Verkeerdespruit – Michiel Heyns

Verkeerdespruit – Michiel Heyns

Die skrywer

Verkeerdespruit is oorspronklik in Engels geskryf as The Childrens Day, en is in Afr vertaal deur Michiel Heyns en Elsa Silke.

Michiel Heyns het betreklik laat in begin skryf. Heyns is op 2 Desember 1943 in Stellenbosch gebore, en hy was dus byna sestig jaar oud toe sy debuutroman, The Children’s Day, in 2002 verskyn het.

Professor Michiel Heyns was vir sowat 35 jaar lank verbonde aan die Departement Engels van die Universiteit van Stellenbosch. Heyns is in die laat sestigerjare as dosent in Engels op Stellenbosch aangestel.

Hy het die grade B. Comm, M.A. en D. Litt. aan dié universiteit behaal, asook ‘n M.A. aan die Universiteit van Cambridge.

In 1987 word hy tot professor in Engels bevorder. In 2003, ná die verskyning van The Children’s Day, tree hy uit hierdie professoraat op Stellenbosch af om hom voltyds aan sy skryfkuns te wy.

Sy uittrede lei tot ‘n periode van groot produktiwiteit. Die roman The Reluctant Passenger verskyn in 2003 en in 2005 volg The Typewriter’s Tale. Sedertdien het Heyns ook die omvangryke roman Agaat van Marlene van Niekerk in Engels vertaal (2006), gevolg deur die vertaling van laasgenoemde se komplekse  romanMemorandum (2006).

Michiel Heyns is dus ‘n akademiese letterkundige en ‘n kritikus, ‘n literêre skrywer en ‘n vertaler.

Enersyds is hy bekend as ‘n briljante student en dosent van die Engelse letterkunde.

Hiervan getuig onder meer sy boek Expulsion and the Nineteenth-Century Novel: The Scapegoat in English Realist Fiction (Oxford University Press, 1994).

In 1993 wen Heyns die Pringle-prys vir sy literêre opstel “Another World Altogether? The Knight’s Tale”.

Dat die skrywer ‘n hoë status as kenner van die Engelse literatuur kon verwerf, en ‘n buitengewoon verfynde en virtuose mag oor die Engelse taal aan die dag lê in sy kreatiewe werk, is merkwaardig as ‘n mens in ag neem dat hy ‘n Afrikaanse agtergrond het en in Afrikaans opgevoed is, op die Afrikaanssprekende platteland. Dié kwessie is trouens van belang vir Verkeerdespruit, waarin die hoofkarakter, die skoolseun Simon, innerlik verdeeld voel oor sy Afrikaanse en Engelse personas, sy dubbele kulturele samestelling as die kind van ‘n Engelse pa en ‘n Afrikaanse ma.

Michiel Heyns se eie pa, verbonde aan die destydse Departement van Bantoeonderwys en later Direkteur van Bantoe-onderwys, was Afrikaanssprekend, ten spyte van ‘n Engelssprekende moeder. Ook Michiel Heyns se ma was Afrikaanssprekend en van Boere-afkoms.

Die jong Michiel Heyns gaan op Thaba ‘Nchu in die Vrystaat skool, asook op

Kimberley en Grahamstad. Sowel op laerskool as op hoërskool is sy onderwys in Afrikaans, met ‘n kort onderbreking in standerd twee, toe sy pa hom in die Engelse klas geplaas het sodat hy Engels kon leer.

Thaba ‘Nchu lê naby die Vrystaatse gehuggies Verkeerdevlei en Tweespruit.

Die naam van die Vrystaatse dorpie Verkeerdespruit in The Children’s Day (en dus ook die titel Verkeerdespruit van die vertaling) is saamgestel uit hierdie twee name.

In dié omgewing het Heyns as kind met groot armoede in aanraking gekom, met die nood van sowel swart- as witmense. Sy ma het soms kos of tweedehandse klere na behoeftige armblankes gebring. Hierdie indrukke is klaarblyklik in Verkeerdespruit verwerk, spesifiek ook in die uitbeelding van Fanie van den Bergh en sy ma, ‘n brandarm vrou met iets wat lyk na ‘n rebelse onafhanklik-heidsgevoel.

Dit skemer onder meer deur in haar gewoonte om alle middelklas-vroue op Verkeerdespruit “Antie” te noem, ongeag hulle leeftyd.

Die roman Verkeerdespruit het dus blykbaar wel outobiografiese tinte.

