike weelderige  hare te laat bewonder. So beskryf  sy dit:

Kate Jones had the most beautiful hair I had ever seen in all my eight years of life. Burnt amber. Autumn leaves. The setting sun. Her heavy and soft hair, curled slightly at its ends, would make proud swishes as she rolled the playground.

Maar al was Kate se hare besonders mooi het Ofilwe gou besef dat Kate se ander kenmerke nie so bewonderbaar was nie. In teendeel, sy was onbeskof en onintelligent, vet en onaantreklik. Nogtans, omdat sy hierdie wonderlike hare gehad het, het veral die klein swart skoolmeisies agter haar aangeloop om gunste vir haar te doen, om net een keer aan die wonderlike hare te vat.

So begin Coconut, met Ofilwe wat nie inpas nie, alhoewel sy nes haar ander skoolmaats in ‘n goeie en mooi woonbuurt woon. En dis die probleem van baie jong swart mense van vandag. Hulle voel net nie gemaklik nie. Wat hulle eintlik begeer, is ‘n wit vel.

Die boek, Coconut behandel die probleme van Ofilwe aan die eenkant, met  haar wêreld vol luuksheid, en aan die anderkant dié van Fikile, ‘n meisie van ‘n arm buurt, wat sukkel om haar plek in die wêreld te vind, alhoewel sy dink sy weet wat sy moet doe nom dinge te verander en hoe sy haar moet gedra. Fikile weet sy moet elke tydskrif verorber om die wyse en leë van dit witmens na te aap.

Maar voordat ek verder gesels oor die boek, eers ‘n bietjie oor Kopano Matlwa wat die boek geskryf het terwyl sy medies geswot het aan die Universiteit Van Kaapstad. Ek dink, en miskien is daar ander wat ook so voel, Kopano het net so ‘n tikseltjie van haar karakter Ofilwe in haar. Miskien is daar baie meer van Ofilwe in Kopano as sy self sal herken. Gewoonlik is ‘n skrywer se eerste roman ‘n mengelmoes van die skrywer en die fiktiewe karakter, maar dis pure bespiegeling van my kant.

In elk geval, om Kopano te verstaan moet ons ook die Pedi verstaan, want sy ‘n lid van dié stam. Die verskillende stamme en familie bonde van swart mense is baie ingewikkeld. Soos ek dit verstaan, en miskien is daar iemand in die gehoor wat beter kennis het van die saak, so by die vroeë 1800’s was daar verskeie stamme swartmense in die noord-oos Transvaal en die Pedi was alreeds daar woonagtig so tussen 1850s tot 1890’s. Die Engelse het hulle Noord-Sotho genoem, en vandag is dit ook ‘n stam naam wat nog steeds in gebruik is. Nogtans vorm die Pedi maar net een deel van die groot stam familie. Tot vandag toe gebruik hulle al twee name.  En ek bly by die naam “Transvaal”, die plek  waar hulle woonagtig is en nog altyd was. Die mense het hulle geïdentifiseer deur hulle simbolies  getrouheid aan hulle totemiese dier, en na deeglike navorsing vind ek uiteindelik uit dat hulle totemiese dier die gevlekte hiëna is.

Die Pedi het ook bekend gestaan as Bapedi,  Bamaroteng, Marota, Bastho, en  soos ek al reeds gesê het, Noord Sotho. Nou ja, in daardie vroeë jare het die mense stryd gevoer met die Boere oor die besit van die land. Nadat diamante gevind is in die Kaap het baie van die Pedi mans werk gaan soek op die myne. Hulle was nog altyd mense wat hard gewerk het en baie gehegte famielie bande gehad het.

