Daar’s Vis in die Punch – Jackie Nagtegaal

Daar’s Vis in die Punch – Jackie Nagtegaal

Wat ‘n plesier om so ‘n kontroversiële boek te bespreek! Ek wyk vandag bietjie af van die gewone verloop, wat in pas is met ‘n boek wat ook op ‘n manier uniek is.

Uniek in die sin dat een 17-jarige dit regkry dat die nasionale pers baie tyd en ruimte afgestaan het aan die taaldebatte wat gevolg het op haar boek. Daar was ook hewige argumente en debatte op LitNet. Sekerlik nie uniek in die sin dat sy baie Engelse woorde gebruik het nie, baie ander van ons voorste skrywers doen dieselfde, sonder dat ‘n enkele haan daarna kraai. (Breek – Barrie Hough & Lizz Meiring). Veel meer Engelse woorde, en beslis meer gewaagde taal. Ek wil ook noem ‘n brief wat ekself aan Rapport geskryf het, waar ek verwys na die Afrikaanse woorde en sinsnedes wat Wilbur Smith in sy nuutste boek, Blue Horizon, gebruik. Haal aan uit berig.

Enersyds word gemeen dat die vermenging van Afrikaans en Engels lei na vervlakking van die taal, en aan die ander kant is haar boek verwelkom as ‘n vars briesie wat nuwe lewe blaas in Afrikaans.

Dan Roodt, ‘n bekende letterkundige, het die volgende gesê in Jip, bylaag in Volksblad:

“Ek dink die Afrikaanse letterkunde het ‘n laagtepunt bereik, en dit is waarskynlik normaal dat daar so min jong skrywers is. Die studie van letterkunde stort in duie, en daar is nie meer rolmodelle of mentors vir jong skrywers nie. Ek probeer die meeste dinge lees wat in Afrikaans verskyn, maar ek sien niks wat my regtig opgewonde maak nie. Iets soos Jackie Nagtegaal se Daar’s vis in die punch stel die probleem van jonk wees, maar ek hou nie van die taal en styl nie.

Al die Engelse woorde sit my af, dis soos geboue in Johannesburg wat sewe style tegelyk kombineer en dan sit jy met ‘n kruis tussen ‘n donderweer en ‘n kondensmelkblik soos Sorsie destyds in die Patrysverhale gesê het.

Ek dink daar is baie talent onder jong mense, maar hulle moet miskien minder cool probeer wees en meer hulself probeer wees. En dan eers ‘n paar van die grotes lees voordat hulle begin publiseer.

Aan die ander kant reken Andre P Brink dat Jackie ‘n vernuwing in Afrikaanse skryfkuns bewerkstellig, soortgelyk as wat Francoise Sagan in die 50’s in Frans gedoen het. Die joernalis Toast Coetzer het namens LitNet ‘n onderhoud met Jackie gevoer, nadat hy haar ‘n week lank moes ‘dophou’ en ‘agtervolg’. Hy het ‘n doodgewone meisie gekry wat doodgewone kos in haar yskas aanhou en doodgewone dinge doen. Sy erken teenoor hom dat sy nie juis van ‘daardie rich kiddies’ hou nie, en glad nie soos Charlie is nie, maar dat dit net bloot makliker is as almal dink die boek is outobiografies, dan voel almal gelukkig. Sy het Daar’s Vis in die Punch geskryf toe sy sestien in standerd 8 was, binne drie maande. Dit is gepubliseer toe sy 17 was. Sy het verlede jaar matriek geskryf by ‘n klein privaatskool in Stellenbosch, The Vineyard, met slegs 9 leerders. Aan die begin van hierdie jaar het sy vir ‘n B.A. ingeskryf by Stellenbosch Universiteit, maar teen Julie besluit dis nie vir haar nie en vir LL.B. by UCT ingeskryf, soos sy dit stel “Dis in die bloed.” (Albei haar ouers is ook regsgeleerdes.)

