Nota van die bespreking van Die Hemelklip deur Tobea Brink

Die Hemelklip deur Tobea Brink

Agtergrond en Biografie

Tobea Brink het op ‘n plaas in Riversdal in die Suid-Kaap grootgeword. Ná skool studeer sy BA op Stellenbosch en behaal ‘n honneurs in Afrikaans en Nederlands (cum laude). Tobea was ook lid van die Letterkunde Laboratorium, onder leiding van eers Lina Spies en daarna Sheila Cussons.

‘n Paar jaar later, ná ‘n tyd in Australië en ‘n kort verblyf in die VSA, voltooi sy ‘n multidissiplinêre nagraadse diploma in Afrika-studies aan die Universiteit van Kaapstad. Daarna werk sy by dieselfde universiteit as sekretaresse in Opvoedkunde. Sy was medeskrywer van die Ruimland-laerskoolreeks wat uit ses leerderboeke, onderwysergids en omtrent 12 leesboekies bestaan. Later het Tobea by die University van Wes-Sydney ‘n meestersgraad in Jungiaanse Studies behaal, met spesifieke verwysing na Kulturele Sielkunde.

Haar man, Chris Brink is ʼn openbare figuur in eie reg. Hy was Rector and Vise-Kanselier van Stellenbosch Universiteit tot 2007. Hulle het twee dogters en ʼn seun, Carmen (25), Hestia and Peter. Hulle woon nou in Engeland waar Chris Vice-Chancellor of the is. Tobea se dogter Carmen is in Huis Horison, en verloof. Nie algemene kennis?

Ek was bevoorreg genoeg om met Tobea te gesels oor haar lewe. Haar uitgewer, Nelleke de Jager, was skepties dat Tobea sou gesels, want hulle is geweldig privaat maar Tobea was fantasties, en ons het lekker gesels.

Hoe die Hemelklip ontstaan het – Nege jaar gelede, toe sy swanger was met haar jongste, het die volgende sin net in haar kop gekom. “Die eerste aand sit Anna haar kop op die plat klip neer.”

“Ek vlieg regop”, het Tobea gesê by die bekendstelling van Die Hemelklip in Stellenbosch se L’Olive restaurant. “Op daardie stadium was ek reeds diep genoeg in die Jungiaanse sielkunde om te weet dat so ‘n sin nie van nêrens af kom nie. Ek skryf dit ietwat verdwaas in my dagboek neer, sit en kyk ‘n rukkie daarna en gaan lê toe weer om te slaap. Ons seuntjie is gebore en maande daarna het ek eers weer lus en tyd gehad om my dagboek oop te maak. “Toe sien ek weer die sin, en begin daaraan torring: Wie op aarde is Anna? Die eerste aand van wat? Waar slaap sy as sy haar kop op ‘n klip neersit? Hoekom die plat klip en nie ‘n plat klip nie – asof sy die klip al van voorheen ken?”

Dit is hoe Die Hemelklip gebore is.

Resensies

Lina Spies het ʼn baie positiewe resensie geskryf, maar Joan Hambidge val haar aan omdat sy te veel van die afloop vir die leser verklap en so die leeservaring vir die leser bederf. Oor die algemeen is die boek baie gunstig ontvang, en was op die kortlys vir die Jan Rabie/Rapport-prys vir innoverende Afrikaanse letterkunde. Met hierdie bespreking leun ek swaar op Lina Spies se resensie, asook ander besprekings wat ek op die internet gevind het.

Die boek self

Die boek is in twee dele geskryf. Daar is ʼn wisseling van ’n eerste- na ’n derdepersoonsverteller in die boek se tweede deel. Sy vertel sy het in Australië begin skryf, en dis onderbreek deur die ver hui sing na Stellenbosch. Toe sy weer begin, het sy vanself so begin. Maar dit het ook daarmee te make dat Anna in dié deel nie meer ’n kind is nie; dit sou te “precious” wees om haar nog self te laat vertel.