Dit blyk of die Pedi of Noord Sotho tot vandag toe baie hooggeplaaste lede het. Uit ‘n baie baie lang lys van mense van belang, het ek die volgende gevind, en ek is seker julle het ook van hulle gehoor: DJ Sbu Leope, Yvonne Chaka Chaka (of te wel Yvonne Machaka haar regte naam), Prof William Makgoba, Julius Malame (en ek is nie seker of hy in die lys hoort nie,miskien moet ek liewer sê die swart skaap in die familie) Dr Mponsheng Manthata, Richard John Maponya, Ludwick Marishane (die eerste Suid Sahara Afrikaan om ‘n werld se sake-onderneemer’s toekenning te wen) Hugh Masekela (musiek kenner) Baby Jake Matlala – die bokser, Charlotte Maxeke ( ‘n verpleegster – ‘n hospital is na haar genoem), Eerwaarde Stanley Magoba, Peter Mokaba, Kgalema Motlante, ons onder president,  skrywer Prof Eskia Mphahlele, (ons het mos verlede jaar van sy boeke  bespreek), Justice Makgabo Ngoepe, Matthews Phosa, Dr Mamphela Ramphele (dié is nou in die nuus met haar nuwe politiese party Agang). En wie ken nie die naam, Caster Semenya, Judith Sephuma en Tokyo Sexwale onder ander. Selfs Modjadji die ‘Rain Queen’ is een van hulle stam. Dis mos almal baie bekende name.

Die mense is wyd gesprei oor die Noordelike helfte van ons land. Hulle taal word deur oor die 5 million mense gebruik as huistaal in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga.

Nietemin wil die jong mense nou liewers Engels leer, Engels praat en hulle oorsprong vergeet. Dis eintlik baie terneerdrukkend om te dink dat, soos Kopano Ofilwe se lewe beskryf die kinders nie hulle huistaal geleer word nie maar liewers Engels wat hulle dink hulle ‘n beter kans sal gee wanneer hulle in wye wêreld instap. En met die gebrek aan huistaal, verloor hulle ook die vermoë om met hulle oumas en oupas te kommunikeer en die ou stories van hulle voorouers te leer.

Ek het hier ‘n diagram van taal gebruik in Suid-Afrika. Dis nie te verbasend om te leer dat Zoeloe die grootsste hoeveelheid sprekers het, Xhosa in die tweede plek, en Afrikaans in die derde (Is dit nie goed om die weet nie?) Pedi of Sotho volg as  vierde, met Engels slegs in sesde plek. Die lys is ‘n paar jaar gelede opgestel so ek wonder of dit nou wel verander het.

 

Die  Pedi stam het in die 1800’s in aanraking gekom met die  Berlin Missionary Society en Christelike geloof het toe  oorgeneem van hulle eie geloof  Hulle het geglo in aanbidding van  hulle voorvaders wie glo vir hulle spirituele leiding gegee het.

Dis dié dat Ofilwe vir haar Ma vra:

What did we have before the missionaries came Mama?”

“Badimo”

“Badimo?”

“Yes Ofilwe Badimo”

“Badimo and what else?…(.Page 9″)

Badimo is die word vir die gees van die voor-ouers.

Wikipedia stel dit so:

Ancestral worship (phasa) involved animal sacrifice or the presenting of beer to the shadows, on both the mother’s and father’s side. A key figure in family ritual was the kgadi (father’s older sister). The position of ngaka (diviner) was formerly inherited patrilineally, but is now commonly inherited by a woman from her paternal grandfather or great-grandfather. This is often manifested through illness and through the violent possession by spirits (malopo) of the body, for which  the only cure is to train as a diviner. There has been a proliferation of diviners in recent times, with many said to be motivated mainly by a desire for material gain.

Laat ons hier ook verstaan dat dit nie net hulle geloof is nie wat ons sendelinge en die wit mense verander het, maar ook hulle leefwyse  Ons het nie verstaan hoe hulle sisteem werk nie  en het gedink hulle moes liewers ‘n westerse leefstyl aanwend.