Die boek is onlangs met 2 literêre pryse bekroon. Die M.E.R.-prys vir jeugliteratuur, en die nuwe kykNET-prys vir belowende Afrikaanse skrywers jonger as 35. Die ander aanspraakmakers op die M.E.R.-prys was veelbekroonde skrywers Marita van die Vyver vir Hanna Hoekom, en Barrie Hough & Lizz Meiring vir Breek. Die boek is in een jaar al drie keer herdruk, en meer as 11 000 eksemplare is al verkoop, wat volgens Louise Steyn, Jeugredakteur by Tafelberg, fenomenaal is. Volgens haar neem dit gewoonlik 2 jaar om die eerste oplaag van 2 000 van ‘n Afrikaanse jeugroman te verkoop.

Maar wat sê Jackie van dit alles? Sy reken die debat is heeltemal uit proporsie geruk. En sy weet eerlikwaar nie waaroor die bohaai gaan nie. Ek wil ook stukkies aanhaal uit ‘n artikel in die Insig van Mei 2002:

“Die jeug word te veel veroordeel op grond van die manier waarop hulle soek, maar nie op die resultaat van hul soektog nie. Maar hoe ons soek, maak nie regtig saak nie. Op die ou end draai ons almal redelik goed uit. Ons word groot. Ons word wys, mettertyd. Ons kry ‘n man of vrou. Ons kry uiteindelik deernis. Ons vind onsself as ons toegelaat word. Ons kry dit alles op ‘n misterieuse manier, maar die grootste issue van die jeug is om te wys dat ons soek. Om uit te breek en weg te breek.

Grootmense wonder altyd wat die jeug doen as hulle op hul eie is. Ons doen presies dieselfde wat mense bo veertig doen. Ons kuier met vriende, partykeer drink mens ‘n drankie te veel, partykeer sit ons net lekker en praat oor “miskien” en “dalk”. Feit bly: ons is geleer deur voorbeeld. Bly vir my vreemd. In die wêreld van vandag, wat deur die grootmense gemaak is en waarin kinders moet oorleef met egskeidings en vigs en groepsdruk en geweld en al die verskriklike statistiek wat die 21ste eeu opsom, dink party ouers waaragtig kinders is nie gereed om ‘n laatnag uit of kontak met dwelms te hanteer nie. Alles gebeur tog, of dit nou voor oop of agter toe deure is. Dit gebeur in jou huis.

Die jeug bestaan in eie reg. As jy aan hulle die liefde en respek betoon wat jy jou vriende wys, sal hulle weer liefde aan hul medemens bewys.

Maak hulle dus selfstandig groot. Vat hulle na verskillende kerke, gee hulle die kennis, die geleentheid sodat hulle ingeligte besluite self kan neem. Laat hulle ná ‘n ruk self besluit of rook goed is. Laat hulle self besluit of groente eet die moeite werd is. Leer hulle van kleins af van alles en enigiets. Van seks tot die Illuminati. Maar leer hulle die feite, en los hulle dan. Jy kan ‘n perd tot by die water lei, maar hom nie forseer om te drink nie, sê my ouma altyd.”

Voordat ons enige iets oor die boek self sê, wil ek ‘n brief voorlees wat Jackie spesiaal vir ons leeskring geskryf het.

Kom ons begin maar by die drugs en die taal. Dis die twee main goed waaroor almal altyd wil praat. En nee ek is nie so seer gatvol nie. Dink net dit is uit proportion uitgeruk. (My Afrikaans gaan tien teen een nog slegter wees in die e-mail want hier’s nie ‘n speltoetser op my e-mail nie en ek gebruik eerder ‘n engelse woord as ‘n verkeerd gespelde Afrikaanse woord en daar bly nie Tafelberg editors in my outbox nie)