Nes Simon, was Michiel Heyns op die eenvoudige Vrystaatse Thaba ‘Nchu ‘n kind uit ‘n betreklik ontwikkelde en bevoorregte gesin; ‘n slim laerskoolleerling met ‘n intellektuele ingesteldheid en ‘n groot belangstelling in boeke. Hy was blykbaar ook ‘n kind geneig tot ‘n mate van afstandelikheid en afsondering in sy leesstof, al was hy nie ‘n enigste kind soos sy protagonis Simon nie.

Die res van Simon se verhaal loop nie parallel met dié van Heyns self nie. Soos

vermeld, was Heyns nie ‘n enigste kind nie, en hy was ook nie op ‘n Engelse privaatskool soos Simon nie.

Die Boek

Die het begin as ‘n kortverhaal oor ‘n epilepsie-aanval van ‘n klasmaat waarvoor hy die skuld gekry het. ‘n Vriendin, die Christine waaraan die boek opgedra is, het toe gesê sy wil meer van die skryfwerk sien. “Sy het letterlik die boek die lewe in geneul,” sê Heyns

Maar toe verskyn Mark Behr se Die reuk van appels, en dit was min of meer wat hy self in gedagte gehad het. Die boek is toe ‘n jaar opsy geskuif.

Verkeerdespruit deur Michiel Heyns is een van die lekkerste lekker boeke wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Die taalgebruik was vir my baie treffend, maar dit het my wel gepla dat Simon, hoewel baie slim, sulke amper hoogdrawende woorde gebruik, terwyl hy eintlik nog baie onskuldig en jonk is.

Dit word geskryf uit die oogpunt van Simon, ‘n slim klein seuntjie.

Verkeerdespruit is ‘n boeiende roman – simpatiek, snaaks, skokkend – oor ‘n seun se grootwordjare in ‘n klein Vrystaatse dorpie tydens die sestigerjare. Simon sukkel om sin te maak van die volwasse wereld om hom en is verskeurd tussen minagting vir sy omgewing en ‘n behoefte om in te pas en aanvaar te word. Wanneer Simon hoërskool toe moet gaan, plaas sy ouers hom in die Engelse privaatskool Wesley College op Bloemfontein. Hier skaam die opgeskote Simon hom oor sy Afrikaanse wortels en sy bedenklike verlede as kind uit die agterlike Vrystaatse dorpie Verkeerdespruit.

Hy probeer sy bes om sy “Afrikaanse self” te kamoefleer en op ‘n afstand van homself en van sy Engelse skoolmaats te hou. Daarom is dit ‘n persoonlike en sosiale ramp wanneer die verpersoonliking van sy Afrikaanse self, Fanie van den Bergh, by Wesley College opdaag om as spanlid van “Die Clutchplates,” te kom speel. Op Verkeerdespruit was Fanie ‘n soort skadu-self vir Simon – die arm Afrikaanse seun, en Simon die half Engelse slim seun van die landdros. ʼn Metafoor vir die Afrikaanse en Engelse kant van sy opvoeding dalk?

Verkeerdespruit is nie soseer op ‘n verbloemde outobiografiese jeugherinnering neerkom nie, maar eerder ‘n voorstelling is van die sestigerjare as era, van die lewe op ‘n Vrystaatse dorpie en veral kind-wees

Die boek begin met ‘n soort inleiding met die datum 6 Desember 1968 as opskrif.

Ons bevind ons in Bloemfontein by Wesley College, waar Simon saam met sy Engelse hoërskoolmaats wag op die aankoms van ‘n span tennisspelers, Afrikaanssprekende “Clutchplates” van die Goudveldse Tegniese Skool op Odendaalsrust. Uit hulle agterlike geledere tree ‘n opgeskote Fanie van den Bergh te voorskyn, tot Simon se afgryse.

Later, op bladsy 15, begin “hoofstuk 1”, met as opskrif “1962”. Hiermee word ons van 1968 verplaas na 1962. Simon is op laerskool in Verkeerdespruit en hy ontmoet daar vir Fanie, ‘n armblanke seuntjie uit Ficksburg. Fanie se epileptiese aanval in die klas merk hom al gou as anders, maar anders  die verkeerde kant van die spoor, anders as Simon, boekleser en seun van die landdros.

Verkeerdespruit volg dieselfde patroon van vooruitwysings (na 6 Desember 1968 op Bloemfontein) en terugblikke (na Verkeerdespruit van 1962 tot 1965) tot aan die slot.

Op laerskool is die eerste epileptiese aanval in die klas van die arm, dom nuwe seuntjie, Fanie van den Bergh, vir Simon pure trauma. Dit het geen naam wat dit minder angs-en lagwekkend vir hom en vir die ander kinders in die klas kan maak nie.