Hier teen die vroeë 1960’s was 48% van die mans van die huis weg om geld te verdien op die myne of in die stede. Net ‘n klein getal  het op die lande bly werk, terwyl al die vrouens vir eers sonder uitsondering tuis gebly het. Met die manse se vertrek na die stede, moes die vrouens hulle werk oorneem,  en die kinders alleen grootmaak.  En hier praat ons van ‘n vrou wat gewoonlik ongeleerd was.  Maar toe die kinders begin skoolgaan het, het hulle begin strewe na beter werksgeleenthede, soos die van  staatsamptenare, onderwysers, dokters, verpleegster en so meer.  Tog met die apartheid wette van die tyd het hulle geen kans gestaan nie om hulle te bevorder  en  hulle sit toe met geleerdheid wat hulle nie kon gebruik nie.

So, vir die swart man, was dit ‘n taamlike lang periode van aanpassing, want hulle leefwyse het totaal verander van wat dit vir eeue was maar hulle moes nog lank wag om werklik ‘n westerse leefstyl te geniet.

En hier haal ek uit een van die talle resensies wat ek gevind het:

Dis die manier waarop die waarheid van so ‘n leefstyl bloot gestel word, wat  die boek Coconut so ‘n interessante boek maak. Dis ‘n perfekte voorbeeld van hoe jong mense vandag voel en hoe hulle weier om minderwaardig te wees alhoewel hulle nog onseker is óf hulle in die ware sin van die woord ‘aanvaar’ word deur ander rassegroepe. Dis nie ‘n kwessie van wat ander mense van hulle dink nie, maar hulle eie denke wat hulle terug hou. Die antwoorde op dié vraag is ‘n las wat hulle eeue lank saamdra, ‘n las wat hulle van hulle ouers en voorouers geërf het, Dis  iets wat hulle eintlik al jare van te vore moes baasgeraak het. Matlwa gee vir ons dié digotomie op ‘n briljante wyse soos sy vir ons vertel hoe hulle hulle daaglikse dilemmas ervaar.”

Op die een hand het ons vir Ofilwe, a bedorwe meisie sonder enige kulturele waardes wat groot word in die voorstede van Johannesburg. Sy sukkel om haar eie identiteit te vorm in die nuwe wêreld wat haar pas-ryke family vir haar skep. Sy voel gestrem deur geestelike konflik wanneer sy besef watter prys sy moet betaal om deur die welgestelde, gevestigde wit gemeenskap aanvaar te word. Dié ondervindinge sit haar vinnig op haar plek  met woorde van berisping elke keer wanneer sy haar omdraai. Sy verteenwoordig ‘n geslag jong swartes wat dwaal in ‘n wêreld vol geleenthede en voorreg, ‘n geslag wat die skuld van ongekorrigeerde geskiedenis dra. Tog weet hulle nie hoe om dit met mening te ontrafel nie.

Fikile, die ander heldin in die verhaal, is aan die ander kant meer verteenwoordigend van die meerderheid jong mense van vandag. Sy is meer ambisieus as die meerderheid minder bevoorregtes wat deel maak van die lokasies. Sy wil die wêreld van Ofilwe en Ofilwe se broer teen enige koste besit. Tog, nieteenstaande haar nederige en ongelukkige kinderjare, sien ons hoe haar intelligensie haar laat seëvier oor al die aaklige dinge wat met haar gebeur, en selfs haar vel kleur kan haar nie terug hou nie. Sy probeer om meer innemend te wees vir wit mense,  haar van haar swart agtergrond te disassosieer. In haar wêreld is alles wat  wit is goed en wonderlik, en alles wat swart  is sleg en lelik. Sy vertrou nie haar mede swart gemeenskap nie.

En nog ‘n uittreksel lees so:

“Die sin van humor wat deurdring in Coconut is wat dit so interessante storie maak.  Kopano Matlwa se boek is ‘n  moedige poging, want sy is  glad nie bang om die waarheid te vertel nie. Dit is nogtans ‘n moeilike storie om te vol  soos die skrywer beweeg van die een heldin na die ander  en wat dit soms effe verwarrend maal vir die ongeleerde leser.”