Drugs. Of dwelms. Dwelms is ‘n deel van die lewe, en ek dink deesdae is dit miskien net meer openlik. Elke kid het al een of ander tyd (ek praat hier  van die stede, want dit is tog maar die stede wat ek ken) in aanraking gekom daarmee. Daar was netnou ‘n advertensie op TV wat gesê het, op average, elke persoon in Suid Afrika kom 27 keer in hul lewe in aanraking met drugs. 23 keer word dit van die hand gewys. Maar anyway. Al wat ek eintlik kan se is dat daar altyd drugs gaan wees. daar gaan altyd die wees wat verslaaf gaan raak. Daar sal altyd die wees wat bloot nee sal se daarvoor. Jy is nie noodwendig ‘cool’ om drugs te doen nie. Dit gaan nie daaroor nie. Ek dink wel dit gaan oor ‘n tipe rebellie. Kids kom seker partykeer op die punt waar hul doodeenvoudig se: Why not? Al weet hulle meestal dat die kanse van verslawing groot is. Hulle weet bleddie goed wat die consequences is. Maar dis ‘n groot- Who Cares? Want almal dink aanvanklik hulle kan dit beheer. Ons leef met grootheidswaan en reken ons kan dit handle. Want die kids van vandag reken hulle kan enigiets handle. In Punch praat ek explicitly van rich brats. Want ek ken hulle die beste. Ek was my hele lewe lank saam met hulle op skool. Hulle doen drugs want geld is nie ‘n kwessie nie. En hulle is vasgevang in total boredom. Niks is nuut nie. Hulle het al die hele wêreld gesien. Hulle kan enigiets koop wat hulle wil. Drugs is net nog ‘n cheap thrill. Iets om te experience. Iets om die tyd verby te kry. En in stede is dit baie freely available. Al weet jy niks nie. Al ken jy geen dealer nie. In 30 minute sal jy Cocaine kan kry. Want almal ken iemand wat iemand ken… In klein dorpies is dit seker nie so erg nie. Ek weet nie juis nie. Ek sien nie juis ‘n groot druglord in Ventersdorp nie…maar ek is seker jy sal ‘n plan kan maak. Of so se van my pals vir my wat van klein dorpies af kom. Maar dit is tog meer beskut. En die ander grootste rede wat meestal die oortuiging is, is escape. Om weg te kom van iets. Jy worry nie juis oor enigiets as jy trip op LSD nie.

Die Rykman-ding. Dis waar. Dis so waar ek was erg geskok dat mense gedink het dis onrealisties. Geld is nie ‘n issue nie, vir mense soos Charlie. Ek het dit al soveel keer gesien. Ek dink altyd aan een ou wat saam met my op skool was. Stink ryk. Die pa was besig met jong blondes en business deals en die ma met sielkundiges en dieetkundiges. Die ou en sy jonger sussie het in ‘n huis gebly langs sy ouers sin. Pool tafels, moerse sound systems en sakgeld wat hulle nie kon spend nie, want dit was meer as ‘n gewone prokureur se paycheck. Hy het op 17 ‘n BMW gekry. Dis daai klas van ding. And it is happening. Miskien absurd, maar waar.

Die taalkwessie. Ek dink regtig dis uit proportion uit geruk. Ek was al beskuldig van geestelike luiheid. allerhande dinge. mense wou my partykeer al kruisig. Maar as dit is hoe ‘n mens moet skryf om dit realisties te maak vir jong mense, dan moet jy so skryf. Jy kan niemand forseer om iets te lees wat vir hulle nie werklik is nie. Maak nie saak hoe goed Andre P Brink is nie, meeste jong mense gaan dit nie lees nie, want dit is nie in hul verwysingsraamwerk nie. En met taal, as hulle in die eerste bladsy sien iets is informeel, soos hy/sy praat, is die kanse groter dat hy /sy dit gaan lees. Verstaan? En ek weet party mense verstaan dit nie en hou nie van my taalgebruik nie, hulle dink dit is oortollig ens, want dis ook nie hulle verwysingsraamwerk nie. Afrikaans is vir my ‘n moerse mooi taal wat ek sal praat tot goodness knows when. Niks sal my ooit kry om dit te verraai nie. Maar dis nog ‘n jong taal, en dit is ons taal en wat die taal so wonderlik maak is dat hy vry is, soos ons. Dis nie set in stone nie. Ons kan dit make-up en op-jazz soos ons wil. Jy kan hom praat nes jy wil. Hel op Stellenbosch praat mense ‘n Afrikaans wat meeste tannies ‘n beroerte sal gee. In Paternoster praat hulle hom weer heel anders en in Waterkloof in Pretoria klink dit amper soos ‘n ander taal.  Ek voel net, solank hy gepraat word…maak nie juis saak hoe nie. Mens moenie so erg vashou aan iets en so teen verandering wees dat jy op die ou end alleen sit met net twee mense wat nog die ding praat. Beweeg saam met dit.

