Chinchilla – Nanette van Rooyen

Nanette van Rooyen (1962 -)

Nanette is op 3 November 1962 in Sutherland gebore. Omdat haar pa ’n bankbestuurder was, verhuis hulle gedurig. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Vredenburg aan die Weskus en het ’n broer wat ses jaar jonger as sy is. Sy sorg dat sy en haar man gereeld teruggaan na haar geboorteplek, waarvoor sy “’n onwillekeurige hunkering” het. Haar oupa was inderdaad ook ʼn chinchilla-boer.

Verdere studies en werk
In 1981 gaan Nanette na die Universiteit van Stellenbosch om hoofsaaklik die tale Afrikaans en Nederlands, asook Xhosa, te bestudeer. Na haar BA-graad behaal sy ook haar Hoër Onderwysdiploma in 1984. In 1985 gaan gee sy onderwys in Umtata in die Transkei aan Umtata High School.

Haar passie vir boeke en stories lok haar na die Kaap, waar sy in 1986 begin werk as redaksielid by Perskor Uitgewers. Daarna verbreed sy haar kennis van die boekebedryf deur onder meer ook by Delos, Juta, Vlaeberg en Tafelberg Uitgewers te werk. Sedert 1995 is sy ’n vryskutboekredakteur en skryf sy voltyds. Sy is getroud met Rudi, ’n advokaat by die Kaapse Balie, en hulle het twee dogters, Sabina en Leah.

Nanette is sedert 1999 een van die stigterslede van die Vrouebemagtigingsmaatskappy Amandla Wabafazi, wat handel onder die naam ARISE (African Renaissance Social Enterprise). Sy is ook ’n hele aantal jare betrokke by Klein-Burger, ’n weeklikse bylae tot Die Burger, onder andere deur die skryf van resensies en van ’n vervolgverhaal, Die komperprinses. In samewerking met Zaresa Bosman, die skryfster van Craft-boeke, behartig Nanette maandelikse lesersdae vir Klein-Burger by skole. Sy voltooi ’n opknappingskursus in poësie by die Letterkunde-sentrum in Stellenbosch in 2000, asook die driemaande-skryfkursus op SkryfNet onder leiding van Petra Müller en George Weideman. Hierdie verhaal is in die kortverhaalbundel Douspoor (Tafelberg, 2000) opgeneem.

Na ’n werksverwante besoek aan Italië keer Nanette so begeesterd terug van die Kinderboekfees in Bologne dat sy self begin skryf. Haar eerste kinderboek, Onkel en Pops,verskyn in 1994. Nog veertien titels vloei uit haar pen, waarvan vier in Engels sowel as in etlike Afrika-tale vertaal word. In 1997 ontvang sy die ATKV-Kinderboekprys in die kategorie ses tot sewe jaar vir Maaneiers.

Tans fokus Nanette meer op die skryf van kortverhale en romans. ’n Kortverhaal, “Offerblomme”, wat opgeneem is in Douspoor,s word aangewys as die naaswenner in De Jager-HAUM se Literêre Kompetisie in 1996. In 1999 ontvang sy die eerste prys in De Kat/Human & Rousseau se Vonkfiksiewedstryd met haar verhaal “Tollie Hans”, wat ook opgeneem word in die bundel Vonkfiksie, saam met nog ’n verhaal, “Vier akker”.

Nanette debuteer vir volwassenes met haar kortverhaalbundel Om te vlerk in 2001. Die bundel word baie goed ontvang en word bekroon met die RAU-Mardene Marais-prys vir die beste skeppende debuutwerk in 2002.

In 2001 skryf sy in vir ’n Meestersgraad in Skeppende Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van prof Etienne van Heerden. Die titel van haar Meestersgraad was Die kontemporêre kortverhaal van die vrou in die stad. Maar die eerste kortverhaal wat sy wou voorlê, word toe soveel langer as haar gewone kortverhaal en die uiteinde is haar eerste roman, Chinchilla, wat in 2007 verskyn. Maar sy is onkant betrap toe die eerste kortverhaal wat sy sou voorlê, soveel langer as haar gewone kortverhale geword het.
“Daar was niks kontemporêrs aan die verhaal nie en van die stad nie eens ’n blerrie skuins verwysing nie,” sê sy.
Nanette van Rooyen het gloeiende resensies gekry van oa Joan Hambidge en Johan Anker. Dit is ‘n boek oor individuasie (ʼn term van Jung) en oor trauma en die verwerking daarvan. Dit gaan oor Lea wat tot heling kom deurdat sy terugkeer na haar Sutherlandse verlede waar haar pa boer met chinchillas. Volgens resensente is die hooftema van die boek, Lea se soeke na haarself (idividuasieproses) en haar heelwording na die traumatiese ondervindinge op Swakopmund.

