Skilpoppe – Barrie Hough

Barrie Michael Hough
17/01/1953-16/08/2004

Barrie Hough was ’n stedeling in murg en been. Gebore in Johannesburg, matriek geskryf aan die Hoër Seunskool Helpmekaar en aan RAU gestudeer in Kommunikasieleer. Sy MA (Engels) het hy ook daar behaal vir ’n tesis oor die dramaturg Athol Fugard. In die jare sewentig het hy skool gehou by St Barnabas College en in 1979 is hy aangestel as toneelresensent by die dagblad Beeld. In 1984 is hy bekroon met die AA Vita-prys vir teaterjoernalistiek. Hy was ook vir ‘n tyd lank lid van Rapport se kultuurredaksie waar hy onder meer oor rolprente, teater en boeke geskryf het

Hough se eerste boek, My kat word herfs is as finalis in die 1985 Sanlam Jeuglektuurwedstryd aangewys. Dit was waarskynlik sy boek waarmee hy die grootste sukses behaal het.. Dié verhaal oor ’n introspektiewe seun wat hakkel se liefde vir die teater en Siamese katte is reeds in sy 20ste herdruk en word allerweë beskou as ’n seminale werk wat die Suid-Afrikaanse jeuglektuur in ’n nuwe rigting laat inslaan het. Penguin het dit in Engels as My cat turns autumn gepubliseer. My kat word herfs is gekies om deel uit te maak van die Proudly South African: 100 Representative Children’s Books uitstalling by die 2004 IBBY Kongres wat binnekort in Kaapstad gehou word.

Hough se volgende boek was Droomwa (1990) waarvoor hy die Silwer Sanlamprys gekry het. Droomwa is ’n outobiografiese jeugroman wat landswyd voorgeskryf word en nou reeds 20 keer herdruk is. Hierdie boek, wat deur Oxford University Press in Engels gepubliseer is as Dream Chariot, het ook die Alba Bouwer-prys vir Kinderlektuur en die CP Hoogenhout-toekenning vir die beste Afrikaanse kinderboek ontvang. Soos My kat word herfs is ook Droomwa gekies vir die Proudly South African: 100 Representative Children’s Books uitstalling.

In 1992 het Hough met Vlerkdans, ’n byderwetse werk oor jong kunstenaars en VIGS, die eerste keer die Goue Sanlamprys verower en later die ATKV-Kinderboektoekenning. Ook hierdie werk word landswyd by skole voorgeskryf en is al 21 keer herdruk. Dit is deur Heinemann-Uitgewers in Engels as In full flight uitgegee. Lizz Meiring het hierdie roman tot toneelstuk omskep.

In 1995 het Houg se volgende werk verskyn. Skimmelstreke was ’n bundel sketse en essays vol humor, nostalgie en patos uit sy bydraes tot die rubriek “Skuins voor Maandag” wat weekliks in Rapport verskyn het.

Dit was egter met Skilpoppe (1998) dat Hough sy driekuns behaal het, want dit was sy derde boek wat van hom ’n wenner in die Sanlamprys vir Jeuglektuur gemaak het. Hierdie boek handel oor die temas van dwelmmisbruik en homoseksualiteit en is beskryf as ’n storie wat drama, teater en veral Shakespeare weer lewendig sal maak vir jeuglesers. Dit is onlangs verfilm en word op 27 September 2004 vir die eerste keer op M-Net uitgesaai. Saam met die tweede uitgawe, beleef Skilpoppe reeds sy 15de herdruk.

In 2002 het Hough se laaste jeugroman (wat ’n voortsetting was van die goeie werksverhouding tussen hom en Lizz Meiring) verskyn. Breek het egter eers by 2001 se Klein Karoo en Aardklop kunstefeeste sukses as ’n toneelstuk behaal voordat dit as ’n roman verskyn het en skaars ’n maand nadat dit verskyn het, moes dit herdruk word. Dit word nou by sowel Afrikaanse as Engelse skole voorgeskryf en is ook benoem vir ’n MER toekenning.

Hough was baie lief vir diere (hy het onder andere rondloper-diere versamel en was gek na Siamese katte), was versot op opera, het belang gestel in die Chinese kultuur en beeldende kuns en het graag gereis.

Hough (51) is vroeg Dinsdagoggend 16/8/2004 dood aangetref in sy woonstel in Melville, Johannesburg. Die woonstelgebou se opsigter het gas geruik, ondersoek ingestel en Hough se liggaam in die slaapkamer gevind. Hy was blykbaar die laaste tyd erg teneergedruk en onder doktersbehandeling vir depressie.