Die Hemelklip vertel ’n private storie, maar Brink wou tog ’n breër maatskaplike boodskap oordra, met haar kennis van die Jungiaanse sielkunde. “Dis vir my be lang rik om uit te werk wat die kragte is wat werk in mense se groei of individuasie. Elke mens het maar sy eie leemte of beletsel. Dis ook hoe kom ek Kwela (haar uitgewer) gekies het: Ek het iewers gesien hulle wil die ‘voice of the voiceless’ laat hoor. Dit geld tog ook die wêreld van die intellektueel gestremde, eintlik alle gestremdes.

“Dit gaan oor hoe dit is om te leef met iemand wat anders is, of dit nou ’n ge strem de is of sommer net ’n oddball. “Dié andersheid is by Down-sindroom baie radikaal; elke sel is letterlik an ders, maar dis nie die enigste soort andersheid nie.

Die dramatiese inset van Tobea Brink se novelle, Die Hemelklip, hoort by ’n genre wat meer verteltyd as die kortverhaal toelaat, maar veel minder as die roman, volgens Lina Spies. (Hierby bedoel sy die novelle, soos Die Hemelklip geklassifiseer word). Ek is verstom dat sy soveel kon sê, in so ʼn dun boekie.

In enkele kort inleidende paragrawe neem die reaksies van drie kinders en ’n ma by ’n klipgooiery ongewone dimensies aan. Die klipgooier, Adam, skreeu en huil histeries, die ma storm op die oortreder af en kap hom in ongebreidelde woede met die klip waarmee hy gegooi het op sy skouer, terwyl sy die beseerde Hansman momenteel aan sy lot oorlaat.

As die orde herstel is, skreeu Hansman, wat intussen in ’n boom geklim het, vir sy suster Anna wat hom verwyt dat hy Adam geterg het: “Hou jou bek, jou stupid! Jy’s nes hy. Die simpel mongool. Hy’s jóú ling, nie myne nie.”

Met hierdie opmerking word die leser midde-in die problematiek van die verhaal geplaas. Hansman distansieer hom van sy Downsindroom-broer deur die intiemer bloedverwantskap tussen Adam en sy tweelingsuster, Anna, te beklemtoon. Anna is dan ook die hoofpersonasie en die ek-verteller in die verhaal, onlosmaaklik verbonde aan haar tweelingbroer.

Volgens Lina Spies word die konflik tussen ’n individu en sy milieu, een van die ken merke van die novelle, word in Die Hemelklip veroorsaak deur Anna se voortdurende pynlike bewussyn van die gemeenskap se siening van ’n Downsindroom-kind; haar eie verwerping van Adam op grond van sy voorkoms en maniere, en haar teen strydige gevoelens van haat en liefde vir hom.

Brink se novelle sentreer in om Anna se behoud van haar individualiteit onder omstandighede wat meedoënloos daarop gerig is om dit uit te .

Ná die klipgooi-episode loop Anna saam met Geelhond doelbewus na ’n bekende plek in die veld: “Anderkant die kliphoop is ’n sagte grasholtetjie, net groot genoeg vir my om in te pas. En Adam. Maar nie vandag nie. Vandag is dit net ek.”

Dis in dié holtetjie waar sy vir die eerste keer huil omdat daar ’n “groot klip” op haar “bors lê”. Die simboliese betekenis van die klip as die las wat sy dra as Anna-Adam, verander as sy by haar metgesel, Geelhond, se stert ’n “plat kalkklip” sien lê: “Uitgebreek uit ’n klipbank uit. Ek sien ’n duidelike letter daarop: A.” Sy steek die klip vir Adam weg as sy hom hoor aankom: “Hy moenie die klip sien nie. Dis my klip. Net myne. Dis ’n Anna-klip.”

Een van Brink se verdienstes is dat sy slegs enkele episodes uitvoerig weergee en nogtans ’n menselewe voor die leser laat afspeel. Anna en Adam se skooljare beslaan die grootste gedeelte van die verhaal. ’n Aangrypende hoogtepunt is haar psigologies perfek gemotiveerde weergawe van die eerste dag as Adam – aanvaar as leerder vir die spesiale klas – saam met Anna skool toe gaan: die wind wat hy laat as hy met die grootste moeite uiteindelik in die bus klim en die ander kinders uitbundig laat lag, Anna se gevoel van vernedering, haar trane en die daaropvolgende ongemaklike swye. Net so sensitief word die adolessente liefdesverhouding tussen Anna en Danie beskryf waardeur die troos en aanvaarding wat dit vir Anna inhou, slegs geïmpliseer word.