Daar is één besonder wrede onderwyser uit die era van aparte skole, skoolgodsdiens, outoritêre opvoedingsmetodes en lyfstraf. Daar is ook ‘n landdros (Simon se pa) wat die land se onmenslike wette moet toepas, en ‘n kapt. Van Niekerk van die polisie. Daar is ‘n Bantoe-kommissaris (mnr. Swanepoel) en dan die dorp se vrome en bemoeisieke moeders, georganiseer in die OVV, ‘n vrouewelsynorganisasie wat hom onder andere besig hou met die uitwerping van ongewenste elemente op die dorp. (Steve) Daar is oorgenoeg mense wat die orde bewaar op Verkeerdespruit.

Die dag 6 Desember 1968, waarop Simon en Fanie teen mekaar tennis speel by Wesley College, kom neer op ‘n kulminasiepunt in die verhaal. Alles wat gebroei het in Simon se vroeë jeug, broei finaal uit wanneer Fanie die tenniswedstryd wen.

Met behulp van sy verfynde, maar afsydige maniere kon Simon sy bejammerenswaardige skaduself Fanie tot in daardie stadium op ‘n sekere afstand hou. Maar aan die einde van die dag 6 Desember 1968 is daar ‘n deurbraak tussen hulle. Simon steek sy vinger in Fanie se mond waar laasgenoemde in ‘n epileptiese aanval in die reën op die grond lê. Dit is ‘n soort nagebootste tongsoen wat vir albei gevaarlik is omdat Fanie sy eie tong mag insluk of vir Simon mag byt. Die gebaar is egter ‘n oorgawe en ‘n kwytskelding. ‘n Mens sou kon sê die “ouer ek”, die verteller, word in ‘n geestelike sin gebore op daardie apokaliptiese dag.

Simon raak verlief op ‘n jong, mooi maar ligsinnige meisie, Jacqueline Swanepoel. Hy is egter bevriend met ‘n ou, lelike, maar simpatieke “meisie”, Bettie die Sentrale, sonder ʼn ken.

Die konserwatiewe waardes van die gehuggie word geïllustreer deur die feit dat Bobbejaanbakkies Botha sy seun Tjaart uit die skool haal omdat daar ‘n verwysing na die evolusieleer is in sy natuurkunde-boek. Hulle is so konserwatief dat hulle die vrugte en avo’s wat in Rustenburg groei, as eksoties beskou.

Verkeerdespruit is vol vreemde karakters soos die ducktail Steve, Bettie die Sentrale, die homoseksuele minnaars Klasie en Trevor, Fanie en sy ma.

Uiteindelik is die roman Verkeerdespruit ‘n geamuseerde en ‘n amusante boek. Dit satiriseer die sosiaal-politieke ongerymdhede van Verkeerdespruit (en ook van Wesley College op Bloemfontein). Maar sommige koddige aspekte van die sestigerera, soos die byekorf-haarmode onder vroue, waarop die “haarstilis” Trevor sy skeppende fantasie laat botvier, word louter vir die pret verwerk en bewerk in Verkeerdepruit.

‘n Interessante geval is die verhaal rondom Mary se afdanking by die haarkapster, wat tot gevolg het dat dié swart vrou na haar “tuisland” teruggestuur moet word, al ken sy die plek nie, en al woon sy al ‘n lewe lank saam met haar man op Verkeerdespruit.

Dié afdanking skep ‘n opening vir Trevor die “haarstilis”. Trevor voel hom as selferkende homoseksueel ook onderdruk en verguis deur die Afrikaners, vir wie hy geen goeie woord het nie. Die Boere “lyk soos varke, ruik soos kamele en dink soos skape”, sê Trevor. Ook Simon se pa word by hierdie saak betrek omdat hy as landdros verplig is om die apartheidswette toe te pas en Mary na haar tuisland te stuur.

Michiel Heyns skilder ‘n herkenbare laerskoolwêreld op Verkeerdespruit. Daar is die tipiese paaiboelies en slagoffer-figure, met ‘n magshiërargie gebaseer op die status van die ouers en op liggaamskrag. Simon verwys graag na sy ma as ‘n “opgeleide” verpleegster. Dit laat sy familie belangriker klink. Hy hou ook daarvan as sy ma soms neerhalend oor sy juffrou praat. Dit versterk sy selfvertroue as “spesiale” kind, met sy ma aan sy kant.