Uittreksel uit ‘n gesprek met Louise Steyn (LS), Uitgewer: Kinder- en Jeugboeke, Tafelberg-Uitgewers en Organiseerder van die Sanlam-prys vir Jeuglektuur. Haydee Hollander (HH) het die vrae gevra.

LS: Dis ‘n baie hartseer gedagte, dat daar nou niks gaan word van al die boeke waaroor hy tot die dag voor sy dood nog met my gepraat het nie. Almal wat Barrie geken het, sal weet dat hy sy boeke in sy kop beplan het en hulle tot in die fynste detail op sy vriende “uitprobeer” het nog voordat daar ‘n enkele woord op papier was. En dan het dit gewoonlik iets groots gekos om te maak dat hy uiteindelik gaan sit om dit wat hy alles in sy kop uitgewerk het, op papier neer te sit. Party boeke het dit “gemaak”, ander het langs die pad gesneuwel en nooit ‘n werklikheid geword nie.

HH: Skryf was glad nie maklik vir hom nie. Om ‘n nuwe boek te begin was vir Barrie ‘n nagmerrie. En vir sy uitgewers?

LS: Dit het heelwat gekos om Barrie uiteindelik aan die skryf te kry. Mooipraat of dreig het nie gehelp nie. Op die ou einde was al wat gewerk het, ‘n absolute sperdatum – soos vir ‘n Sanlam-kompetisie. Hy was ongelukkig intelligent genoeg om te weet dat die sperdatums wat ek self uitgedink het, verskuifbaar was. Daarom dus dat sy boeke met al hoe langer tussenposes verskyn het.

Uittreksel uit huldeblyk deur Lizz Meiring (Een van slegs 3 mense wat sy telefoon no gehad het)

Ons het gisteraand (Maandag die 23ste) ´n party vir Barrie by die Boekehuis in Johannesburg gehou.

Dieselfde man wat Sondagaand (die 16de – nag voor sy dood) aan my vertel het hoe eensaam hy voel, dat die wêreld hom verlaat, moes gisteraand kon sien en ervaar hoe lief mense vir hom was. “Ek het geleer the world doesn’t like losers, Liesbet.” het hy vir my gesê.

Wel Barrie, niemand wat gisteraand gepraat het, het jou ooit as ´n loser gesien nie. Sonder sentiment, sonder versigtig praat (soos mense gewoonlik doen wanneer hulle nie weet hoe anders nie) het oor ´n honderd mense saamgedrom om hulde te bring. Die mix was ver en wyd verspreid – teatermense, sy joernalistieke kollegas, lede van die publiek, vriende, familie, onderwyseresse, akademici (dalk nog ´n paar ou lovers for good measure…)

Ek weet daar was ´n party in die Kaap ook. En ek is seker daar was dit dieselfde geval. Ons het uitbundig gelag, die odd traan afgevee, maar nooit, ooit het enigiemand in sentiment, traantrekkery of cliches verval nie, want Barrie was so ´n besonderse, unieke, oorspronklike mens – he defied cliches.

Barrie was baie lief vir rituele, sy boeke is deurspek daarvan (ook maar ´n drama queen gewees) en gisteraand was weer ´n ritueel. Hy het, ironies, met sy dood – so baie van ons weer bymekaar gebring.

Die lewe gaan aan, en ons sal weer vergeet dat mens – soos my ouma gesê het: “blomme vir mekaar moet gee terwyl ons nog leef.”

Maar, maak nie saak hoe ver in die verskiet nie – my dierbare, gekompliseerde, talentvolle, rowwe en sensitiewe vriend en mentor Barrie Hough, sal nooit ´n cliche wees nie. En daar’s min mense van wie jy dit kan sê.

Skilpoppe is die ontstellende verhaal van Anna Meyer, ‘n slim standerd agt dogter, wat op ‘n wrede manier agterkom dat mense nie altyd net is soos wat hulle op die oog af lyk nie, maar verskillende lagies het wat hulle vir die wêreld (en ook vir hulleself) wys. Lagies soos die Russiese Baboeschkas, of Skilpoppe, met die persoon se diepste menswees as die binneste poppie, wat min mense eintlik by uitkom. Hierdie jeugverhaal handel oor komplekse temas soos selfmoord, dwelms, geweld en familie konflik.

Anna moet Juliet speel in haar skool se opvoering van Shakespeare se Romeo en Juliet. Dwarsdeur die manuskrip is die verhaal van Romeo en Juliet ‘n basis, en dien as parallelspel vir die dood van Sebast, Anna se ouer broer. Anna en haar suster Elise sukkel steeds om die dood van hul broer te verwerk. Die leser verneem later Sebast het selfmoord gepleeg, waarskynlik as gevolg van sy pa se brute hantering van Sebast en Ching-kung, sy gay vriend, se verhouding.

Haar ouers is maar net gewone mense, soos soveel ander om ons. Vol vooroordeel vir hulle gay seun. Anna hanteer die aangeleentheid beter as haar ouers, miskien omdat die ouers soveel meer lagies om hulle opgebou het oor die jare. Anna dink terug aan Sebast wat voor sy dood ‘n tantrum gooi (P39)

Anna kry op ‘n baie harde manier te doen met die effek van dwelmmiddels, toe sy agterkom dat haar ouer suster, Elise en haar vriend Julian, dit gebruik. Dit gebeur terwyl haar ouers oorsee is, en sy moet die situasie hanteer. Ching-kung, Sebast se vriend, ondersteun haar. Hulle reël ook later dat sy in ‘n rehabilitasie kliniek opgeneem word.

Anna is die een, hoewel die jongste, wat voel dat almal opsien na haar om besluite te maak, Florence, Melina, en Elize, maar sy voel sy moet met Juliet cope (P64). Dis dan ook sy wat besluit om nie hulle ouers in kennis te stel van die diefstal in die winkel nie.

In hierdie tyd wend sy haar ook weer tot kondensmelk, wat sy uit die blik uit suig vir troos.

Dinge word te veel vir Anna die aand toe Julian onder die invloed van crack Ching-kung se kar in die oprit stamp, en vir Elise met die mes beseer, en sy bel vir Brody, wat haar kom help.

Sy word gekies om Juliet te speel, onder leiding van Miss Brody, wat haar leer om visceral te voel, die emosie in jou binnegoed en gedermte in. Haar verhouding met Marcel groei ook, en hulle oefentonele word so realisties soos Romeo en Juliet maar kan wees, veral die aand toe hy by haar kom eet.

Wanneer haar ouers van oorsee terugkeer, gaan Ching-kung saam met Anna lughawe toe om hulle te ontmoet, maar haar pa bly aanvanklik afsydig teenoor hom.

Dit is eers met openingsaand waar sy Romeo dood sien lê, wat Anna weer die toneel herleef  waar sy op Sebast afkom waar hy selfmoord gepleeg het. Juliet sien vir Romeo, Anna sien vir Sebast. Dit lei tot briljante spel, wat ook haar ouers aangryp.

Dit is nie vir my duidelik of enigsins gemotiveerd hoe of waarom haar ouers skielik hulle pyn en emosies wat betref Sebast se dood hanteer nie, maar aan die einde maak haar pa tog vrede met Ching-kung, en sodoende ook met Sebast se gay-wees. Miskien kan sy helingsproses nou eers begin.

Die aanvaarding van gay-wees, en ‘n selfmoord daarby, is nogal ‘n visceral onderwerp so kort na Barrie Hough se dood!

(Bespreek deur Trisa Hugo Januarie 2005)

5 thoughts on “Skilpoppe – Barrie Hough

  1. tramaine sê:

    this book is the first afrikaans book that i have enjoyed through out my high school life and i have managed to stay awake the whole time in class when my teacher reads it. but sadly we cant read more of this.

  2. Christina Viviers sê:

    Ek is tot di dood toe geskok dat skilpoppe ‘n Afrikaanse voorgeskrewe boek is vir Gr 10. Ek kan nie glo hoe word daar in die boek gevloek en gelaster nie. My kinders vloek nie maar skilpoppe wat ‘n voorbeeld moet stel, vloek hulle in en meng hul taal. Dis baie swak.

    • Anoniem sê:

      U kinders mag dalk nie voor u vloek of hul taal meng nie, maar die realiteit van ons allerdaagse lewe is dat meeste mense wel beide doen. Skilpoppe is realisties geskryf op die manier hoe normale mense lewe en praat. Die boek help kinders om die realiteit te verstaan , om te sien dat alles in die lewe nie noodwendig goed is nie en dat nie almal op dieselfde manier as hulle dink nie. Dit stel die kinders bloot aan probleme en konflikke waarvan hul dalk noiit van tervore gehoor het nie. Indien u ‘n boek will he waar daar ‘n onrealistiese voorstelling van die lewe gegee word is dit u probleem, want skilpoppe is een van min boeke wat steeds vir kinders wys dat alles nie net “fairytales and happy endings” is nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s