Hahah, hierdie is waarskynlik langer as wat jy wil he. Maar ek sit nou lekker want my boyfriend het vir my coke ingegooi en ‘n pizza gaan koop.

Ek het begin skryf…was maar nog altyd omring deur boeke. Daar was net altyd van die goed in ons huis. My ma se grootste fantasie is seker om Met Breytenbach of Dante ‘n romantiese rendezvous te he. Sy’t my geleer lees voor skool. Ek was amazed deur hoe swart karakters op ‘n bladsy ‘n hele wêreld in jou kop kon create. Ek suffer van terminale verveling en is dus ‘n movie en boek addict. En ek sukkel effens om myself mooi te explain, verbaal, so ek het altyd maar stories geskryf. Dis makliker, minder moeite. Jy kan jouself beter uitdruk. Begin toe met punch, weereens uit verveling een Desember vakansie van st 8. hy begin toe maar net loop vat. En soos die jeug se ek toe: Why not? Stuur dit in en viola. Ek is steeds overwhelemd deur wat met hom gebeur het. Het my verwagtinge oortref.

Ek sal weer skryf want ek enjoy dit moerse baie. Dis soms lekkerder as om uit te gaan, of as ek nie kan slaap nie en ek voel dis beter as drugs.😉 Werk op die oomblik aan ‘n nuwe boek. In Limbo is sy naam. Gaan oor studente. Hoe ons almal wag ens ens. Sal seker êrens volgende jaar verskyn.

Autobiografies? Daar is definitief traces van my lewe in die boek. Ek hou van karre. Van frida kahlo. my ouers is lawyers. was self in privaatskole. Maar ek hou self nie baie van Charlie nie. Ek het baie deernis vir haar. Ek is nie sy nie. Sy’s maar so ‘n mengelmoes van klomp anorexic girls wat ek op skool geken het. Maar jy weet, mens vat mos maar altyd so bietjie van jouself en werk daarvan af. Sodat dit meer geloofwaardig is. Sodat jy dit beter kan verstaan. Oor wat jy ken. Ek glo die belangrikste ding van skryf is seker maar honesty.

Die tannies moet nie stres oor hul kids nie. Kinders draai meestal alright uit jy weet. Jy moet hulle net nie voorskryf nie. Laat hulle self leef. Gee hulle raad, don’t live for them. Moet hulle nie smother nie ens. My ouers het my van kleinsaf baie vryheid gegee. Eks baie rasioneel grootgemaak, seker omdat hulle lawyers is, who knows. Baie soos Charlie. Maar nie eendag het ek gevoel hulle gee nie om nie. En die omgee gaan nie oor-nee jy kan dit nie doen nie sonder enige explanation (net ‘n-glo my, want ek is lief vir jou), maar eerder oor met jou daaroor te praat, al is dit vir 5 ure. My ouers was nooit te besig vir my nie. Maar hulle het nooit hulle neuse in my lewe ingedruk nie. Ek het self vir hulle raad gevra en baie daarna geluister en tog partykeer nie. Partykeer met spyt, soms nie. En hulle het my altyd 100 % support. Dus is ek moer lief vir hulle. En die boek is ook opgedra aan hulle. Want hulle het vir my my lewe gegee, nie net ‘n extention van hulle s’n nie.

Maar al hierdie goed is rellevant jy weet. Dit hang so baie af van situasies. Daar is nie ‘n ten step guide oor hoe om kinders groot te maak nie. Of hoe om te sorg dat jou kinders nie dwelms doen of foute maak nie. Want hulle gaan waarskynlik foute maak. En hulle moet. Jy moet seker maar net weet wat aangaan. Nie net altyd uitspraak lewer nie, maar probeer verstaan, dit in konteks sien. Jy moet jou kind hanteer soos ‘n mens en nie ‘n baby nie. Want kinders is deesdae baie ouer en slimmer as wat hulle waarskynlik behoort te wees. Hulle moet baie goed handle. En hulle doen dit. hulle survive. Gee hulle liefde, understanding, trust and let them lead their lives. Hoe seg hulle? You can lead a horse to the water but you cant make him drink. Of jy kan hom vis gee vandag maar wat maak hy more? Leer hom eerder hoe om vis te vang. Iets stupid soos dit. Iets waar soos dit.

