Skip to content
Oktober 28, 2011 / MaanKind

Notas by die bespreking van Padmaker: Christine Barkhuizen Le Roux

Padmaker

Christine Barkhuizen Le Roux is op 18 November 1959 te Vryburg gebore. Sy studeer op Stellenbosch en in 1980 behaal sy ’n BA-graad met Bybelkunde en Sielkunde as hoofvakke.

In 1994 en 1999 woon sy die ATKV-Skryfskool olv prof Hans du Plessis op Potchefstroom by.

In 2000 word haar debuut-digbundel, dimensie,deur Ronnie Belcher van Suiderkollege-Uitgewers gepubliseer. Dit word besonder gunstig deur kritici en lesers ontvang.  In 2002 behaal Christine haar honneursgraad (cum laude) in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy volg dit in 2005 op met ’n Meestersgraad (cum laude) in Afrikaans en Nederlands met Nederlandse poësie as haar navorsingsveld. Haar skripsie fokus op die poësie van die Joods-Nederlandse digteres Judith Herzberg, met studieleier prof Wium van Zyl.

In 2005 behaal haar kortverhaal “’n Persiese Sprokie” die tweede plek in ’n Nasionale Kortverhaalwedstryd wat deur die Stellenbosch Woordfees en Protea Uitgewers geborg is.

Sy skryf ook artikels en kortverhale vir Insig,en word in Januarie 2006 benoem as een van die vyf finaliste in LitNet se Beste Prosastukke van 2005 (vir “’n Persiese Sprokie”). In Maart 2006 verskyn haar debuutkortverhale, Waar koek en wyn ontbreek, by Lapa Uitgewers en einde Augustus 2006 verskyn haar tweede digbundel ook by Lapa, onder die titel roset.

Tussen 2000 en 2006 word verskeie van Christine se gedigte in Nederlandse publikasies opgeneem, sowel as in Afrikaanse bloemlesings. In 2005 en 2006 verskyn daar ook van haar gedigte en kortverhale inTydskrif vir Letterkunde.
Sy het onlangs haar MA in Skeppende Skryfwerk met lof aan die UK geslaag en die roman wat sy as Meestersprojek onder Etienne van Heerden voltooi het, verskyn in 2010 by Human & Rousseau, as Padmaker. Van haar verse is ook in die nuwe Groot Verseboek opgeneem. N 2011 verskyn ʼn bundel kortverhale, Wat die oog gesien het, by Human & Rousseau

Christine woon saam met haar man Bertus op ’n plaas 30 km vanaf Barrydale. Hulle het drie kinders: Joané, Albert, en Carli. Die afgesonderde leefwyse op ’n plaas en in ’n kleindorpse gemeenskap het volgens haar ’n definitiewe invloed op haar skryfwerk. Sy is ook ’n skilder en doen veral studies met ’n simboliese inslag.

(Meeste inligting van LitNet gekry)

Desmond Painter:

Een van die dinge wat Pad maker ’n bevredigende lees ervaring maak, is juis die subtiele, gesofistikeerde wyse waarop Barkhuizen Le Roux die siel kundige gegewe ontgin teen die agtergrond van die maatskaplike en politieke konteks waarbinne die familieverhaal speel en wat deurgaans op die gesinservaring inspeel.

Hierteenoor figureer die eerste roeringe van gewelddadige swart verset dan ook eksplisiet in die roman as die bron van verdere trauma vir die gesin. Katrien se pa, ’n man met relatief liberale politieke idees vir daardie tyd, beleef in die vroeë sestigerjare ’n skokkende insident tydens ’n gewapende kommando-optrede teen ’n versetbeweging, Poqo. Dit werp ’n skaduwee oor sy huwelik, vriend skappe en sy lewe. Uiteindelik is dit nie soseer haar ma wat tydens haar reis vir Katrien verstaanbaar word nie, maar juis die padmaker van die titel: haar sagsinnige, wyse, en deur haar hopeloos geromantiseerde pa. Barkhuizen Le Roux se sensitiewe karakterisering van Katrien se pa, en die treffende manier waarop sy stryd en sy gebrokenheid tydens die reis geleidelik aan Katrien onthul word, is een van die mooiste, bevredigendste aspekte van hierdie roman.

In Christine Barkhuizen Le Roux se debuutroman, Padmaker, word die sondes van die moeder, eerder as die sondes van die vader, bekyk. Die karakter Katrien moet die ongenaakbaarheid van haar ma verwerk terwyl sy op ‘n pad reis wat haar padmaker pa gebou het.

Jeanette Ferreira resenseer in Beeld

Die leser wat ’n toeganklike verhaal soek, word nie teleurgestel nie. Vir die leser wat dieper wil lees vir ’n hegte struktuur, is alles daar.