Kopano Matlwa is ‘n sensitiewe en emfatiese skrywer en vir haar jong ouderdom is sy baie bekwaam. Die feit dat die boek twee groot pryse losgeslaan het, is bewys van haar talent. Die European Award is een van die pryse en die ander is die begeerde Wole Soyinka Prys vir Literatuur van Afrika.

In ‘n onderhoud, is Kopano gevra wat  haar laat skryf het, en sy sê toe dat die skryf werk net outomaties gevolg het op lees. Sy is ‘n  gierige leser en vind dat wanneer ‘n mens skryf jy enig iemand kan wees wat jy wil. Sy gee die voorbeeld van ‘n karakter wat ‘n mens se ergste kenmerke het, ’n  karakter wat onbeskof en aanstootlik is ‘n karakter wat net alles uitblaker sonder om te dink, ‘n karakter wat ander se gevoelens dalk seer maak, en tog word hulle nooit berispe nie. In werklike lewe kan mens dit nie doen nie. Ons skuil altyd weg met mooi praatjies en ons sê nooit hoe ons werklik voel nie.

Kopano moet so iets van ‘n wonderkind wees want sy sê dat skryf en dokter word goed bymekaar pas. (Ek weet van skrywers wat net aan hulle skryfwerk  dink – selfs huiswerk en kosmaak is van geen belang nie.) Kopano voel medisyne gaan oor mense, mense wat strewe om te oorleef,  en vir haar om sin te probeer maak uit filosofiese ‘goed’,  is om die wêreld van skryf aan te pak,  Dit is vir haar  ‘n natuurlike uitbreiding van die proses. Sy sê boeke skryf gaan nes  medisyne oor mense.

Gevra of Coconut deur ‘n spesifieke insident in haar skoolloopbaan geïnspireerde was, sê sy so ja en nee. Sy het baie daaroor gedink, die idée om ‘n boek te skryf, terwyl sy nog op hoërskool was. Maar  dan het sy ook oor baie ander dinge gedink het, soos byvoorbeeld hoe lank haar romp moet wees, oor  seuns, oor haar wetenskap huiswerk,  oor die matriek dansrokkie, en oor meer oor nog seuns, maar sy het nooit oor enige van die onderwerpe geskryf nie.  Sy sê ook dat  waar sy tuis gegaan het, het gehelp  om deel vorm van haar skryfwerk, tog wat van meer belang is, is  die verandering van die plek,  meer as van die plek self. Maar as een wat groot geword het in Johannesburg, en al het sy medies geswot op Kaapstad Universiteit, sy nie eintlik ‘n Kaapstadse skrywer is nie, wat dit ook al mag wees.

Die persoon wat haar die meeste geïnspireer het was die skrywer Toni Morrison wat sy as ‘n held beskou.

In graad ses het sy ‘n kortverhaal geskryf waarop sy so baie trots was, maar  haar hart is verpletter toe sy die onderwyser se lelike rooi pen merke oral oor die opstel geskryf gesien het, sowel as die  lelike rooi kruisies wat sy daarop  getrek het. Kopano  sê dat sy daarna vir ‘n baie lang tyd nie weer geskryf het nie .En net soos alle skrywers lees sy baie want dis al manier hoe ‘n skrywer sy eie styl kan skep.

Al haar drome is al klaar verwesenlik want sy het geword wat sy nog altyd wou wees, ‘n dokter en ‘n skrywer, en ons praat later oor haar dokter word.

Nogtans was Coconut vir haar ook ‘n verassing. Sy sê sy het niks geweet van skryfwerk nie,  dinge soos literatuur, alliterasie en grammatika, al die goed waarvoor mense hulle dokters graad in filosofie kry, maar dit blyk of dit nie vir haar lesers  juis saak gemaak het nie,  want hulle het tog die boek gekoop. Of miskien, sê sy het hulle nie besef dat sy ’n volkome amateur is nie. Sy vra as mense wel oningelig is oor haar onbekwaamheid, moet hulle asseblief nie wys maak nie. Wat vir haar eintlik van meer belang was, was dat haar gelyke op universiteit die boek op Universiteit bestudeer het. Toe sy dit hoor het sy in trane uitgebars. En sy het so gewens dat sy eintlike geweet het, of eintlik verstaan het, waaroor die lewensplan wel gaan. Die lewe bly vir haar ‘n raaisel.