Ok. Haha, nou sal ek maar eerder die sabbat gaan geniet. Jammer ek het soveel geblab. Lees maar wat jy wil vir die tannies. Se vir hulle dankie dat hulle my boek gelees het. En ek hoop hulle het dit geniet, regardless van die taal en Charlie se drugs ens.

Thanks dat jy my gevra het. Dit was nice van jou.

Dis dan met hierdie perspektief en agtergrond wat Jackie op hierdie jeugdige ouderdom Daar’s Vis in die Punch geskryf het. Wat bly daar nou vir my oor om te sê? Jackie het self al die aspekte waaroor al die bohaai gegaan het deeglik gedek. Ek wil net graag hê dat ons almal objektief na die boek kyk, en totaal vergeet van die skryfster, of waar sy al haar ervaring vandaan gekry het, hoe sy hierdie dinge weet. Ons dink tog nie dat Andre P Brink ‘n wrede man is omdat daar meestal een of ander gruwelikheid in sy boeke is nie! Net so kan ons nie aanneem dat Marita van der Vyver ‘n vrou van losse sedes is nie.

Net so kan ons ook nie net omdat iets buite ons verwysingsraamwerk is, dink dat dit nie bestaan nie! Ek het bv onlangs die Below the Belt programme gekyk, en ek het myself darem as taamlik ingelig beskou, maar my mond het oopgehang. Dit is skrikwekkend om te sien wat daar werklik bestaan!

Die boek handel oor ‘n lewe in die week van Charlie Koekemoer. Dit begin waar sy by Binnelandse Sake op Malmesbury in ‘n ry staan en eindig ook daar.

Die boek is ‘n terugblik op die afgelope week, met terugflitse uit haar lewe. Charlie se week begin met ‘n teleurstelling, haar ouers verbreek weereens hulle Woensdag fliek­afspraak, maar maak op deur vir haar ‘n nuwe laptop te koop. Sy het gemengde gevoelens daaroor, sy noem dit ‘n ‘emosionele trade-in’, die bedwelming van materialisme.

Charlie sien ook haar kar as emosionele afpersing, om haar tevrede te hou dat hulle op Jakkalsfontein aan die Weskus woon, na haar pa se ineenstorting. Sy voel dat haar ouers ‘n eenheid is, waarvan sy uitgesluit is, en  dan spandeer hulle van tyd tot tyd intensiewe ‘kwaliteit’ tyd aan haar vir ‘n naweek. Sy ervaar konflik oor haar behoefte aan aandag, en die genot van materialisme. Die afkoopgeskenke wat vir ‘n ruk opmaak vir die gebrek aan tyd. Sy spandeer baie tyd met haar vriendin Talia, op die foon, wat haar situasie goed verstaan.

Charlie se rolmodelle is Isadora Duncan, maar veral Frida Kahlo, vir wie sy groot bewondering het. Sy bewonder die passie waarmee Frida geleef het, al was sy baie alleen.

Charlie sien haarself as ‘n ‘normale’ sestienjarige wat die rol van bedorwe brokkie goed speel, en dus daarin slaag om ‘cool’ te bly. Sy neem ons deur die tipiese verloop van elke stadium van die deursnee hoërskoolkind, wat genoeg is om enige ouer slapelose nagte te gee.

Dan begin sy skryf op haar nuwe laptop, maklik, sommer vanself, om “my lewe te record soos ek dit voel”… “Ek skryf met die hoop dat ek enige sekonde my siel sal sien. Asof die screen ‘n spieël sou word.”  Sy neem ons terug na haar kinderjare in Pretoria. Haar ouers is nog by ‘n vergadering, en op ‘n tyd wat sestienjariges bed toe behoort te gaan, ry Charlie stad toe na ‘n club toe saam met ‘n vriend. Ek is dankbaar oor die beskrywing van die verkillende soorte klubs, nou weet ek ook!

Donderdag. Aangesien Charlie eers toe die son opkom gaan slaap het, besluit sy om nie skool toe te gaan nie. Sy bel rond om uit te vind waar die Frida Kahlo uitstalling gehou word. Sy dink oor haar sekskapades, en besef dat sy nog nooit werklik verlief was nie, en dat liefdesverhoudings te veel opofferings van beide partye verg. P43. Sy praat egter met ‘n deernis en ‘n besondere insig vir so ‘n jong meisie.