Wat wel hinder, is die baie onnodig beklemtoonde woorde; die skrywer het net die woord en dit is wenslik dat beklemtoning afleibaar is uit sinskonstruksie.  (Volgens Jeanette Ferreira, vir my het dit nie gepla nie)

Dit verander egter nie aan die feit dat Barkhuizen Le Roux se debuutroman ’n knap en genoeglike, selfs ontroerende, leeservaring is nie.

Adele Dempers – Volksblad

Hoe diep kan ’n ouer ’n kind verwond? Hoeveel van die wonde wat die ouer as kind opgedoen het, word na die volgende geslag oorgedra?Kan’n kind ’n ouer verstaan? Wat maak ’n mens jý?

Hiermee worstel Katrien wanneer sy as volwassene ná haar ma se verdwyning die pad op die spoor van haar kinderdae vat. “Of sy soek en of sy weghardloop… weet sy nie” (bl. 7). Sy weet net sy moet wegkom, sy moet die pad loop om “klarigheid te kry” (bl. 13). Sy hoop om op haar reis helderheid oor haar ma se optrede, haar pa, haarself en die gefluisterde familiegeheime te vind.

Katrien het ʼn hengse verbeelding, (P159) Sy ‘sien haar pa een nag, hy praat met haar en vertel hoe hy nie haar ma kon gelukkig maak nie, en gee raad, dat sy beter doen met haar eie man. Dit is nie duidelik of dit ʼn droom is of ʼn visioen nie? Oral in die boek is dit duidelik dat haar pa wil gesels, maar dat haar ma hom afsnou, en ʼn koue skouer gee. Hy bly egter vol begrip, soos ʼn hond wat geslaan is en bly terugkom. Ek het telkens gewonder of dit die oorsaak is waarom Katrien ook in haar eie huwelik soms selfsugtig en selfgesentreerd voorkom? (P262) Iewers langs die pad leer sy ook dat haar pa voete van klei gehad het – die dag wat hy met die stootskraper in die dam ingery het (P269), maar daardie dele verswyg sy ook vir Sebastiaan toe sy terug is by die huis.

Politiek bly nie uit die boek nie. Die koms van die Poqo’s is die oorsaak van een van die grootste traumas in haar pa se lewe, wat sy eers nader na die einde van die boek verstaan.  Wie van julle onthou van daardie stuk geskiedenis? Ek weet daar niks van nie.

Ook die insident (216) met Oom Kaffer. Dit was maar net een van die kere wat haar beste bedoelings haar in die steek gelaat het. Waar mense haar misverstaan. Sy groet die swart man – wat tog ook ’n overall soos die padmakers dra en wat vir haar glimlag dat sy “tande wit (is) soos die vuurklippe” en sy oë wat “blink soos steenkole wat deur die reën skoon en blink gewas is” – met werklik die beste bedoeling: “Middag, oom Kaffer.”

Dit ontketen ’n woedebui van die beledigde man, so erg dat sy haar “kleinbroekie” natmaak en sy die prik van skrik onder haar arms voel.

Sy voel dat haar ma “haar vlerke afsny”, en dat haar ma baie bedag is op haar optrede sodat sy haar nie vir haar moet skaam nie. Maar dit moet ook gesien word in die lig van hoe mense opgetree het in die jare sestig. Soveel te meer vir iemand ordentlik uit ʼn gestigmatiseerde omgewing. (P128)

Een van die paadjies vol gras, bring die herinnering terug van die dag wat ʼn maatjie haar vertel het wat daar gebeur het, die dag toe die Poqo’s van die trein af gespring het. Ma Kinnie het nooit begrip gehad vir haar man se traumas nie, en het ongeduldig geraak as hy daaroor wou praat. Die dogtertjie van die bankbestuurder wat hy doodgery het (al was dit ʼn fratsongeluk) het lewenslank hom bygebly.

Dié padkampkind se stryd is nie net teen onderwyseresse en “gewone mense” en hul kinders wat op haar neersien nie. Haar ma is ook nooit tevrede met haar nie, altyd verwytend; eintlik doen Katrien niks reg nie en wat sy ook goed doen, kan nog beter.

Katrien se ma, wat uit moeilike ouerhuis kom (alkohol, mishandeling) teer op simpatie en siekte. Of eintlik op die aandag wat sy kry oor haar werklike en gewaande siektes. Sy is liewer vir haar ander twee kinders, en Katrien merk dit op. “Jy máák daarna.”

Ma-Kinnie is ’n komplekse vrou, ongenaakbaar, selfbejammerend en terend op simpatie, veral van dokters. Ma-Kinnie verwyt haar man dat hy net tyd vir ander het, nooit vir haar nie, dat hy ’n padmaker is, hulle altyd trek, hy nie kragdadig is nie.