Haar eie lewensverhaal, lees kortliks soos volg: alhoewel dit nie maklik is om dit ‘kortliks’ om te som nie: En hier vertaal ek van nog ‘ resensie:

Sy is in Mamelodi Daghospitaal gebore in 1985, terwyl die Apartheidsregering besig was om angstig te raak oor hoe lank hulle nog sou kon aanhou met hulle bose regering styl. Stadig maar seker het mense begin wakker word dat hulle tog miskien die ding kon verander, dat mense, wit en swart, saam kon lewe. Mense kon voel veranderinge sou kom. Baie mense het daardie jaar Suid Afrika binne gekom, maar daar was ook baie wat die land verlaat het, terwyl hand granate rond en bont gegooi is, koeëls tussen skare gegooi is, en nog vele meer in gevangenis dood is.

Toe sy ses jaar later begin skool gaan het  is dit die eerste jaar dat swart kinders opgeneem is in skole wat van tevore net vir wittes bestempel was. Sy het geleer om haar naam te skryf, en vele woorde ontdek  soos chewing gum. Mayo, dice and nigger balls,  die lekkers wat haar mond binne swart gemaak het.  Sy het vaagweg geleer dat Tata Mandela, Buthelezi en De Klerk saamgewerk het om oor vrede te besin. Toe leer sy hoe om nie net haar naam te skryf nie, maar ook haar adres en telefoon nommer. En op die tydstip het De Klerk  belowe om alle apartheidswetgewing te eindig.

Teen die tyd dat Kopano begin skoolgaan was al die demokratiese stappe verwesenlik maar toe begin die krake in die pleister van die reënboog nasie uit bars terwyl xenofobiese geweld begin toeneem het. Polisiemanne het honde tussen die skare ingestuur, vermoedelik tussen die onwettige immigrante.

Kopano  begin haar mediese opleiding in 2003 op ‘n tyd wanneer VIGS erg toegeneem het. Politiese stryde het nou plek gemaak vir mediese stryde teen ‘n siekte wat skare jong mense na hulle grafte gestuur het. Mense het saamgestaan teen die farmakologiese maatskappye se onrealisties prysvasstellings. En ses jaar later word sy Doktor Kopano. Sy sê die gevoel wat sy gehad het toe sy haar eerste SMS gekry het om te sê haar eerste salaris is in die bank was iets wat sy lewenslank nooit sal vergeet nie.  Dis toe eers dat sy besef dat sy grootgeword het, haar oë amper gesluit teen die aaklige dinge wat sy as dokter gesien het en waarmee sy daagliks te doen gehad het. Sy weet nog steeds  nie of  mens gewoond raak hieraan nie, maar sy weet dis belangrik om haarself te dwing om nooit te vergeet  van die pyn en lyding van ander nie.

As denkende mens kon sy nie net haar werk doen en dit net so laat nie. Sy het na haar mede mense gekyk, en gesien wat haar pasiënte kort. Ure se sit in lang toue verwyl hulle wag vir behandeling was iets wat Kopano laat dink het. Sy het daar toe geywer aan buitemuurse dinge. Sy wou nie net sit en niks doen nie. Sy moes vir die mense iets meer gee.

En dit was hoe sy haarself gesien het, tog sien ander mense haar so: (en ek haal aan)

Kopano Matlwa is ‘n  inspirerende jong Suid Afrikaner wat nader stap na haar dertigste verjaarsdag. Maar op ‘n jong ouderdom het sy alreeds meer bereik was wat meeste in ‘n leeftyd baasraak. Sy het haar mediese graad agter die rug, sy het ‘n Rhodes Scholarship aan Oxford verower en sy het twee romans geskryf, getrou met die man van haar drome, twee pryse verower vir haar skryfwerk, die Goldman Sachs Global Leaders toekenning gewen, en die Mail en Guardian se lys vir “Must take to Lunch Top 100 South Africans” gehaal.