P86, Die onderwyser boelie die kinders, wat nie ongewoon was in daardie tyd nie, maar Simon droom nie om hom (gesagsfiguur) by iemand te verkla nie. Dit word regverdig deur die woorde op P87: Liefde sonder dissipline is blote sentiment, en dissipline sonder liefde is tirannie, maar liefde getemper met dissipline is voedsel vir die siel. (Net jammer hy sien sy geboelie as dissipline) Dit bereik ʼn hoogtepunt toe mnr de Wet Simon se kakebeen afslaan, en Simon natuuurlik verhef word tot ʼn soort held!. Ma tree in daar, en mnr de Wet word oorgeplaas na Bantoe onderwys (arme kinders) en jare later sien Simon hom weer, oud en kragteloos, met bewing van Parkinson’s. (Karma)

Simon se hibridiese samestelling as “Half Ball” Afrikaner – soos die Wesleyseuns dit stel – plaas hom in ‘n oënskynlik superieure posisie ten opsigte van die plaaslike “Ballbearings” van Verkeerdespruit, die volbloed-Afrikanerkinders. Die verhouding tussen Simon en Fanie is miskien die mees komplekse en geheimsinnige aspek van die roman Verkeerdespruit. Op Verkeerdespruit toon die twee kinders ooreenkomste en verskille.

Albei is enigste kinders. By albei is die ma belangrik. Albei is randfigure, vriende van Bettie die Sentrale, want Simon is te slim en Fanie te dom om by die middelmoot tuis te hoort.

Simon se pa John is landdros. Fanie se pa is kroegman. Simon se ma het hom goeie maniere geleer, ook wat sy taalgebruik en houding teenoor ander mense betref. Hy is fynbesnaard, al vroeg belese (in die beskikbare jeuglektuur) en toegerus met die vooroordele van sy ouers se stand.

Fanie is oënskynlik bot en dof. Hy ken geen aangeleerde wellewendheid nie. Hy is swygsaam maar reguit wanneer hy iets sê. Dis asof hy slegs die waarheid kan praat soos hy dit beleef. Nogtans het hy die vermoë om te verras, byvoorbeeld wanneer hy sonder groot omhaal van woorde saam met Steve op sy motorfiets uit Verkeerdespruit vertrek.

Soms is Fanie ‘n onverwagse held van sy oortuigings, en sy morele oordele kan Simon verstom, byvoorbeeld waar hy op sy eenvoudige manier sê dat hy minder dink van iemand wat hom agter sy rug liefdeloos behandel.

Teenoor haar staan Fanie se ma. Sy skuil van haar weldoeners agter die naam “Antie” waarmee sy hulle almal aanspreek. Een van haar mees onthullende uitsprake is dat Fanie gelukkig is by Steve, en dat sy om daardie rede nie die jag op Steve kan ondersteun nie. Fanie se ma maak hom nie ambisieus groot nie, maar wel met groot liefde, soos blyk uit die groot vetkoeke waarmee hy by die skool opdaag.

Die gevolge van die twee moeders se verskillende benaderinge, in sowel positiewe as negatiewe opsigte, kan in die twee seuns gesien word. P 195 “Om deur Fanie van den Bergh bejammer te word, is om skande bty skade te voeg.” Fanie is altyd eerlik, nooit agterbaks nie.

‘n Merkwaardige insident (in teenstelling met bg) is byvoorbeeld Fanie se beskuldiging dat dit Simon was wat hom skrikgemaak en sy epileptiese aanval by die seunstoilette aangebring het. “Dis hy wat my skrikgemaak het,” roep Fanie “triomfantelik” uit op bladsy 27,  terwyl dit juis Simon was hom op sy sy gedraai het, op advies van sy ma, die “opgeleide verpleegster”.

Wat beweeg Fanie tot dié beskuldiging? Is dit klasse-haat, die opstand van die “onderbou” teen die “bobou”? Het Fanie dalk werklik geskrik vir die valse simpatie en kwalik bedekte minagting van die hooghartige Simon? Wil Fanie sy bevoorregte klasmaat wat hom sy witbrood aanbied maar sy eie vetkoeke versmaai, uit weerwraak in die moeilikheid bring?

Twee bladsye vantevore het ons gesien hoe Fanie sy eie vetkoek vir die hond Skollie gooi, nadat Simon dit van die hand gewys het met die woorde “My ma sê vetkoeke is sleg vir ‘n mens”

Simon beleef twee “insidente”, eers met Steve wat hom op Matchless vat om te swem, maar sy ma word ingelig en sy kom haal hom, en dan die dominee op vakansie. Hy bly onskuldig, en eers as Fanie hom vertel dat Steve hom gesoen het, beleef hy konflik. Hy verstaan nie wat is ‘interfere’ nie, en op P60 is Simon geskok dat Steve kon tronk toe gaan vir ʼn soen. Met Trevor se koms word die grootmenswêreld vir Simon weer ewe duister, want is die liefde tussen twee mense dan sonde? Dieselfde gebeur op P127 met Dominee. Liefde is “sonde”.  Steve, Trevor en Klasie, en die Dominee. Hy sien dinge as direk. (Kiara – Waar is oupa? Ouma soek hom gou. Wat maak jy? Ek praat mos met jou.)

Dit is moeilik om die verteller of outeur se presiese gevoel oor spesifiek die pedofiliese insidente te peil. By al sy sjarme en liefde vir Fanie blyk Steve uiteindelik tog ‘n soort skurk te wees want hy beroof Bettie die Sentrale byvoorbeeld van haar spaargeld nadat sy op hom verlief geraak het.

In die geval van die dominee op Bleshoenderbaai, is dit blykbaar dié Godsman se gewoonte om seuns seksueel te oorweldig nadat hy eers belangstelling in hulle liefhebberye getoon het.

Nadat hy Simon in die geheim van die homoseksuele ekstase ingewy het in ‘n grot naby die see, gaan Dominee se belangstelling na ander seuns uit. Aan die einde van 1966 tref Simon hom by ‘n nuwe prooi aan: “Toe ons aan die einde van die jaar terugkeer na Bleshoenderbaai, sien ek hom weer. Hy gesels met een van die jonger seuns op die strand, oënskynlik oor die Trompie-boek wat die kind besig is om te lees” (bladsy 221).

Die dominee vra Simon na sy Sondagse preek op Bleshoenderbaai – terwyl hy die seun se boud vir oulaas ongesiens onder die bedekking van sy toga knyp – dat hy moet onthou wat Jesus in Sy Bergpredikasie gesê het: “Jou linkerhand moenie weet wat jou regterhand doen nie.” Simon voldoen aan hierdie geïmpliseerde versoek om diskresie en geheimhouding.

Temas

Diskresie: Bly stil, alles word onder die mat gevee, onderwysers se foute

Humor: Ma probeer armblankes red, pa kyk met humor toe. Waar die tenniseindstryd gespeel word, is Fanie se tennisbroek te wyd, en…

Vooroordeel: Teen Afrikaners, arm mense, randfigure, ducktails, swartes.

Onskuld: Coming of age boek in ʼn sin. Simon wat als oral uitblaker, weet om stil te bly

Mag/Keuses: Mag oor ander se lewens. (Mary). Simon sien vir Gott en Hicks in onkomprimmiterende posisie, gaan vertel die hoof, maar hy gee hom ʼn keuse om stil te bly, of nie, en verduidelik vir hom wat mag behels. Ook op P205, Simon wil Polisieman word,, hy wil mag hê “Ek weet as jy dit nie het nie, is jy aan die verloorkant.” Steve, Bettie, Dumbo (hond hondsdolheid)

Geheimsinnigheid: Broederbond, Laat die een hand nie weet wat die ander hand doen nie.

Illusies: P224 Die illusie van Bloemfontein – Die Lewe Elders.

Terwyl dit moeilik mag wees om pedofilie moreel te aanvaar, kan ingryping en ‘n verbod op ‘n homoseksuele verhouding tussen volwassenes alleen maar tragiese gevolge hê. Klasie pleeg selfmoord nadat hy Trevor verloor het.

Die koms van twee kleurvolle homoseksueles – Steve en Trevor – bring Verkeerdespruit

in beroering. Die gevestigde belange en vooroordele kom in beweging en die uiteinde is straf of uitwerping. ‘n Mens sou kon sê dat die roman Verkeerdespruit die leser se waardes probeer skuif sodat hy homoseksuele gevoelens en selfs pedofilie leer verstaan, byna respekteer, ten minste insluit in sy menslike simpatie. Steve eer/ag ook vir Fanie (P30) wat niemand anders doen nie

In die toneel aan die slot steek Simon sy vinger in Fanie se mond asof hy hom wil tongsoen maar terselfdertyd wil red of juis wil vermoor. Simon weet immers hoe gevaarlik hierdie soort poging is om iemand met vallende siekte te probeer help. Sy vinger kan stukkend gebyt en Fanie se tong kan ingesluk word. Die toneel het ‘n seksuele konnotasie aangesien Simon die tong stukkend gebyt het van die dominee wat hom ‘n tongsoen gegee het op leshoenderbaai. God spreek binne dié slottoneel mee in die Vrystaatse donderweer wat bokant hulle koppe rommel en flits.

Italic dele: Gekry uit stuk wat Ingrid Winterbach daaroor gedoen het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s