So ook is die moeder se dood ’n versweë moment en die skakel tussen die twee dele van die boek: “Deel Een” eindig met Anna en Adam op pad na die siek ma in die hospitaal en “Deel  Twee” met die begrafnis van Adam. Tussen dié twee eindpunte het Anna se lotsbestemming hom voltrek. Dit is ook hier waar wisseling van ’n eerste- na ’n derdepersoonsverteller in die boek se tweede deel plaasvind.

Anna se verhaal is vry van romantisering en sentimentalisering. Daar is geen kitsoplossings en maklike godsdienstige rasionaliserings oor die wil van God en “engel-” of “hemelkinders” nie. Dis nie die verhaal van ’n “hemel-kind” nie, maar van ’n “hemel-klip”. Dis by dié “klip” dat die verhaal eindig; by Anna se terugvind van haarself en die geluk wat opgesluit is in die bewaring van eie individualiteit nadat sy gedoen het wat die lewe van haar geëis het: Sy het die boerdery gaan behartig om vir Adam op te pas. Die hele tyd was daar opofferinge van Anna – wat dit so kies, eers klein, soos dat sy Adam laat wen as hulle resies hardloop. Was die geel potloodsakkie prys nie hartbrekend nie? Haar ma se siening dat sy Adam nie hóéf te laat wen nie, wys hoe die ma verskeur is tussen die twee kinders.

Die boek begin met die kragtige en hartroerende episode waar Adam vir Hansman met die klip gooi. Dit beeld die verhouding tussen die gesinslede van die begin af perfek uit. Die pa en selfs pa-figuur  is ook heeltemal afwesig in die gesinsopset. Anna se pa verongeluk, en Gielie is beduiwelde, omgesukkelde man. Die kinders kon eerder sonder hom klaarkom as met hom. Hoesa en Mina word nie ‘geag’ nie, hoewel hulle goeie, getroue mense is. Sou dit ʼn metafoor vir die toestand van die politieke situasie in ons land wees?

Anna se ant Liz kom kuier, en bring net vir Anna ʼn kosbare botteltjie parfuum. Dit is vir Anna baie spesiaal, iets wat sy nie met Adam hoef te deel nie. Haar hele lewe draai om hom. Dis ook op haar ma se begrafnis wat sy kwaad word, en haar ma verwyt, dat hulle nooit alleen see toe was nie.

Wanneer Anna haar klip weer na 20 jaar kry, lees sy weer wat daarop staan AnnA. A vir Anna kom eerste, maar ook laaste. Anna kom op hierdie manier ook tot heelwording. Die begin en die einde, net soos die klip.

Kritiek????

ʼn Down-kind in die gesin te hê

Ek het ʼn baie goeie boek gelees oor ʼn pa wat een van sy tweeling, wat met Down-sindroom gebore is, weggegee het, sonder die ma se medewete. The Memory Keeper’s Daughter deur Kim Edwards.Deesdae word amniosinteses as roetine op swanger vroue gedoen, om te toets daarvoor, en dan word vroue voor daardie verskriklike keuse gestel van aborsie, of nie.

Ons het self baie goeie vriende met ʼn gestremde kind, en ek sien wat die effek of so ʼn gesin se lewe is. Hulle seun is terloops saam met Tobea se dogter Carmen, in Huis Horison, in Stellenbosch.

Nog iemand met wie ek gesels het, reageer as volg: ‘n Vriendin se seunskind (dierbare ding) is al 21, en nogal ‘n handvol. Die pa het hom nog nooit aanvaar nie, en kry skaam vir hom (hy’s partykeer nogal loud – begin sommer kliphard sing.) Nietemin, dis ‘n feit dat die knaap soms sy broer van 15 en kleinsussie van 7 mateloos frustreer. Hulle is buitengewoon welgesteld, bly in ‘n 14(!) slaapkamer mansion, ry Harleys, eiendomsmagnate, het ‘n perdeskool en so. So arme ou Miegie pas nie juis in by die pa se prentjie nie. Moerse snob, hy. My vriendin, die ma, is down to earth en geniet hom verskriklik. Die kleinboetie het hom amper aangerand toe hy eenkeer van sy vriende onthaal het (jy dink, klomp yuppie-knape met gel-kuiwe, plat fone en bikes) en Michal homself kom voorstel het met “Aangename kennis, ek is Michal, ek het aambeie”. En as kleinsus kom klik met ‘n “Mamma Michal het gevloek!” sal hy vinnig terugblits met ‘n “ek-het-nie-fok-gesê-nie”! O ja.. hy is mal oor musiek, veral kerkorrelmusiek. Het ‘n verstommende kennis oor katedrale die wereld oor.

