Notas van die bespreking van Dieper Water – Helene de Kock

Dieper Water

Helene de Kock woon in Pretoria en is al byna 40 jaar lank getroud met dr. Jos de Kock. Hulle het drie kinders, Jaco, Herman en Sylvia. Jaco is ses jaar gelede oorlede en Herman en Sylvia skryf albei ook. Helene en Jos het twee kleindogtertjies, Hanna en Emma, Herman se kinders.

Helene se skryfwerk dek ‘n wye spektrum van genres. Sy doen ook joernalistieke werk en skryf resensies vir dagblaaie. Sy skryf al langer as dertig jaar lank en meer as 40 boeke is al gepubliseer. Van haar vroeër werke verskyn nou in omnibusse, maar sy skryf steeds nuwe romans asook geestelike werk en kinderboeke. Daar verskyn binnekort nog ‘n omnibus en ook nuwe romans van haar. By CUM verskyn daar ‘n boek oor haar seun se dood met die titel As dood Lewe word. Sy skryf vir verskeie uitgewers soos Tafelberg Uitgewers, Human & Rousseau, Litera, CUM, Aktuapers en LAPA.

Helene skryf graag oor die liefde – maar net so belangrik in haar werk is die klem op die werklike lewe en die eise wat dit aan álle verhoudings stel. Sy verwys na haar romans as verhoudingsverhale. Helene het haar Meestersgraad cum laude in Mei 2008 behaal. Dieper Water is juis ‘n uitvloeisel van hierdie studie. Sy bied ook deesdae aanlyn-kursusse aan in roman-skryf. Helene studeer ook verder.

Haar nuutste romans, Die Hemelburgers, en veral Somersneeu, is baie goed ontvang.

Helene was verskeie male naaswenner met die ATKV/Sarie pryse vir vervolgverhale en ook die ATKV/Rooi rose kortverhaalwedstryd. Al haar vervolgverhale is in boekvorm deur verskeie uitgewers uitgegee en ander romans het sommer direk in boekvorm verskyn. Sy gee ook soms lesings by die Skryfskool van die Noordwes Universiteit asook af en toe lesings vir die honneurs studente op TUKS.

Helene het net soos Chanette Paul, Irma Joubert, Wilna Adriaanse en nou ook Kristel Loots, bekendheid verwerf as liefdesverhaalskrywer, en dan natuurlik baie tydskrif­verhale. Net soos Maretha Maartens wat as pienk-boekieskrywer bekend is, maar haar roman, Jacoba Afrikaner het nie die erkenning gekry wat dit verdien nie. Mense vind dit moeilik om uit hulle groewe te kom as skrywers sulke genre-spronge doen. Koerante staan nie graag ruimte af aan skrywers wat bekend is as romanse-skrywers nie, ek kon slegs een paragrafie in die Volksblad oor Dieper Water opspoor. (Terloops, Trisa, daar is ‘n baie groot verskil tussen romanses en liefdesverhale. Ek skryf glad nie romanses nie. Romanses ignoreer die werklikheid (Mills & Boon) en liefdesverhale hanteer die werklikheid. Ek dink jy moet dit pertinent noem. Dis eintlik ‘n hele onderwerp op sigself.)

En tog sê Helene:

Ek het op 20 Mei 2010 van die PUK se Afrikaans en Nederlands departement ‘n penning gekry vir my MA tesis en vir Dieper water as die beste tesis en boek van die jaar 2008. Hulle het ‘n ruk lank nie fondse gehad om pennings te gee nie maar het skynbaar nou weer, en toe het hulle sommer 2008 en 2009 s’n ook gegee. Nou vra ek jou, waarom het die pers geen aandag aan die boek ( en ook aan Somersneeu) gegee nie? Ek het bv. ‘n wonderlike keurverslag vir Somersneeu gekry, wat ek onder andere in my proefskrif gaan inwerk. My proefskrif gaan o.a. oor die skep van ruimte in Somersneeu as ontspanningsroman maar ook oor ander werke wat meer letterkundig is. Dit om te bewys dat daar net soveel aandag aan die skep van ruimte in ontspanningsromans gegee word as in letterkundige werke. Ek sal bly wees as jy by die Leeskring wil noem dat ek hierdie penning gekry het vir die beste meestersgraad ( ‘n volledige tesis plus die boek Dieper water) in Afrikaans en Nederlands aan die PUK vir 2008. Haar studieleiers was prof Franci Greyling en prof. Hans du Plessis. Sy sê verder:

Wat ek as skrywer wel bewustelik tydens die skryffase van die roman Dieper water probeer bewerkstellig het, en dit waarskynlik hoofsaaklik deur die karakterisering, is my Christelike oortuigings. Ek is van mening dat ek as Christen-skrywer ‘n roeping het. Hierdie roeping is om Christelike morele waardes in my skryfwerk te vergestalt. (Bv begrafnis van Engelse soldaat.) Eintlik is die Christelike oortuigings nie losstaande in insidente soseer nie, maar hopelik verweef met die hele gees van die boek.

Die titel vir hierdie roman was vir my dus byna van meet af aan Dieper water. Nie alleen sou dit dui op die plek Diepwater met sy diep spruit nie, maar die Dieper in Dieper water sou hopelik ook assosiasies wek van simboliese graadverskille in lief en leed. Dit kan ook dui op verskillende tydperke wat dieper die verlede in lê. Ek het gevolglik gedink die titel Dieper water sou wel aanduidend wees van die inhoud van die roman.

Een van die temas van die roman, is dus by implikasie ook die soeke na ‘n eie identiteit binne ‘n multikulturele samelewing midde in ‘n snel-veranderende wêreld.

Onderhoud met Madri Victor op LitNet

Hoe het jy hierdie verhaal geskryf?

Die vertelde tyd in Dieper Water strek oor byna ’n eeu. Om hierdie logge tydsduur te akkommodeer, het ek drie verhaallyne aan die verhaal gegee wat, alhoewel eers chronologies geskryf, later achronologies vervleg is. Ek het eerste die briewe uit die Anglo-Boereoorlog geskryf, toe die verhaallyn uit die tydperk van die Tweede Wêreldoorlog, en daarna, en heel laaste, die verhaallyn uit die era net na 1994 tot en met 1998. Toe het ek die drie verhaallyne vervleg. Die boek is ook nie in hoofstukke opgedeel nie, maar die “boek” binne die boek, naamlik Rachel Froneman se outobiografie, Diepwater, is wel in hoofstukke ingedeel. Daarin word dan ook die briewe van Ouma Ragie vervat.

Maar, in énige fiksie is daar elemente van die werklikheid. Daar is byvoorbeeld die werklikheid van my verlies. Ek het, alhoewel dit geensins ’n treurige boek is nie, byna onbewustelik die dood van my oudste kind hierin ingewerk. Verlies is dus ’n tema in die boek. Enige skrywer skryf ook uit herinnering en ervaring. Elemente van my herinnering aan die Oos-Vrystaat, waar ek lank gewoon het, asook my ervarings met mense oor die algemeen vind sekerlik neerslag in die boek soos in enige boek van my. Daar is ook die soeke na identiteit wat in Dieper water voorkom.

Die werklike skryfproses is as volg gedoen: Die eerste verhaallyn wat tydens die Anglo-Boereoorlog afspeel, is eerste geskryf. Daarna het ek die verhaallyn wat tydens die Tweede Wêreldoorlog afspeel geskryf, terwyl ek die briewe van Ouma Ragie uit die Anglo-Boereoorlog daarin plaas as deel van die tweede verhaallyn. Die derde verhaallyn wat in die laat negentigerjare van die vorige eeu afspeel, is geskryf terwyl die eerste en tweede verhaallyne in gedagte gehou is, omdat hierdie twee verhaallyne in die derde verhaallyn al skrywende ingepas moes word. Ná die eerste twee verhaallyne/verhale geskryf is, is dit gekombineer en vervleg met die derde verhaallyn.

Temas:

Verlies – Ouma Ragie – oupa Nikolaas, Rachel haar ma aan die lewe, Marthinus, haar eie twee babas, en dan Hektor.

Soeke na identiteit – Leer haarself ken deur ms,

Heelword en Vergifnis

Koppigheid – verwoes byna lewens,

Die kompleksiteit van die liefde

Skoonheid – help ouma Rachie deur oorlog, digkuns, letterkunde, geure

Die skep van tydgees in ’n roman is een van die elemente van die skryf van ʼn roman

Die plaasroman (Dieper water) kan kwalik slaag indien die skrywer nie daarin slaag om die leefwyse op ‘n plaas duidelik uit te beeld nie. Die ruimte waarbinne karakters optree is dus van kardinale belang vir die uitbeelding van die karakters self. Brink (1989:86) meen “die leser se persepsie van ‘n karakter kan bepaal word deur die ruimte waarbinne daardie karakter voorgestel word”. Hoe die plaas en landelikheid as ruimte uitgebeeld word, het dus ‘n vormgewende invloed op karakter.

Tydgees het dus te maak met mense  se aannames van o.a. die mens, die geskiedenis, die wêreld, die politiek en die godsdiens. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was daar ‘n heel ander tydgees as nou.  Daar was byvoorbeeld armoede en ‘n skaarste aan gewone gebruiksartikels wat ‘n ander soort gees van beklemming meegebring het.

Liggaamlikheid en veral seks was bv toe taboe-onderwerpe, maar ouma Ragie se briewe laat Rachel na die Bybel gryp om Hooglied beter te verstaan. Dis was ʼn mooi liefde, ʼn skoon liefde. Ware liefde.

Daar moet baie navorsing gedoen word in verband met die kleredrag, die voedsel, die politiek, die religie en die sosiale atmosfeer.

Die skeppingselemente van ʼn roman is karakter, ruimte, tyd en handeling.

Karakters word deur skrywers gebou en saamgestel deur die boustene van sy/haar eie menswees en sy/haar ervaring van baie ander mense se menswees (Aucamp, 1988:28). (Christelikheid, ken Oos-Kaap, verlies van kind ens)

Op die plaas, Diepwater, speel die verhaal van Rachel en Hektor Froneman hom af. Hulle is tegelyk minnaars en eggenote, vriende en bitter vyande. Van hul kindertyd af is hulle onskeidbaar. Maar Diepwater, geleë in die berge van die Oos-Vrystaat, is ‘n plek van geskiedenis en trauma. Soos wat die veranderende tye, van voor die Tweede Wêreldoorlog tot anderkant apartheid deur die land golf, word ook Rachel en Hektor ten seerste daardeur geraak. Ook Rachel se Ouma Ragie en haar Nikolaas se liefde is op hierdie geliefde familieplaas deur ‘n oorlog getoets. Rachel s’n weer deur die politieke gees van die tyd. Sy ontdek dat sy politiek haat, want dit bring ‘n verskriklike tweespalt in haar. So erg dat sy selfs vir Hektor, wie sy innig liefhet, vervreem… Sy ontdek dat geen mens die beeld van sy tyd kan ontsnap nie en dat mens nie vir altyd met ‘n geheim kan saamleef nie. Dat die waarheid hom sélf later uitdra buite toe…

‘Dieper water’ is ‘n familie sage waarin drie liefdesverhale oor drie tydperke vervleg is. Die kompleksiteit van die liefde en die soeke na die self vorm die tema van hierdie roman. Dit gaan hier oor die aard van liefde en vertroue – en die weerloosheid van die mens as die tydgees oor hom spoel.

‘Dieper water’ is op geen vlak ‘n liggewig nie. Die plot, struktuur, karakterisering en uitbeelding van die milieu in Dieper Water is besonder knap vasgelê. Dit is ‘n roman met diepgang, een waarvoor die woord “oppervlakkig” beslis nooit sal geld nie – Dr. Etienne Bloemhof – Redakteur – Tafelberg Uitgewers.

As ek sulke gevleuelde woorde gebruik, en julle dink dalk dis ek wat so kreatief is – ek span die hele tyd Helene se eie woorde in in my sinne. Die boek is deurspek deur sulke mooi taalgebruik en sinsnedes, dat ek die hele boek sou moes voorlees om dit oor te dra,

Die storie begin waar Rachel sit en wag vir haar kleinkind. Sy sit en dink, “Oudword is niks, maar minder word…” Nadia is deur haar ma Narina weggehou van Rachel na Nardus se voortydige dood.  Sy het bekend geraak as kinderboekskrywer, wat die storie van Rapsie vertel, en daardeur het sy dit wat sy begeer, van die illusie haar werklikheid gemaak en gaandeweg het dit haar voedingsbodem geword. So het sy haar drome en aanvoelings vergestalt.

Ons ontmoet ook  vir Pulani, Rachel se maat van kinderdae, wat nou haar kok is. Sy is ook ʼn karakter in die Rapsie-boeke, en leef haar in die reise waarop sy saam met Rapsie gaan.

Al die belangrike mense in die dorp kom kuier, maar dis die jong dominee Deon wat Rachel moed inpraat: Die storie hou immers nie daar op waar die laaste woord getik is nie.

Nadia arriveer, en die twee vroue het dadelik ʼn konneksie (wat nie noodwendig is met bloedfamilie nie) en hulle baseer hulle verhouding op oop, eerlike gesprekke. Rachel vind Nadia se siening gebalanseerd, en vind dat sy nie ʼn blindelingse volgeling is nie, maar ook nie ʼn roekelose rebel nie.

Stories is soos spieëls. Op die ou einde sien ek dalk myself daarin – soos wat ek regtig is. Of anders kom vertel ʼn leser wat fyner kyk, dit dalk vir my. (Aldus Rachel) Sy dink ook nie ʼn mens se oog is gemaak om so direk en sonder filter na die waarheid te kyk nie. Of jou oor om sommerso te hoor nie. ʼn Storie help jou om die waarheid in die oë te kyk … en dit te verstaan.

Rachel gee die manuskrip van haar outobiografie vir Nadia om te lees, hierdie is dus ʼn boek binne ʼn boek. Rachel lees ook weer saam met Nadia deur die manuskrip, en so leer sy haarself ook beter ken, en kry insig in haar optrede.

Die tweede verhaal begin by die nag toe Racheltjie Rachel word. Sy sien hoe haar pa sy baba Marthinus (enigste seun) by ʼn bruin werker in die kerkhof begrawe, en sien hoe die verhouding van haar ouers verval.

Rachel lees haar ouma Ragie se liefdes briewe, en so ontvou die derde verhaal (ʼn Storie binne ʼn boek binne ‘n boek). Dit vertel hulle storie van oorlewing in ʼn grot tydens die ABO. ʼn Ouma wat vol liefde was. Só vol liefde dat sy bladsye en bladsye daarvan volgeskryf het.  Ouma Rachie leef bo in ʼn weggesteekte grot, waar sy ook ʼn kind in die lewe bring. Hulle beleef uiterste toestande, honger en koue, maar sy hou haar siel aan die gang deur briewe wat sy aan haar Nikolaas skryf.

Maar Racheltjie leer uiterste hartseer daarmee saam as haar pa weggaan om saam met die Engelse teen die Duitsers te gaan veg. Sy is wys vir haar jare, en sê vir hom al gaan hy hóé ver weg, sy skaduwee sal altyd saam met hom gaan.

Haar verhouding met haar suster Lita is ook nooit innig en intiem nie, totdat Lita swanger raak en weggaan saam met haar ma. Rachel bly saam met oupa Frederik agter, ʼn wyse man wat haar baie van die lewe leer, wat uiteindelik vir Rachel die laaste twee van ouma Ragie se briewe gee, wat daardie verhaal dan ontknoop. Die Engelse soldaat wat ouma Ragie met Susara en Joël se hulp begrawe, blyk dan oupa Nikolaas te wees, en ouma Ragie het haarself aan die gang gehou deur sy dood te ontken, en steeds aan hom liefdesbriewe te skryf. Dis tekenend van daardie tydsgees, dat dinge onder die kombers gevee is en nie oor gepraat is nie. Maar vir haar het dit oorlewing van haar siel beteken, dit en die vasklou aan skoonheid, die natuur en digkuns. Geure van seep en speserye, en rose.

Rachel herleef weer al die emosies soos wat Nadia die manuskrip lees, en vra haarself af: Wat is tyd nou eintlik? Gister en vandag is so dig verweef dat die grens vanself vervaag soos wat die dae en jare aanstap. Sy vra ook: Is dit waarom sy mense van haar vervreem? Omdat sy nie weet hoe om woorde en die lewe bymekaar uit te bring nie? Is sy regtig dan nes ouma Ragie, wat alles uit haar uitgeskryf het nes sy wou? Wat woorde voor die werklikheid ingespan het? En dit gemaak trek het? P 185 Hektor leer ook vir die jong Rachel: ʼn Mens moet slim wees met ander mense, maar die heel slimste moet jy met jouself wees. Mense is belangriker as boeke. ʼn Mens leef tussen mense. Boeke het nie bloed nie. P250

Ook Nadia se ma, Narina het Rachel goed beskryf, Don Quichotterig, iemand wat nie weet wat is werklik en wat nie, iemand wat denkbeeldige vyande beveg. Nogal raak!

Maar dis deur boeke wat Rachel gedefinieer word. Eers as Racheltjie wat Jane Austen se stories vir Pulani en vir Hektor vertel. So leer hulle vroeg alreeds van verhoudings en van die lewe, van hulle eie lewenslesse – Pride and Prejudice. Later bring vriend Jan boeke, en dan begin sy self skryf.

Net so verweef soos daardie gister en vandag waarvan ons gepraat het, is die drie verhale in die verskillende tye waarin dit afspeel.

Verhaal 1:

Nadia en Rachel wat mekaar leer ken, Nadia se liefde vir Deon, wat sy na jare weer op Diepwater raakloop.

Uiteindelik dan weer Rachel en Hektor wat vrede maak, en Rachel leer wat vergifnis is. Sy wat haar hele lewe eers bekentenis voor vergifnis wou hê. Sy wat onredelik jaloers haar pa en Ada se situasie op Hektor en Maatje geprojekteer het.

Verhaal 2:

Racheltjie wat Rachel word en haar lewe as jong meisie en haar liefde vir Hektor.

Verhaal 3

Ouma Ragie se storie van haar liefde vir oupa Nikolaas.

Die politieke klimaat van die tyd word deurgaans goed uitgebeeld, wat ook die tydsgees waarin die verskillende verhale afspeel mooi uitbeeld. In ʼn gesprek later in die boek (P462) praat Hektor oor die afgryslikheid van apartheid en hoe almal so lank geneem het om agter te kom hoe verkeerd dit was. Die landspolitiek word so ook ʼn metafoor vir Rachel en Hektor se verhouding, daar is versoening net soos in ons lank in 1994, maar alles kan ook nie net eensklaps reg word daarna nie. Hulle is oorsensitief vir mekaar, maar vol hoop. Net soos ons, né?

Bespreek deur Trisa Hugo op 28 Junie 2010

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s