Sy het ook besondere insig in haar ma se rol as ouer, en moederskap, en hoe sy as kind daarby inpas en aanpas. Sy besluit dat skryf ook ‘n vorm van ontsnap van die realiteit is, net soos drugs, en besluit om ‘n boek te skryf. Dis nog steeds haar lewe, sy noem haarself Kahla. Kahla is soos wat sy graag sou wou wees, en ook haar verhouding met haar ouers word hier geïdealiseer.

Vrydag gaan sy vir die naweek Kaapstad toe, vir die Frida Kahlo uitstallling Saterdag. Oral waar Charlie gaan en wat sy doen, herdink en herleef sy die situasie as Kahla. Kahla het baie meer selfvertroue, is spontaan en baie teatraal.

Saterdag, die dag van die uitstalling. Sy dink oor haar lewe, en besluit om vir haar ouers te sê dat sy nie regte gaan studeer nie, maar professioneel wil dans.  Sy ontmoet ‘n vriendin, maar die gesprek wil nie vlot nie. Sy is besig “om die files in haar kop te herrangskik.”

Die hoogtepunt van haar naweek is die uitstalling, waar sy ‘n skildery “Danza al Sol” (dans na die son) koop. Dit bring vir haar sekere self-insig. Dat ons ons eie realiteit bepaal, ons eie keuses maak en dan daarmee saamleef. So is vreugde en ook pyn, ‘n keuse.

Sondag. Sy gaan laai ou klere af by ‘n liefdadigheidswinkeltjie, en Mavis is bly om haar te sien. Sy simpatiseer met Charlie oor haar pa wat sterwend is, en vir die eerste keer besef sy dan wat aangaan, waarom haar pa so moeg is en haar ma huilerig. Waarom hulle so baie rus, en sy uitgesluit voel.

Sy gaan sit teen Seinheuwel om die nuus te verwerk, en raak betrokke in ‘n filosofiese gesprek met ‘n kunstenaar, Angelo. Verduidelik titel. P102. Punch is die lewe wat mense drink, sonder om vrae te vra, of dit wat hulle drink suiwer is.

Terug by die huis voel sy ‘n nuwe deernis vir Caroline, hulle huishoudster, en neem haar huis toe, Darling toe. Caroline noem haar Kagiso, wat Vrede in Sotho beteken. Toe sy terug is, is haar ouers ook daar, en hulle wil gaan rus. Met haar nuwe kennis en insig besef Charlie dan vir die eerste keer dat dit goed is presies soos dit is, haar ouers ‘n eenheid, en sy die kind. Dat sy eintlik ‘n alleenmens is en dat hulle verhouding perfek is net soos dit is.

Met vrede en dankbaarheid in haar hart berei sy vir hulle ‘n liefdesmaal. Sy bedank haar ouers vir alles wat hulle vir haar beteken, en vra verskoning vir enige foute van haar kant af. Sy breek ook die nuus dat sy liewer wil dans as regte studeer. Na ‘n openhartige gesprek aanvaar hulle dit en vra haar pa haar om vir hulle te dans. Sy doen ‘n baie intense sensuele dans, en dans dan met haar pa. Sy laat sak haar kop op sy skouer, en begin huil. Sy fluister: “Ek weet jy gaan dood.”

Die volgende twee dae gaan Charlie weer skool toe, en sien haar vriende ook in ‘n nuwe lig, en besef dat verskille tussen mense goed is. Sy het vrede in haar hart, en voel vry. Sy besef dat daar balans moet wees tussen alles, tussen skool en paartie. Dat sy kan luister na mense, dat haar ego opsy kan staan.

Die boek eindig waar sy by Binnelandse Sake staan om haar naam te verander, na Kahla Kagiso.

Leon van Nierop het my geleer dat mens altyd na ‘n boek moet kan kyk en met een sin die vraag kan antwoord: “Waaroor gaan die boek nou eintlik?” Ek sou hierdie vraag antwoord met: Die volwassewording van ‘n tienermeisie oor ‘n naweek.

Dit dan, dames – Daar’s Vis in die Punch. Wie wil die eerste vis dodge met ‘n reaksie??

Bespreek deur Trisa Hugo Sept 2003

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s