Vrae aan Tobea

Hoekom het sy besluit om uit die perspektief van ’n kind, ’n tweeling sussie, te skryf, en nie dié van by­voorbeeld ’n ma nie?

“Elke mens – dis sommer my eie klein teorie – het ’n psigiese fase waarin jy die sterkste staan. Vir party mense is dit die kleinkindertyd, vir ander die middelkindertyd of die tienerjare. “Myne is definitief die jongkindtyd, so tussen 6 en 11. Dit vind aanklank by my omdat jy dan ’n openheid het: Jy’s los van jou ouers, psigies en fisiek, maar dis nog voor die trauma van puberteit. Jou ervaring van die natuur is dan sterk, en jou geestelike aanvoeling.”

Oor die einde van die boek: Lê Anna se geluk aan die einde in vryheid, om eindelik ontslae te wees van iemand, of die feit dat sy iets volvoer het?

“Altwee – bevryding én volvoering. Die einde van die boek het iets van die mistieke; ek verstaan dit self nie heel te mal nie.”

Toe jy daardie sin : Die eerste aand sit Anna haar kop op die plat klip neer in jou kop gekry het, het jy geweet dat die boek sal gaan oor Anna en Adam?

Nee, glad nie!  Ek het gedink dit gaan ‘n komplekse liefdesverhaal wees. Ek meen, romantiese liefde, nie die liefde tussen suster en broer nie.  Die Anna-Danie verhouding eerder as die Anna-Adam verhouding.

Het die feit dat jy ‘n volwasse Down-kind het, onbewustelik gespook by jou om dit op papier te kry? Of bewustelik? Wat dit bietjie van ‘n katarsis toe die boek op die rakke was?

Ek het die grootste deel van die boek in Australië geskryf en het verskriklik eensaam gevoel in my ouerskap van ‘n tiener met gestremdheid, soms oorweldigend bewus van die gebrek aan die netwerk van familie en vriende in SA, nie net vir my nie, maar ook vir my dogter. En toe het daardie stroom die boek begin vorm. Die manuskrip het lank in die laai gelê voor ek dit na die uitgewers gestuur het, so nee, dit was nie juis op daardie stadium meer ‘n katarsis nie.   Die katarsis was in die skryf, in Australië – in die middel van die nag, terwyl my nuwe babatjie en sy klein sussie geslaap het!

Daar was iets anders wat my juis toe gefassineer het, nl. wat ek as ‘n “ekstra sintuig” beskou in die broers en susters van gestremde kinders. Ek het dit oral opgemerk in die gesinne van goeie vriende wat gestremde kinders het. Dis asof hulle van baie kleins af ‘n ekstra kapasiteit vir diepe empatie het, vir ander mense se behoeftes en gevoelens raaksien, en ek het begin wonder hoe hulle dit ontwikkel, hoe hulle die proses ervaar van so ingestel wees op Die Ander, hoe dit vir jong kinders voel as hulle altyd aanpassings moet maak vir die gestremde broer/suster. Ek wou daaroor skryf terwyl ek dit sien. Nou is daardie vriende se kinders almal volwasse en steeds besondere bedagsame en sensitiewe mense – ek beskou dit as die een onmiskenbare gift wat die gestremde aan die huisgesin bring. Nie sonder swaarkry ontvang nie, maar wel met groot vrug.  Ek dit nou duidelik in my twee jonger kinders (10 en 8) ook sien – hulle kapasiteit vir empatie is beslis bo die gemiddeld.

(Bespreek deur Trisa Hugo January 2009)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s