Sy is die eerste kind in ‘n familie van drie, en het in Midrand Gauteng groot geword. Een van haar eerste suksesse was om ‘n studiebeurs te wen om St. Peter’s College in Sunninghill Johannesburg skool by te woon. Hier is sy etlike jare later as Hoofmeisie gekies en het volle akademies kleure verwerf, (en ek dink sy was ook die eerste Swart meisie om dit te doen op St. Peters)  en ook skool klaargemaak het met sewe onderskeidings.  Die meisie hou net nie op nie.

Na skool is sy Universiteit toe en hier ontwikkel sy nog verder haar belangstelling om  minder bevoorregtes te help. Op universiteit is sy ook lid van die koshuis komitee, ‘n oriëntasie leier, en ‘n lid en raadgewer van die Golden Key National Honour Society, ‘n groep wat bekendstaan vir die ontnugtering van uitstaande leiers.

In haar tweede jaar op mediese skool is sy gekies as en van agt Goldman Sachs Global Leaders en het Suid Afrika verteenwoordig by die Goldman Sacks Global Leadership Institute in New York. En as dit nie genoeg was nie, was sy ook ‘n stigter en voorsitter van die Waiting Room Education by Medical Students, ‘n nie-winsgewende organisasie wat pasiënte in wagkamers leer oor gewone gesondheids probleme en hoe om hulle om vir hulle  eie gesondheid te sorg, ‘n idée wat sy gekry het van al daardie mense wat gesit en wag het op hulle mediese behandeling.

Sy vertel oor haar ontmoeting met haar man so: “Ek het op Universiteit Kaapstad aangekom, met groot opgewondenheid oor die feit dat ek ver van die huis was in ‘n nuwe stad waar ek niemand geken het nie. Maar ‘n paar minute later toe my ouers weggery en my stoksiel alleen  in ‘n klein kamertjie gelos het, het ek begin twyfel of hierdie nuwe avontuur alles so wees wat ek verwag het. Min het ek geweet dat dit alles en nog meer so lewer. Ék het toe nie besef dat ek nie met skelms sal uit gaan nie en dat, nes ek gehoop het, verlief sou raak op ‘n liefhebbende, goedgeaarde seun van Soweto, en uiteindelik sou ons in die huwelik tree.

Sy sê sy dink dat wanneer ‘n mens in hoërskool is en so te sê gevange is binne jou ouers se vier mure en dak, dat jy jou voorstel dat die universiteitslewe elke dag soos ‘n Hollywood rolprent sal wees, propvol wipwaentjie reise. En miskien het sy so effe daarvan op Universiteit ondervind, want wat sy finaal besef het wat sy eintlik voor gesmag het was die normaliteit van tuis wees.  Toe die mooi, liefdevolle, goedhartige ou haar op ‘n date gevra het en hulle  in ‘n huurmotor geklim het  om na ‘n bietjie jazz te gaan luister by die Waterfront, was dit vir haar asof hy haar uitgenooi het om in ‘n ruimteskip om die maan te wentel. Sy onthou dat sy vir ‘n vriendin vertel het, dat hy haar so tuis laat voel het en dat hy werklik ook net so gevoel het oor  haar as sy oor hom. Dit was sy aantreklikheid vir haar. Hy het nie probeer om haar te beïndruk nie,  en hy was sonder enige pretensies. Met hom kon sy net haarself wees, die snaakse meisie, en wat vir haar so wonderlik was, was dat hy so gefassineerd was deur haar as sy met hom met al haar klein eienaardighede.

Om dié rede het dit nie lank gevat nie voordat hy haar gevra het om te trou en dat hulle nou baie gelukkig is met mekaar.

En dis ook in die tydperk dat sy Coconut geskryf het.  Ten spyte van die aanvanklike verwerpings deur die publiseerders, het sy aangehou uitstuur totdat Jacana die boek geneem het, en van daar  af wen dit besonderse pryse, naamlik die EU Literary Award, en die JD Bagwa meriete prys sowel as the Wole Soyinka Prys vir Literatuur in 2010 soos vroeër genoem.

Kopano sê sy was nog altyd iemand met ‘n droom  iemand met so veel doelwitte en miljoene idees. Die wat haar goed ken sê sy is ‘n rusteloos siel, altyd bedrywig met nuwe dinge, en wat haar dikwels oorwerk. Sy kan net nie stilsit nie, Nog voor sy haar mediese studies voltooi het was haar tweede boek  “Spilt Milk’ ook op die rake, met ‘n plek op die Sunday Times Fiction Prize lys vir 2011, al het sy nie die kortlys gehaal nie.

Net na sy gegradueer het, is sy as ‘n Rhodes Scholar benoem en is Oxford toe waar sy haar nou toespits op ‘n Meesters graad in Wêrelds Gesondheid. In ‘n onderhoud onlangs met Brenda Nyakadya vir AfroPolitan sê sy “Fear is a powerfully debilitating emotion, and if you can conquer that, you can conquer anything.”

En nog ‘n verdure resensie lees so: (en ek vertaal)

Om terug te keer na die boek. Mense wat Coconut probeer ontleed sien dit as ‘n veelvuldig gefragmenteerde episodiese verhaal wat ondersoek instel in die ervaring van veranderende kulturele norme en gebruiklikhede in die na 1994 Suid Afrika. Die onderwerp se ongelyke vlakke in die teks laat ‘n mens wissel tussen die teoreties  naderinge en die storie lyn. Dit swaai heen en weer en laat mens effe verdwaald voel. Dis asof jy voel dat jy dit liewers anders sou wou stel. Die storie probeer stereotipes vermy sodat mens hulle eie identiteit kan vasvang in die postmoderne era waarin ons ons nou bevind. Nogtans is ‘n mens nie in staat om dit te doen nie, want ons sit nog steeds met net so ‘n dilemma. Die swart mense is nog huiwerig om die nuwe wêreld aan te pak en hulle plek vol te staan. Die modern jong mens is nog steeds vasgevang in die verlede, al het dinge verander en hulle nou hulle plekke kan inneem. Hulle hunker na die soort vryheid wat hulle dink die wit mense het, maar weet nog steeds nie of hulle inpas nie.  Is dit moontlik dat hulle die wêreld kan oorneem sonder die ‘las’ van die gevoel van ‘wil wit wees’ en net hulle self wees? Kan hulle leer,  en vinnig leer, om die wêreld beheerbaar te maak maar terselfdertyd nie dieselfde  foute te begaan  as die wit mense nie?

Dis heel interessant dat die titel van die boek ‘Coconut’, in vroeëre jare deur kontemporêre Suid Afrikaners gebruik is vir ‘n persoon wat swart  is buite maar wit binne, dit wil sê, iemand met ‘n verdeelde nougesetheid. Hulle sê die word ‘coconut’ was gebruik deur dié wat onder apartheid gely het, en deesdae word dit as rassisties beskou want dit is gebaseer op die begrip dat ‘n mens kan oordeel bloot op velkleur.

Wandile Kasibe, die koördineerder van Publieke Programme by IzakMuseum in Kaapstad praat oor die situasie as “That hybrid space of in-between-ness of the Oreo cookie or coconut consciousness”.

Dus, is dit vir hulle nie maklik om net hulself te wees nie. So is die ervaring van emosionele diaspora, of om self-verdeelde te voel teenoor die mens self, en die onrustigheid van die geheue wat dit veroorsaak, wat een van die mees belangrike onderliggende kwaliteite van Kopano se manuskrip maak. En ek haal Wandile hier aan:

Hier, in ‘Coconut’  sien ons twee jong meisies van heeltemal verskillende agtergronde, maar hulle strewe na sogenaamde vryheid  is eintlik dieselfde – om aanvaar te word deur ander, en wat hulle bo alles wil hê is ‘n wit vel want hulle dink dit sal al hulle probleme oplos, want hulle dink dat mense hulle slegs op hulle uiterlike voorkoms gaan oordeel. Wandile Kasibe, Essay entitled: “Oreosness Coconutness: Not Quite Black, Not Quite White” in “Dis-Location Re-Location: Exploring Alienation and Identity in South Africa” edited by Bronwyn Law Viljoen

  • David Krut Publishing & the University of Johannesburg Research Centre, Visual Identities in Art and Design

Authors: Wandile Kasibe

 

Mens kry ook ‘n baie interessante blik op hoe apartheid ‘n rol gespeel het in die wanfunksionerende familie lewe. Families is uit mekaar geskeur, en word nooit weer terug gesit nie. Ofilwe se ma is waarskynlik minder geleerd as haar man, maar nogtans is sy die een wat toegeeflik moet wees wanneer hy vir hom minnares vat, want haar ouma sê dis beter om in luuksheid te woon met ‘n ontrou man  as om  alleen op die platteland  te woon sonder ‘n mooi huis en meubels, met haar elegante wit leefstyl .  In die ‘tuislande’ sal sy veel erger leef as met die man met wie sy nou getroud is.

Ek het miskien te veel op Ofilwe gekonsentreer? Maar vir my was sy meer realisties geskep as Fikile. En ek dink, al was Fikile een van Kopano se hoof karakters, het selfs Kopano haar nie mooi verstaan het  nie. Kopano het meer ingemeen met Ofilwe – hulle leef in die selfde wêreld, terwyl Fikile van die armbuurte kom, ‘n wêreld  wat ons skrywer nie ken nie. Al is Fikile se lewe soos dié van meerderheid swartmense, is dit vir Kopano iets wat sy net as ‘n buitestander ken. Fikile wil graag die ander weelderige wêreld besit, sy will deel wees van die luukshede en sy streef om daar uit te kom. Sy dink as sy net met hulle meng sal iets miskien aan haar afskuur. Sy voel sy is beter as Ofilwe se familie en sy wil hulle nie eers raak sien nie. Sy beskou hulle amper as minderwaardig as sy self.

Die toneel waar sy Fikile se agtergrond beskryf met die oom wat haar misbruik het  was nie vir my eg geskep nie. Ek glo dat onder daardie omstandighede, soos sy dit beskryf, sou Fikile verkrag word – en gereeld ook. Ek kannie glo dat die oom met minder te vrede sou wees  en haar so maklik sou te laat wegkom nie. Sy was hom verskuldig vir blyplek en sy goedhartigheid.  Hy sou meer wou gehad het in ruil vir goedgesindheid, en Fikile sou die prys moes betaal, want sy het nie ‘n ander plek gehad om na te gaan nie.

Soos Stuart Hall dit stel:

“Biological racism and cultural differentials constitute not two different systems, but racism’s two registers, and racism’s ability to adapt so readily speaks of its increasing necessity to preserve those oppressive boundaries which become more fiercely defended in response to the blurring of these lines by more progressive structures. However, arrayed against colonial authority there is a panoply of counter-discourse across a whole range of cultural forms. He also says that in Matlwa’s novel the counter discourses are at best wishful, older racial foundations are not easily dislodged.”

Dit gesê, is dit waaroor Kopano Matlwa van die begin af gedink het toe sy die stories begin skrywe het? Ek glo nie so nie.  Al is sy ‘n baie intelligente jong dame, glo ek nie sy het die boek geskryf met al die analitiese gedagtes nie. Sy het bloot ‘n storie vertel uit haar eie ondervinding. Sy het mos in die begin gesê sy verstaan nie grammatika en al daardie dinge van skryf nie. y wou net haar woorde op papier kry.

En dit het sy gedoen. Dink julle sy het geslaag?

Thank you Ke a leboga (I thank you)  Re a leboga (we thank you)
Good bye! Sala gabotse (keep well)  Sepela gabotse (go well)

(Magrie Wilson)

 Bestel Coconut hier van Kalahari

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s