Sy veg hard teen hul armoede, die mense wat op die padmakers neersien. Netheid, ordentlikheid, dís vir haar belangrik. Sy is die produk van moeilike kinderjare soos Katrien se pa later vir haar verduidelik: “Liefde is soos ’n aflosstokkie, my kind. ’n Menskandit nie vorentoe aangee as jy dit nie gekry het nie.” Ma-Kinnie is so stekelrig dat dit vir my moeilik was om met haar empatie te hê. Sy dryf haar kinders, niks is ooit goed genoeg nie. In Ma-Kinnie se oëkanKatrien net skandes maak, van háár kry Katrien geen sagtheid nie. Net die kere dat sy siek was, onthou sy, was Ma-Kinnie liefdevol. Alles laat letsels op haar kinders waarteen Katrien as volwassene veg. Haar broer Oubie voel nie so geraak deur hulle kinderjare nie, en onthou ook meer objektief.

Katrien vermoed later haar ma ly aan Munchhauser-sindroom.

Katrien se ouma is ook die rede vir baie van Katrien se bagasie (P165) (Storie van die Fris Beentjies van ouma Pretorius) .

Maar daar is ook genade in Katrien se kinderlewe: haar sagte, goeie pa. Die pa wat vir haar appels skil en in stukkies sny.

Dis sy wys­heid en begrip wat die volwasse Katrien jare later, twee maande ná haar ma se verdwyning, terugneem op die verlede se paaie.

ʼn Mens maak foute, my kind, maar jy moet vashou aan die lag. Kyk na die blink van die blare in die son. Dit is ál wat jy het om jou teen die donkertes te beskerm.

Tydens haar reis wonder sy, Is al my paadjies dan toegegroei? Sy wil terug in die verlede, om haar wortels na te loop, maar vind dat die paadjies letterlik afgesper en toegegroei is. Haar man wil graag hê dat sy haar bagasie neersit, en aangaan met haar lewe, en aandag gee aan haar gesin, pleks van wroeg oor dit wat verby is. (Sy is steeds koppig, en amper selfsugtig, en met tye onverantwoordelik (nagry, passe in die sneeu) in haar soeke, om die verlede te vind en bevestiging te kry van wat sy dalk graag wil onthou.Een van die mans wat sy teekom op haar reis, probeer hom slim hou: But one must travel forward, not backward. Maar sy dink aan haar pa se woorde: But you have to know where you come from before you can go somewhere… Vir my voel dit of sy te veel vasklou aan die proses van soek, eerder as om werklik te wil weet. Die rede vir haar ontkenning, besef sy self: (P138) Want as jy práát, hoor jy op die ou end jou eie waarheid; moet jy met jou eie bene in die werklikheid staan. Hierdie insig kry sy deur te dink aan ma Kinnie wat pille wil hê om haar pyn te demp, eerder as om self te dink en te praat daaroor.

Op elke plek waar die geel padskrapers en die armoedige kampe haar tydelike verblyf was, gaan soek sy na tekens daarvan, na mense wat dalk meer onthou as sy. Wat sy vind, is maar karig en nie altyd goed vir ’n verwonde gemoed nie. Met die oopmaak van toe gegroeide paadjies na die verlede en die vind van nuwe maniere van sien en verstaan, word Katrien op haar eie manier natuurlik ook ’n soort padmaker.

Hoekom sou enige mens só ’n reis onderneem; dit maak tog net seer? Maar Katrien is nie ’n masochis nie, sy is ’n soeker. Sy het egter ook ʼn baie ryk verbeelding, en ek het soms die indruk gekry dat sy meer wil vind as wat werklik daar is. Soos haar dogter Juli dit so mooi stel: Op die ou end skraap ma net ʼn klomp verbeelde goed op ʼn hoop. Juli ken haar ma goed, maar dit skemer ook deur dat die ma-dogter verhouding nie altyd baie goed is nie.

Op haar reis kom haar pa se wonderlike woorde na haar toe terug, rig dit haar. Hy sit die toktokkie op die grond neer en tok-tok-tok langs hom op die grond, wat die toktokkie se agterlyf laat wip en ook tok-tok-tok laat maak.

“Sien jy,” het hy gesê, “as ’n mens mooi luister, hoor jy watter taal die wêreld rondom jou praat.” 

En: “Kyk ’n bietjie rondom jou, Katrien, daar is soveel dinge wat vooraf moet gebeur, wat net reg moet loop om die stuk pad eindelik begaanbaar te maak.” Ook: “Padmaak is ’n saamwerkding.” Eenmaal toe hulle weer moes trek, het haar pa haar getroos met die woorde. “Wáár ‘mens heen gaan, is nie altyd die vraag nie, maar waaróm ʼn mens gaan, en wat jy maak met die plek waar jy kom.
 