Ek stem saam, maar die tema wat soos ‘n dik donkerrooi stroom vanaf bladsy 1 tot aan die einde deur die verhaal loop, is geweld. Vir my is dit ‘n sterker tema as Lea se ontdekkingsreis na haarself. Chinchilla is ‘n gewelddadige boek en die skrywer se idee om terugflitse te gebruik om dit te illustreer en met ander idees te vergelyk, hou die leser se aandag daarop gevestig – jy kan dit nie miskyk nie. In Chinchilla word die chinchillas ‘n metafoor vir geweld teen die weerloses.

Daar is baie bloedige detail, die doodgeskopte kind waarmee die leser dadelik kennis maak, Lea se pa, Zacharias, hou valke aan, wat die een die ander doodbyt in bloedige besonderhede, en die slag van die chinchillas.

Lea laat Martin in Swakopmund agter nadat hy haar so erg aangerand het dat sy haar ongebore kind verloor. (Daar word nêrens gesê dat sy met Martin getroud is nie) en sy gaan terug plaas toe.

Hier, in die plek waar sy groot geword het, lees sy haar ma se dagboek en vind sy troos en heling. Nadat sy haar baba verloor het, soek sy weer haar ma se belewing van moederskap in haar dagboek, wat deel is van haar helingsproses. Onthou Zacharias het vir Lea grootgemaak, en Mirjam was die naaste wat sy aan ʼn ma-figuur gekom het.

Chinchilla is veral die verhaal van die verwerking van trauma, nie net by die hoofkarakter Lea nie, maar ook by die karakters, Zacharia en Bastos. Nie een van hulle is juis aangename karakters nie, minste van almal Lea. Soos Van Rooyen tereg sê in ʼn gesprek met Madri Victor: Ook het ek dit van mening dat die karakters, hoe lief ek hulle ook het, nie die normale mall-gangers van enige stad is nie. Jirre, die een is so wanstaltig met die emosie soos die ander. Maar hulle laat hulle primitiewe sy los (in die valk, in die pelsdier) tussen die tontelbos en die oumanssoutgoed. ‘n Skeefgedrukte psige, het ek al gesien, en ook beleef, steur hom/haar fokkol aan die Teorie. Daar loop mense rond op hierdie aarde.

Deur middel van terugflitse word die leser geleidelik ingelaat in die binnewêrelde van hierdie drie karakters wat ondersteun word deur die altyd betroubare Krisjan en die een met die binneste oog: Mirjam.

Die wisselende fokalisasie tussen die karakters is funksioneel vir die suksesvolle spanningslyn in die verhaal en onthul ook die onbegrip vir mekaar se binnewêrelde.

Lea ontvlug na die bekende wêreld waar daar nog vir haar ‘n mate van sekuriteit lê in die dinge wat sy ken en wat sy goed kan doen, soos die hantering van die chinchillas.

By die huis wag die vreemdeling, Bastos, wat haar terrein van die chinchillas bedreigend betree het, haar pa wat nog net so woordeloos is soos altyd, en die vertroueling, Krisjan, wat van kleins af vir haar die bang leer hanteer het. Vir Mirjam, wat reeds vooruit weet wat met haar gebeur het, beeld van die alwyse ou moeder, sien sy eers later kans.

Mirjam, die vrou met die verskillende oë; die vrou wat dinge kan sien wat ander nie kan sien nie, en weet van dinge wat gaan gebeur. Van Rooyen het die karakter van Mirjam ‘n werklike persoon gebaseer. Sy was ene Hendriena Jeanetha Shepard of Rooi Rose – een van die buitekringkarakters op Sutherland. Daar is ook elemente van die Uilhuis op Nieu Bethesta se Helen Martins in die sementbeelde wat sy vir haar tuin maak. Die storie van die grafsteen is op waarheid gebaseer. (Anita)

Lea besluit om haar eie huis te bou – simbolies van die proses van heelwording. Die vraag ontstaan waar sy skielik die geld vandaan sou kry vir huisbou?  Ook neem huisbou tyd, veral as jy begin sandsteen ‘dres’, met min hulp.

Sy sny haar hare en begrawe haar kind simbolies op die koppie, met haar hare om die kind warm te hou, en gaan voort met die bou van haar huis, terwyl die angsdrome voortduur totdat Martin haar kom opsoek en die intensiteit van die angs weer toeneem. Dit is eers met die emosionele uitbarsting by Bastos, na die sien van die gemummifiseerde fetus van die chinchilla dat haar binneste werklik begin herstel, daar van Martin “ontslae” geraak kan word en ‘n nuwe huis ‘n nuwe lente bring waarin sy gereed is om tot haar self terug te keer. Bastos het baie diep in Lea se binneste gesien

Volgens Johan Anker bied die roman heelwat parallelle vir hierdie helingsproses by Lea. “Die detail rondom die versorging en slag van die chinchillas bied nie net die sekuriteit van ‘n vertroude omgewing nie, maar ook metafore van weerloosheid, paring, gevangeskap, geboorte en uiteindelike vryheid. Die valke waaraan Zacharias so verknog is, is sy ontvlugting van die jarelange onuitgesproke smart na sy vrou se dood en ook ‘n parallel met die verwysings na slagters en geweld. Bastos se terugflitse na sy verlede bring sy traumatiese verlede na vore en ‘n verdere parallel met Lea in sy ontvlugting na ‘n vertroude wêreld met die hantering van die chinchillas.”

Die uitgebreide detail oor die ruimte van Sutherland in die verwysing na die omgewing, en Mirjam se rate, kos en resepte is meer as die skep van ‘n oortuigende agtergrond vir die roman. Sy gebruik oorvloedig byvoeglike naamwoorde, maar in die proses skep sy sulke mooi sinne, dat jy dit oor en oor wil lees. P50 “Jy hoef niks te sê nie, troos sy oë. Kan nog nie, kyk sy terug” En dan op p142 “Hier skarrel, daar vat. Krisjan se groot hande is lomp van die afgekaptheid.” Resensent Carina le Grange sien die detail in die roman as amper verbysterend, en vra die vraag, of dit realisme is met magiese elemente? Vir my het die detail soms te veel geword.

Dan is daar ook haar verfrissende gebruik van die idiomatiese. Om maar enkele voorbeelde te noem: “Sy sit te haaks met die hede”; “daar is moer in haar manier”; “daar is meer van ons met gebreekte stertvere”; “kan onthou hoe stip sy hom liefgehad het”; “as sy eers gif-oog gegooi het, moet jy weet die hekke is toe”.

Le Grange sien ook Chinchilla as ook ’n liefdeslied oor daardie wêreld se kruiemedisyne, klippies, sterre, inwoners, wit winterkoue en amandelbloeisels. Die funksionaliteit van tegniese gereedskap soos dié dwing die aandag af, maar of dit altyd slaag, bly onseker.

Martin se naam vir haar is Puppet (Is dit nie bietjie té obvious nie?) en sy irrasionele jaloesie lei daartoe dat hy hul ongebore kind doodskop. Maar Martin bly ’n eenvlakkige, brutale man wat in ’n oordrewe manlike vakuum leef.

Sy het by hom gebly en dit is eers toe hy die kind in haar buik dood geskop het, dat sy besluit om hom te verlaat. Sy keer terug na Sutherland, maar kan steeds nie van die geweld ontsnap nie. Terwyl sy die chinchillas hanteer, kry sy terugflitse van Martin se geweldsaanvalle op haar – sy vereenselwig dus die geweld wat haar aangedoen is gelyk aan die doodmaak van die chinchillas. Geweld is ook deel van die paringsiklus van die wanneer die wyfies en mannetjies mekaar byt – soms gewelddadig – en weer is daar die terugflits van Martin wat Lea brutaal verkrag en stukkend slaan.

Dit word ook geïllustreer in die woord “slagter” wat telkens in die verhaal gebruik word. Bastos is die slagter van die chinchillas, maar so is Martin, ‘n dokter in die hospitaal en sy eie “slagting” van Lea se lyf. Op bladsy 45 sê Lea: God weet, ek het genoeg gehad van slagters.”

Selfs in haar ontredderdheid herinner Lea die leser nie aan ’n hulpelose, tragiese heldin nie. Vroeër het sy in Ysland vis gepak en in Spanje druiwe gepluk, en tog begewe sy haar willens en wetens in dié verhouding met Martin. Hoekom? Vir die seks? Simboliseer Martin die Donker Man? Dit word ook op twee plekke geïmpliseer dat Lea die gewelddadige seks aanvanklik geniet, en ook uitlok. Sy loop weg saam met hom en laat vir twee jaar niks van haar hoor nie, nie eers dat sy veilig is nie. Nie juis ʼn karakter wat my as leser se simpatie ontlok nie. Sy is ook nie die tipiese mishandelde slagoffer nie.

Ek sien Martin nie as ‘n sadis nie, ook nie vir Lea as tipiese masochis nie. Die dinamika van seksuele geweld is anders, dis vir my iets wat jy net in ‘n sekere verhouding kan ‘deel en ervaar’. Sodra die verhouding met ‘n ander persoon is, bv Lea en Bastos, dan is daar totaal ander aspekte ter sprake. Sadis/masochis sien ek meer as ‘n tipe persoonlikheid, wat nie hier ter sprake was nie.

Wanneer haar lewe saam met Martin dan in bloedige geweld eindig, waaraan sy dan ook eintlik ʼn aandeel het, loop sy weg terug plaas toe, waar sy veilig voel, tussen mense wat sy ken, en die lewe as chinchilla-boer, wat sy ook ken.

Gelukkig vind Lea vir Bastos op die plaas met haar terugkeer. Hy is ’n uitlander (dus vreemd genoeg) met wie sy kan voortleef, want hy kan kosmaak, sing en huis bou. Bastos kan ook chinchillas baie sorgvuldig, amper teer, slag en hul pelsies ongeskonde hou, sonder om te veel bloed te stort, want hy vang dit alles op.

Bastos het ook ‘n geskiedenis van geweld. As ‘n inwoner van Angola tydens die SWA-grensoorlog, moes hy en sy gesin vlug voor die geweld en het hulle letterlik net met papiere die land binnegekom. Almal wat vir hom belangrik was, is dood in die oorlogsgeweld. Hy is ‘n geronde karakter wat in ‘n sekere opsigte vrede gemaak het met sy lewe. Hier op Sutherland het hy die chinchilla-boerdery oorgeneem nadat Lea weg is en hier is waar hy rus gevind het. Tussen die das, sy kitaar en fado-musiek en sy liefde vir kook, is hy gelukkig. Toe Lea verskyn, is hy onmiddellik aangetrokke tot haar, maar hy loop hom vas in ‘n muur van vyandigheid. Ook hier maak die skrywer gebruik van terugflitse om sy agtergrond in te kleur.

Lea se verhouding met Bastos maak nie vir my sin nie, want in die dag snou sy hom af, maar in die nag loop sy skuur toe, met net die dasvelkaros om haar. Later eers word dit duidelik dat sy doelbewus wou swanger raak, maar so gou na die traumatiese ervaring van die kind wat sy op so ʼn gewelddadige manier verloor het? Dit loop die potensiële verhouding tussen hulle vooruit en verminder eerder die spanning as wat dit daartoe bydra.

Ek kan identifiseer met Elkarien Fourie se siening van die boek: Dat die intrige, die verhaallyn en Lea se innerlike reis afsteek teen die uiterlike detail. Sy vra die vraag of die post-modernisme deels daarvoor geblameer moet word.

Aan die einde van die boek wanneer Martin haar kom terughaal, bly al die mans op ʼn afstand. Dit is getrou aan hulle karakters – onthou Zacharias was die hele tyd baie verlig dat Lea nie oor haar ervaringe wil praat nie. Die episode waar sy Martin berg-op sleep met Bastos se hulp, en hom in ʼn bisar ritueel amper laat doodbrand, is die klimaks van die boek wat die genesingsproses vergestalt. Aanvanklik klink dit of sy hom wil deel maak van ʼn ritueel waar sy die kind se as in die berg gestrooi het. Hoe sou dit bydra tot haar heelwording? Die vuur wat sy om hom aansteek op die plek waar sy haar kind se as gestrooi het, is ‘n bisarre en selfs primitiewe ritueel om haar finaal van Martin los te maak. Vuur het groot simboliese betekenis – dit is ‘n simbool van krag en vernietiging, maar is ook ‘n simbool van reiniging en hergeboorte. Dit kan gesien in die konteks van die feniks wat uit die as opstyg (herlewing) of die reiniging in die vagevuur in die leerstellings van die Rooms Katolieke Kerk.

Met die optrede vernietig sy finaal Martin se houvas op haar en word sy bevry en kan sy hom laat gaan. Met die bevryding kom ook haar vermoë om haarself weer oop te maak vir ander mense
Die oomblik toe sy hierdie bevryding ervaar kan sy voort gaan met haar lewe – ‘n “nuwe” lewe sonder vrees en angs. Sy raak ontslae van haar ma se rokke en sien vir die eerste keer dat die karos al baie verweer is. Sy ontdek haar ware gevoelens vir Bastos en kan nou die pad saam met hom loop. Haar laaste aksie is om die chinchillas se hokke oop te maak en die diere vry te laat. Teen die einde is dit nie net Lea wat bevryding vind nie, maar ook Zacharias en Bastos. “Ek loop van nou af nie meer in die donker nie” sê sy. “Sal jy my laat binnekom?”

(Bespreek deur Trisa Hugo)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s