Só maak hy nie net met ’n padskraper ’n pad nie, sy wys­heid maak ook ’n pad vir sy dogter, in later jare veel meer as in haar kinderjare. Tydens haar reis kom hierdie wyshede telkemale ‘in haar pad’. Haar pa het duidelik baie werkstevredenheid gehad, en het probeer om ʼn normale gesinslewe te hê, maar die ma het dit onmoontlik gemaak. Hy het vir Katrien geleer van saamwerk met mense, en met masjiene.

Al hierdie dinge onthou Katrien soos herinneringe terugkom wanneer sy die dowwe spoor van haar kinderdae volg. Stadigaan maak sy sin van al die brokstukke wat sy hoor en algaande onthou, want sommige dinge was vir haar so skokkend dat sy dit uit haar geheue geban het. Sy besef: “Dinge is nie soos dit vir ’n mens lyk nie. Woorde was nie altyd wat hulle gesê het nie” (bl. 212).

Gaandeweg kry die volwasse Katrien ook die pad waarop haar hardvogtige ma geloop het; uiteindelik spoor sy haar weggeloopte ma op. In die hospitaal waar sy haar vind, het ek enige iets gekry, maar nie antwoorde nie. Die einde was vir my vreemd, so half aangelas,  asof dit die storie moes afsluit. Maar die storie was vir my reeds klaar.

Katrien se reis is nie verniet nie. Sy word soos haar pa simbolies ’n padmaker – ’n padmaker wat die bose siklus verbreek van disfunksionele verhoudings wat van geslag tot geslag oorgedra word. Deur haar reis maak sy soos haar pa vir haar aan die begin van haar studentejare sê oor padmaak: “Partykeer moet ’n mens nie bang wees nie, Katrien, partykeer moet jy net doen… Dan moet jy wegskiet, en skoonmaak. Want dan kom die eintlike werk… wat ’n mens makliker van die een punt na die ander laat ry” (bl. 341).

En uiteindelik kom Katrien by die punt waar sy die laaste gladde laag kan oorgooi, waarop mens gemaklik kan ry.

Katrien se reis na haar verlede, is baie meer as die ontdekking van hoe haar verlede haar menswees gerig het. Die leser maak die reis mee as ’n eie pad wat gemaak word. Ons lees van haar lewe as padkampkind, en deur haar reis leer ken ons haar, haar eie verhouding met haar kinders en haar man, en ook haar eie onvermoëns. Sy sien haar paadjies letterlik toegegroei na die huise waar sy as kind gewoon het, en moet onderskei tussen verbeelde werklikheid en haar realiteit. Haar dogter Juli som haar ma se verbeelding mooi op: “Op die ou end skraap ma net ’n klomp verbeelde goed op ’n hoop.”

Sy leer ken die traumas waardeur haar pa gegaan het, en ontwikkel begrip vir haar ma se patologie en hoe dit haar ouers se verhouding affekteer. As kind het sy gevoel haar ma sny haar vlerke af, maar haar eie verhouding met haar dogters is ook nie perfek nie. Die boek laat my besef hoe ons ook maar ons eie onvermoëns aan ons ouers wil toeskryf, en veilig voel as ons kan vasklou aan die bande van die verlede.

 

Katrien sien haarself ook as ’n soort padmaker, en sy onthou haar pa se woorde, “Padmaak is ’n saamwerkding.” Haar eie optrede laat soms min ruimte vir ander, haar optrede teenoor man, kinders, en ook ander mense. Katrien leef op haar eie eilandjie. Is dit ook ’n teken van wat haar pa gesê het: “Liefde is soos ’n aflosstokkie, my kind. ’n Menskandit nie vorentoe aangee as jy dit nie gekry het nie.” ’n Baie hartseer aspek van die boek, is die wete dat beste bedoelings nie altyd so verstaan word nie, en soms ook onverdiend gestraf word. So is die lewe mos ook maar.

Op haar reis kom haar pa se woorde na haar toe terug, is dit vir haar ’n inspirasie.
“Sien jy,” het hy gesê, “as ’n mens mooi luister, hoor jy watter taal die wêreld rondom jou praat.” En: “Kyk ’n bietjie rondom jou, Katrien, daar is soveel dinge wat vooraf moet gebeur, wat net reg moet loop om die stuk pad eindelik begaanbaar te maak.”

As ons padmaker Japie Badenhorst se woorde ter harte neem, sal ons daardie lewenslesse met vrug op ons eie lewens kan toepas. As ’n mens mooi luister, hoor jy watter taal die wêreld rondom jou praat. Inderdaad, ja.

2 Kommentaar

Lewer Kommentaar
  1. Marile Cloete / Okt 29 2011 7:49 vm
  2. MaanKind / Okt 29 2011 8:08 vm

    Dankie, Marile! Ek gaan dadelik lees!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 744 other followers

%d bloggers like this: